Sy kan nou doen met ’n yskoue bier in haar lugverkoelde woonstel voor die platskerm-TV wat nie terugpraat en baklei nie, dink Amorien en sluit die kattebak sonder moeite oop. Ook die enigste deur van die kar wat nie moeilikheid gee nie
Deur ANZEL MANS
Amorien tik-tik ongeduldig met haar voet op die vloer. Hoe moeilik kan dit nou wees om ’n Kersboom uit te soek?
“Jy moet gou maak, Bianca,” dreig Amorien haar dogter wat steeds nie kan besluit watter boom sy wil hê nie.
“Jaaaaa, Ma!” koggel Bianca haar en hou twee bome sommer so aan die stam in die lug. “Ek hou van albei,” maak sy dan trots haar aankondiging, kyk dan afwagtend na Amorien.
Amorien asem diep in. “My kind…” begin sy, bly dan stil, wonder skielik hoekom sy so ongeduldig is? Is dit haar kind se onvermoë om ’n Kersboom te kies, of die verdekselse vreemdeling wat haar netnou amper uit hierdie leeftyd gery het?
“Dis vir ’n goeie doel, Ma! Ma moet dit sien as ons goeie daad vir die jaar. Die kinders by die kinderhuis gaan dit geniet. Ek belowe. Ag toe, Ma?” trek Bianca Amorien se aandag pleitend terug na die hede.
“Goeie doel se voet,” grom Amorien binnensmonds en vat die groen boom vas, amper dieselfde groen as die man met die silwer by sy slape se oë, dink sy dan en skud haar kop. Sy moet die man uit haar kop kry. “Watter een is die goedkoopste?” vra sy dan en beloer die takke op die boom. Sy moet fokus.
“Dit kos dieselfde, Ma. Ek dink egter die wit een gaan beter werk. ’n Wit Kersfees!”
“Dink jy?” vra Amorien weer en kyk maar skepties na die effe wit boompie in Bianca se arms. Dit lyk so lendelam. Die groen een lyk beter. Soos die mooi man se oë.
“Fokus!” Te hel met die mooi man en sy mooi groen oë, dink sy dan en plak die groen boom terug op die rak. Sy het nie nou die komplikasies van ’n man in haar lewe nodig nie; inteendeel, hulle kom mooi reg sonder ’n man in hul lewe.
“Ma!” roep haar dogter en rol haar oë.
“Hoe lyk dit my Ma het muisneste?”
Amorien verstik amper in haar eie spoeg, kyk geamuseerd na haar dogter wat nou kraai van die lag. “Meisiekind, jou dae op die aarde is getel!” dreig sy gemaak ernstig met ’n glimlag en vou die kind onder haar blad vas. “Nou toe. Kom ons gaan kry die versierings sodat ons kan ry. Ek is gatlam vir die winkels.”
LEES OOK: Kortverhaal: Dit gebeur op kersdag
’n Halfuur later kom hulle al sukkelende by haar klein karretjie aan. Die Kersboom hopeloos te lank en groot vir die kattebak. Bianca skuif die boom geduldig deur die venster van die agtersitplekdeur, wat al vir die laaste honderd jaar nie meer kan oop nie.
“Kom Bianca, ek is haastig,” raas Amorien ongeduldig, haar binneste ’n groot bol geïrriteerdheid. Sy is nou sommer omgekrap oor alles. Veral toe sy weer die blou verfstreep teen haar karretjie se bakwerk sien waar die mooi man haar met sy dubbelkajuitbakkie geskuur het. Kompleet soos ’n blou kol.
“Nie eens die ordentlikheid gehad om verskoning te vra nie,” brom sy en klim vies in haar kar en klap die deur toe.
“Ek dink dis tyd dat ons vir Ma ’n man kry,” sê Bianca droog toe sy ook by die kar insukkel en kop eerste by die venster ingly. “Dan kan ons hierdie dom kar van Ma regkry. Ek raak nou te groot om deur die venster in te klim.
Jimmel!” steun sy en beland so te sê op Amorien se skoot, voete nog by die venster uit. “Help, Ma!” roep sy rooi in die gesig uit, juis toe ’n paar jong seuns laggend verby die kar loop.
Amorien kry lag en stoei saam totdat Bianca behoorlik in haar sitplek sit, haar bol krulle nou woes en wild om haar rooi gesiggie.
“Dis nie snaaks nie, Ma!” raas sy en vou haar arms oor haar bors, kyk vies by die einste venster uit waardeur sy vroeër moes sukkel.
“Ek lag nie,” terg Amorien vroom en draai die sleutel in die aansitter.
Dood.
Sy maak haar oë styf toe en bid. Dan draai sy weer die sleutel. Die kar hik-hik so amper aan die gang, vrek dan weer.
“Ek sê weer,” begin Bianca terwyl sy haarself met haar hand probeer koel waai.
“Ons moet vir Ma ’n man kry.”
“Ag sjarrap!” Amorien voel hoe die sweet haar aftap. Somer in Upington is nie vir sissies nie. “Ons het nie ’n man nodig nie. Ons kan self regkom.”
Weer draai sy die sleutel en weer grom haar karretjie ontevrede voor dit dood hik.
“Is Ma seker?”
Amorien draai die sleutel en wroem!
“Halleluja!” roep Amorien uit en kyk na Bianca. “Ek het jou gesê ons het nie ’n man nodig nie,” sê sy verheug en voel soos ’n oorwinnaar.
“Whatever, Ma. Ry net. Ons gaan laat wees.”
Dis met ’n groot gestoei dat hulle later die boom uit die kar sukkel. Dis twaalfuur en oor die veertig grade in die dorp. Hygwarm.
“Sal Ma asseblief die versierings kry?” vra Bianca terwyl sy die boom vir enige skade bekyk, duidelik onaangeraak deur die hitte wat dreig om Amorien te laat smelt. Sy kan nou doen met ’n yskoue bier in haar lugverkoelde woonstel voor die platskerm- TV wat nie terugpraat en baklei nie, dink Amorien en sluit die kattebak sonder moeite oop. Ook die enigste deur van die kar wat nie moeilikheid gee nie.
LEES OOK: Kortverhaal: Servaas se kersspel
Sy tel die sak versierings op en klap die kattebak se deur toe. “Nou toe, kom ons gaan in. Hoe gouer ons dit verby kry, hoe gouer kan ons by die huis kom,” begin sy praat, stop dan skielik.
“Bianca, het ek die kar se sleutels vir jou gegee?” Bianca frons en skud haar kop. “Nee, Ma. Ma het dit dan gebruik om die kattebak oop te sluit?”
“Maar ek het dit dan nie nou nie …” voelvoel sy deur haar broeksakke, pluk dan die plastieksak met versierings oop. Niks. Sy buk vooroor en loer onder die kar in of sy dit nie dalk laat val het nie. “Bianca, help tog gou! Ons kan nie ingaan sonder die sleutels nie …”
“Kan ek dalk help?” vra ’n vreemde manstem agter haar.
Amorien ruk verskrik regop en kap haar kop teen die sleepstang. “Eina, man! Vir wat laat jy ‘n mens so skrik,” raas sy en sukkel regop. Sy vryf oor die dreigende knop op haar kop en kyk op. Verstar. Daardie groen oë …
“Ek is jammer,” begin hy in sy rasperstem, strelend oor haar beseerde ego en kloppende kop. “Ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie. Kan ek dalk help?” vra hy dan weer en kyk skewekop na Amorien wat nou met haar boude teen die kar se kattebak leun, ’n glimlag op sy mooi bakkies.
“Jy!”
“My ma het die kar se sleutels verloor,” sê Bianca met ’n grinnik.
Amorien weet nie of sy moet lag of huil nie. Dat hy haar in so ’n onvleiende posisie onder die kar moes sien, en dit nadat hy haar kar gestamp het! “
Kom ons kyk …” antwoord hy met ’n geamuseerde blik in Amorien se rigting, buk dan ook en loer onder die kar in. “Dis nie hier nie. Het jy in jou pakkies gekyk?” vra hy dan en kom regop, stof sy hande teen die agterkant van sy denim af.
“Ek het, ja,” antwoord Amorien nou verleë. Die man probeer net gaaf wees, dink sy. Maar hy het jou kar potblou gestamp! raas die duiwel met die engeltjie op die ander skouer.
Dan begin die man lag. Onbedaarlik.
“Wat lag jy?” vra Amorien verbouereerd en bekyk haarself van bo af. Geen vuil kolle of gate in haar klere wat sy kan sien nie. Haar maag knoop styf van sy lag. “Die sleutels …” dwing hy homself tot kalmte, lag dan weer.
“Die sleutels is aan jou vinger.” Hy vat die pakkie uit haar hand en trek die sleutels van haar vinger af. Rillings trek deur haar lyf tot by haar tone toe sy vingerpunte aan haar raak.
Geen ring aan die vinger nie, merk Amorien op. Sy vergeet van die blou stamp teen haar kar. “Ai, waar is my kop …” begin sy en voel hoe haar wange warm word. Waar ìs haar kop? Sy is veronderstel om vir hom kwaad te wees, nie oor sy aanraking te kwyl nie!
“My naam is PJ, by the way,” antwoord hy met ’n groot glimlag en steek sy hand na haar toe uit, trek haar regop. “Is julle ook op pad na die kinderhuis se Kerspartytjie?”
Amorien knik verdwaas en begin hom volg. Dat sy nou so ’n bohaai opgeskop het oor ’n skrapie op haar kar wat uit Noag se dae dateer.
“Dis goed. Ons moet nog gesels oor die stamp teen jou kar en …”
Amorien luister lankal nie meer nie, volg die man net soos ’n skaap. Sy voel ’n hou in haar sy en kyk na Bianca, sien die pretliggies in haar dogter se blou oë dans.
“Ek het Ma mos gesê Ma het ’n man nodig …”