Met die uitbreek van nuwe siektes, is daar ongelukkig dikwels mites wat die rondte doen. Ons kyk na die mites en vind uit wat die feite is
As jy dit het, het jy simptome
Jy kan besmet wees sonder dat jy dit besef. Daar is mense wat asimptomaties is en dus geen simptome toon nie. Hierdie mense kan steeds die siekte oordra al het hulle geen simptome nie, sê dr Michael Osterholm verbonde aan die Universiteit van Minnesota op https://edition.cnn.com/
Gesigmaskers kan jou teen Covid-19 beskerm
Standaard-gesigmaskers bied nie beskerming teen die virus nie, aldus www.livescience.com. Klein virusgedeeltes kan die materiaal penetreer en druppels kan steeds die oë of mond bereik. As jy siek is, kan dit wel keer dat jy iemand anders besmet. Sekere modelle van maskers soos die N95 kan gesondheidswerkers beskerm.
Chloor of alkohol kan virusse in die liggaam doodmaak
Alkohol of chloor kan nie virusse in die liggaam doodmaak nie, volgens www.medicalnews.today. Dit kan wel gebruik word om oppervlaktes te ontsmet, maar moenie op die vel gebruik word nie.
Slegs bejaardes word siek daarvan
Nes enige van die ander koronavirusse, kan hierdie virus enige mens siek maak. Ja, dit is mense met ander gesondheidstoestande soos diabetes of asma wat sieker as die res word en mense met ‘n swak immuniteitstelsel wat die grootste risiko dra. Enige ouderdomsgroep kan geraak word en kinders is ook nie immuun daarteen nie. Volgens www.medicalnews.today wil dit egter voorkom asof die simptome by kinders minder ernstig is.
Covid-19 is nes gewone griep
Daar is griepverwante simptome soos liggaamspyn, koors en hoes. Covid-19 en griep kan lig, ernstig of fataal wees en albei kan tot longontsteking lei. Dit lyk egter of die algehele profiel van Covid-19 ernstiger as griep is, sê MedicalNews.
Troeteldiere kan die virus versprei
Daar is geen bewyse dat hierdie siekte deur honde en katte oorgedra kan word nie, sê www.livescience.com In Hongkong het ‘n hondjie wel ‘n laergraadbesmetting by sy eienaar gekry, maar geen simptome gehad nie.
Jy is baie minder geneig om hierdie virus as griep te kry
Onwaar, sê www.livescience.com. Wetenskaplikes voorspel dat elke besmette mens omtrent 2,2 mense sal besmet terwyl griep se syfer slegs 1,3 is.
Handdroërs maak die virus dood
Dit is onwaar – die beste manier om jouself te beskerm, is deur jou hande met seep en water of ‘n goeie handontsmettingsmiddel te was.
Covid-19 is ‘n vorm van verkoue
Die koronavirusse is ‘n groot familie van virusse waarvan almal proteïene op die oppervlak het. Van hierdie virusse gebruik mense as hul gasheer en veroorsaak verkoue. Ander koronavirusse soos Covid-19 besmet diere. MERS en SARS het in diere begin en is na mense oorgedra.
Soutoplossing kan jou beskerm
Daar is geen bewyse dat ‘n neusspuit van soutoplossing jou teen respiratoriese siektes kan beskerm nie, aldus www.medicalnews.today. Daar is nog nie voldoende bewyse dat dit werklik die risiko van siektes kan verminder nie.
Bleikmiddel kan jou beskerm
Daar is selfs mense wat dink as hulle bleikmiddel gorrel, sal dit die virus doodmaak. Bleikmiddel is nie geskik vir menslike inname nie en is baie gevaarlik.
Antibiotika kan die virus doodmaak
Antibiotika maak bakterieë dood en nie virusse nie.
Skandeerders kan die virus uitwys
Hierdie tipe skandeerders kan optel as iemand ‘n koors het, maar koors kan deur talle toestande veroorsaak word. Die simptome van Covid-19 kan ook eers twee tot tien dae ná besmetting te voorskyn kan. Iemand met die virus kan dus vir ‘n paar dae ‘n normale temperatuur hê voor ‘n koors begin.
Pakkies van China kan vir jou die virus gee
Vorige navorsing oor soortgelyke koronavirusse, soos dié wat SARS en MERS veroorsaak het, toon dat die virusse nie vir ‘n lang tyd op briewe of pakkies kan oorleef nie. Volgens www.hopkinsmedicine.org is daar geen bewyse dat die virus dae of weke van verskeping gaan oorleef nie.
Die virus sal nie in gematigde temperatuur oorleef nie
Sommige virusse versprei makliker in die kouer maande, maar dit beteken nie noodwendig dat dit gaan stop as dit in sekere gebiede warmer word nie. Daar is reeds talle gevalle daarvan in die Suidelike Halfrond, wat tans gematigde temperature beleef.
Dis die dodelikste virus nog
Hoewel dit wil voorkom asof hierdie tipe virus ernstiger as griep is, is daar ander virusse soos Ebola wat ‘n hoër sterftekoers het.
Gewone griepentstowwe sal dit voorkom
Omdat dit ‘n ander virus is, is daar geen bestaande entstof wat nou doeltreffend teen Covid-19 is nie.
Vitamien C kan die virus voorkom of beveg
Hoewel hierdie vitamien goed vir die immuniteitstelsel is, is daar nie bewyse dat dit verkoue, griep of Covid-19 kan voorkom of beveg nie, sê prof Peter McCaffery, verbonde aan die Universiteit van Aberdeen, op die webwerf www.theconversation.com.
Die virus kom uit ‘n laboratorium
Daar is geen bewyse dat hierdie virus mensgemaak is nie, sê www.hopkinsmedicine.org. Virusse verander oor tyd en uitbrake gebeur dikwels as die virus veranderings in hul diergasheer ondergaan en dan na mense oorgedra word. Wetenskaplikes glo dis wat met Covid-19 gebeur het.
Jy sal weet as jy dit het
Covid-19 het ‘n reeks simptome wat baie dieselfde as griep en verkoue is en kan dus maklik verwar word. Dis nodig om getoets te word.
Dis ‘n feit
Beskerm jouself deur kontak met mense wat siek is te vermy, moenie aan jou oë, neus of mond vat nie, bly by die huis as jy siek is, nies in ‘n snesie en gooi dit dan weg, ontsmet voorwerpe en oppervlaktes gereeld en was jou hande vir minstens 20 sekondes met seep.
Bronne: www.theconversation.com, www.medicalnewstoday.com www.hopkinsmedicine.org, www.livescience.com, https://edition.cnn.com/
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.