Teen skemer gewaar sy weer beweging in die tuin langsaan: die kinders en die oupa, elkeen met ’n koffer in die hand. Die oppasser bly alleen agter, wuiwend. Net voor hulle in die motor klim, hardloop die kleindogter terug die huis in. Sy kom uit, kat in die arms
Deur TARINA JORDAAN
Die bure trek in toe die bome se blare verkleur. Jacolien hou die nuwe intrekkers van ’n sonkol op haar voorstoep af dop. Haar vingers ken die pad deur die patroon waarmee sy besig is. Vir ’n oomblik hou sy op hekel en trek haar trui stywer om haar lyf.’n Man in sy laatdertigs. ’n Seun van so twaalf, ’n meisiekind van omtrent sewe en ’n wankelbeenseuntjie met ’n doek wat laag tussen sy bene hang. Almal blond. Agter die baba loop ’n vrou met ’n kopdoek. Sy hou die kleintjie met valkoë dop. Hy struikel. Sy vang hom voordat hy op sy snotbesmeerde gesig val.
Die kinderoppasser, dus. Geen teken van ’n ma nie. Die buurman en die seun laai self die bokse en verinneweerde meubels van ’n gehuurde trokkie af. Almal help, behalwe die meisiekind wat nou na die baba moet kyk. Die huurwa is gou leeg; blykbaar nie veel besittings nie. Teen die tyd dat die eerste herfsblare val, ken Jacolien reeds die gesin se roetine. Vroegdag vertrek die buurman werk toe. Dan verskyn die kinderoppasser met die baba op haar rug, en sy loop saam met die ander twee skool toe. Dis nie ver laerskool toe nie. Sy is gou weer tuis, en kort voor lank volg geure van kookkos vir middagete. Soms bly die buurman dae lank weg. Soms ’n hele week. Watse werk sou hy doen dat hy sy kinders so alleen by die oppasser los? Waar is die ma? Vandag oefen Jacolien ’n nuwe weeftegniek wat sy op ’n aanlyn videokanaal gesien het. Sy weef ’n jas vir iemand se skoothondjie. Partykeer vra die troeteldierwinkel haar om iets spesiaals vir ’n kliënt te maak. Die patroon is dieselfde as ’n trui vir ’n peuter. Party mense se vierpotiges is mos kinders. Jacolien verstaan. Sy wil steeds huil wanneer sy aan hul kat dink wat deur ’n losloperhond doodgebyt is. Frik wou niks weet van nog ’n troeteldier kry nie. “My magtig, Lien, kyk na ons. Oud en gedaan. Fielies was 16. As ons nou nog een kry, oorleef hy óns dalk. Wat gaan dan van hom word? Wie gaan na hom kyk as ons ouetehuis toe moet gaan?” Smeek het niks gehelp nie. Vir Frik was Fielies die laaste, en basta.
Winter verf die grasperk vaalgeel. Rook van ’n veldbrand hang in die lug. Die meisie kom verbygestap – haar swaar skoolsak trek haar rug skoon krom. In haar hande hou sy ’n skoendoos vas. Gate in die deksel, sien Jacolien. Sywurms? Sy sit die doos versigtig op die grasperk neer en haak dan die tas van haar rug af. Oor die lae grensmuur hoor Jacolien die kind se paaiende stem. Sy laat los die weefnaald en loer oor die muur. ’n Bewende, gemmerkleurige bondel miaau saggies in die kind se arms. Al paaiend vryf die dogter oor die dier se rug. Sy is te maer, dink Jacolien. Wat gee die oppasser tog vir hulle om te eet? Namate die winterweke voortsleep, word die donsige bondel ’n tienerkat met lang bene wat stilletjies in Frik se tuin kom sprinkane jag. Partymaal aas die dier op ’n veilige afstand wanneer Jacolien eet. Hy sluip sommer so by die kombuisdeur in, asof hy daar woon, maar bly naby die deur sit vir ingeval hy vinnig moet skoert. Arme ding is seker nooit ontwurm nie. Jacolien sien nie meer die buurman nie, maar die kinders is nog daar.
Nog ’n hondejasbestelling is byna klaar toe die oppasser voor hul tuinhekkie kom staan. Die vrou vryf haar hande, koud en verleë. “Mevrou, jammer om te pla. Die meneer, hy is nou al lank weg. Die grocery-geld is op en die kombuiskaste leeg. Het Mevrou dalk brood en jêm? En melk? Die kinders, hulle moet eet. Mevrou, daar is niks en ek weet nie wie om te vra nie.” Jacolien vryf haar nek terwyl sy die woorde verteer. “Hoe lank is die meneer al weg?” Die vrou dink ’n oomblik. “Hy was laas hier early June.” Dus drie weke laas. “Kom binne, ek gee vir jou goed. Die kinders kan nie net brood en konfyt eet nie.” Sy gaan haal ’n Checkerssak en pak ’n halwe brood, ontbytpap, melk, suiker, gevriesde wors en ’n pak gemengde groente daarin. “Jy kom roep my weer as julle niks kos het nie. Het jy die meneer se telefoonnommer?” “Ja, maar hy het nie sy phone betaal nie en toe sny hulle die ding af. Ek kry hom nie in die hande nie.” Jacolien loop saam tot by die tuinhekkie. Ingedagte staan sy, arms op die gietysterraam, nog lank nadat die vrou weg is. Die buurman is soek en die kinders sonder kos. Hoe lank moet mens in so ’n geval wag voordat jy dit by die welsyn moet aanmeld? Het sy ooit die reg om so iets te doen? Sy wag nog twee dae, totdat die oppasser weer op hul voorstoep kom staan. Sy stuur haar weg met kos. Jacolien soek die welsyn se nommer en bel.
Die volgende middag stop ’n Volkswagen Polo in die oprit langsaan. ’n Jong vrou in ’n mooi rok klim uit en verdwyn by die huis in nadat die oppasser die deur oopgemaak het. Laatmiddag eers ry sy weg. Nog ’n paar dae tik verby. Die skoolvakansie breek aan en die oudste twee speel buite met die baba. Jacolien sien hoe ’n ou Mercedes in die oprit langsaan stilhou. ’n Seningrige man van haar en Frik se jare klim uit. Te oordeel na die kinders se reaksie, moet dit hul oupa wees. Dan sluk die huis hulle almal in. Die gemmerkat spring verskrik oor die muur en skuil onder Frik se jasmynbos, blykbaar skugter vir die besoeker. Jacolien sit ’n piering melk op die grasperk neer. Die kat sluip nader en drink gulsig. Toe die piering leeg is, skuur hy ligweg teen Jacolien se bene voordat hy weer oor die muur spring. Teen skemer gewaar sy weer beweging in die tuin langsaan: die kinders en die oupa, elkeen met ’n koffer in die hand. Die oppasser bly alleen agter, wuiwend. Net voor hulle in die motor klim, hardloop die kleindogter terug die huis in. Sy kom uit, kat in die arms. Die dier word in die kattebak gelaai en die Mercedes ry weg stad se kant toe. Jacolien hou die straat die res van die week fyn dop. Geen teken van iemand wat terugkom nie, ook nie die buurman nie. Mettertyd sien sy die oppasser die voordeur sluit, voordat sy straat toe loop en ’n taxi naderwink. Dan verdwyn sy ook. Die huis langsaan word ’n verlate plek.
Frik is die eerste een wat ’n dag of wat later die vreemde gedoente aanskou. Hy roep Jacolien nader. Weer die Mercedes in die oprit langsaan. Die oupa is alleen in die motor. Hy klim uit, maak die kattebak oop en die gemmerkat spring verwilderd uit. Dan haal die ouman ’n sak droë katkos uit en laat dit op die grasperk agter. Met ’n laaste skuldige blik na die kat, klim hy terug in die motor. “Wat maak die man tog?” brom Frik terwyl die man wegry. “Hier’s mos niemand om na die kat om te sien nie.” Jacolien bly vir ’n oomblik stil. “Hy gooi die kat weg, net soos die kinders se pa hulle weggegooi het.” “Wat besiel ’n mens om so iets te doen?” “Kyk na hom, Frik. Hy kry waarskynlik ’n karige staatspensioen. Soos ons. Maar anders as ons, het hy nou drie ekstra monde om te voed.” Net toe gewaar die kat hulle. Soos blits is hy oor die muur. Ekstaties skuur sy teen Jacolien se bene. Sy tel dan die spinnende bondel op en kyk Frik vas in die oë. “Hy word nou ons s’n.” Frik sug en kyk streng na haar. “Dis nie ons kat nie, Lien.” Jacolien is egter net bewus van die vibrasie teen haar bors. “Hy wás miskien nie ons kat nie, maar nou ís hy. En basta met te oud!” Frik ken die verbete trek om haar mond. Dan stap hy gelate om die sak katkos te gaan haal.