Die koronavirus het ongelukkig ook tot baie wolhaarstories gelei. Hierdie wolhaarstories is onwettig en kan tog groot probleme vir jou lei, skryf Christelle du Toit
Fopnuus is ’n begrip wat die meeste Suid-Afrikaners ken, hoewel dit tot dese meestal met politieke verwikkelinge geassosieer was.Met die wêreld wat sukkel om die Covid- 19-virus hok te slaan, het fopnuus egter ’n nuwe baadjie aangetrek met paniek en angs wat wyd versprei word, grootliks aan fopnuus te wyte. As deel van die regering se rampmaatreëls wat in plek gestel is, is fopnuus oor die virus gekriminaliseer, ’n aanduiding van hoe gevaarlik fopnuus kan wees. Sosiale-media-platforms soos Facebook het reeds voor die uitbraak probeer om fopnuus hok te slaan. Met die nuus oor die koronavirus wat soos ’n veldbrand versprei, het fopnuus oor die virus egter ook ontplof met van swak mediese raad tot misleidende inligting oor die stand van sake in verskeie dele van die wêreld wat wyd versprei word.
Die resultaat was paniek, met mense wat in winkels oor toiletpapier in vuisgevegte betrokke geraak het en in groot maat paniekaankope gemaak het. Arthur Goldstuck, die stigter van die navorsingsmaatskappy Word Wide Worx en skrywer van ses boeke oor stadslegendes, sê enige krisistyd lei outomaties tot ’n toename in fopnuus en wolhaarstories. “Fopnuus floreer op webwerwe wat voorgee om geldige inligtingsbronne te wees, maar nie is nie,” verduidelik hy. “Hul hoofdoel is om aanlyn verkeer aan te moedig om geld uit advertensies te maak.” Hy sê daar is gevalle waar fopnuuswebwerwe vir politiese redes gestig is, maar vir die meeste is die doel bloot om geld te maak. “Omdat daar soveel vrees rondom die Covid-10-uitbraak is, vind fopnuus vrugbare grond.
Ons sien dit elke keer in tye van paniek,” sê hy. Arthur het ’n boek geskryf oor stadslegendes en gerugte wat ten tyde van die 1994-verkiesing die rondte gedoen het en sê daar is treffende ooreenkomste met die hedendaagse paniek. Die verskil is nou egter dat gerugte, onwaarhede en fopnuus baie makliker en vinniger via sosiale media versprei kan word. “Sosiale media is nou die primêre kanaal van fopnuus, maar fopnuus leef eintlik op webwerwe wat spesifiek vir daardie doel geskep is.” Die voormalige sakekorrespondent by CNN Ali Velshi verduidelik ook dat fopnuus nie dieselfde as onakkurate nuus is nie. “As die bedoeling nie is om te mislei nie, dink ek nie dit tel as fopnuus nie,” sê Ali. “Daar is fopnuus en dit word versprei deur ’n wolf in joernalistieke klere. En die wolf wil jou laat glo dat die regte nuus eintlik die fopnuus is,” verduidelik hy.
Volgens Ali stel fopnuus dit ten doel om gevestigde en gerespekteerde mediahuise te laat lyk asof hulle op net sekere aspekte van ’n storie verslag lewer en van die man op die straat se daaglikse realiteit verwyder is. “Tradisionele joernalistiek het sy probleme en ons het ’n paar dinge waaraan ons moet werk, maar ek is bekommerd dat fopnuus ons die baba saam met die badwater laat uitgooi. Dit is gevaarlik, want ons is in ’n unieke posisie om mense in mag aanspreeklik te hou.” Hy hou voet by stuk: “Sogenaamde ‘alternatiewe feite’ is nie feite nie.” Hy sê die probleem met fopnuus is nie net dat dit mense verwar nie, maar dit ook vir hulle moeiliker maak om regte nuus te herken. “Fopnuus oordonder regte nuus,” sê Ali. “Dit saai verwarring wat basiese feite verdoesel en nodige debatte inperk.”
Dit is ’n misdaad
Die regeringsmaatreëls wat na aanleiding van die Covid-19-uitbraak ingestel is, sê onder meer: “Enige persoon wat enige stelling deur enige medium, insluitende sosiale media, publiseer met die bedoeling om ’n ander persoon te mislei oor die virus, ’n persoon se Covid-19,-status, of enige maatreël wat deur die regering getref word met betrekking tor Covid-19. is skuldig aan ’n oortreding en is aanspreeklik vir ’n boete, of tronkstraf vir nie meer as ses maande nie, of ’n boete en tronkstraf.”
Phumla Williams van die regeringskommunikasie en inligtingsdiens (RKID) verduidelik dat die Suid-Afrikaanse regering nog altyd uitgesproke was teenoor fopnuus en dat dit in die algemeen nie aanvaarbaar is om misleidende inligting te deel nie. Sy voeg egter by: “In die spesifieke geval wil ons graag sê dat dit ’n baie ernstige saak is om Suid-Afrikaners te mislei. Fopnuus kan daartoe lei dat mense byvoorbeeld dink die situasie is nie ernstig nie en dat hulle nie hul hande hoef te was nie, wat baie gevaarlik is. Dit is hoekom dit ’n misdaad word om vals inligting te publiseer.” Phumla voeg by: “Ons rig ’n pleidooi tot mense om tydens die pandemie die regte ding te doen en te verseker dat ons Suid- Afrikaners se lewens kan red en keer dat die pandemie toeneem.”
Die impak van fopnuus
Johan Reynecke van Linda’s Bake and Pack in Westdene, Johannesburg, sê besigheid het met die uitbraak skerp afgeneem. Hy meen dat Suid-Afrikaners die virus sal oorleef, maar nie noodwendig die ekonomiese krisis wat wag nie. Hy glo ook baie van die paniek word deur boodskappe op WhatsApp en sosiale media aangeblaas, wat onnodige angs veroorsaak. “Dit het nog goed gegaan tot Dinsdag (die dag voor skole gesluit het) toe die beurs ook so geval het – dit gaan oor vertroue. Mense het nie vertroue nie en almal sien hoe word hul pensioenfondse minder en hul beleggings daal,” sê Johan. “Dit trek vinnig deur na die publiek toe en daar heers onsekerheid en ’n benoudheid.” Hy verduidelik verder: “Een man het my gebel en gesê om die pakkie vir hom gereed te kry, hy sal dit by die deur kry en die geld daar vir my gee. Daar heers groot vrees.”
Ali wys daarop dat die beste manier om nie fopnuus te versprei nie is om dit in die eerste plek nie te lees nie. “Vertrou en ondersteun tradisionele joernalistiek wat aan navorsing en die bevestiging van feite toegewy is.” Hy raai ook aan dat mense feite moet bevestig, iets wat met aanlyn hulpbronne maklik is. Hy wys daarop dat nuus wat van gevestigde mediahuise afkomstig is oor die algemeen betroubaar is, veral as meer as een mediahuis dieselfde inligting rapporteer. “Fopnuusverspreiders maak daarop staat dat mense lui is en eerder sensasionele nuus sal deel as om die geldigheid van regte nuus na te gaan,” sê Ali. “Ek sê nie jy moet alles glo wat die gevestigde media jou vertel nie, maar ek sal dit ernstiger oorweeg as inligting van ’n onbevestigde bron af,” verduidelik hy. Hy sê dis ook baie belangrik dat mense ophou om fopnuus te deel.
“Fopnuus groei eksponensieel omdat mense dit deel of omdat dit wat hulle glo bekragtig, of omdat hulle nie weet dit is nie waar nie,” verduidelik hy. Arthur sê: “As jy ’n dramatiese storie teëkom, kyk na wie die bron is. As dit ’n webwerf is waarvan jy nog nooit gehoor het nie, is dit waarskynlik fopnuus.” Hy verduidelik verder dat as mens die opskrif van die artikel of die eerste paragraaf in Google intik, dit sal wys wie anders die storie dra. ’n Klinkklare toets volgens Arthur is dat stories wat jou vra om dit met soveel mense as moontlik te deel gewoonlik fopnuus is. “Dit is nie hoe die media werk nie en ook nie hoe amptelike waarskuwings werk nie – dit was nog altyd die reël dat dit fopnuus is as ’n artikel vra dat jy dit met almal moet deel,” sê hy. Ali raai verder aan: “Hou jou vriende wat fopnuus deel aanspreeklik – maak seker dat hulle dit nie doen nie.
Daar is sensasionele goed op die internet en soveel as wat jy dit wil glo en deel, is jy verantwoordelik as jy dit deel en dit is nie waar nie. In ’n wêreld waar jou reputasie dikwels op sosiale media geoordeel word, wil jy nie as iemand bekend staan wat fopnuus versprei nie. Mense sal jou nie meer vertrou nie en ook nie die inligting wat jy deel nie.” Ali sê: “Joernalistiek is ’n ernstige besigheid. Jy moet verstaan hoe om dit te verbruik en hoe om dit te kruisbevestig, maar jy moet sekere goed vertrou.” Hy wys daarop dat gevestigde mediahuise verskillende tegnieke gebruik om feite te bevestig, maar die meeste sal ten minste daarop aandring dat inligting van twee onafhanklike, betroubare bronne bekom moet word of andersins van een baie hoogaangeskrewe bron af. “Is die bron wat jy gebruik ewe deeglik?” vra hy.
Voorbeelde van fopnuus oor korona
’n Stemboodskap van ’n Suid-Afrikaanse “dokter” wat konsuis in Italië werk en sê die media en regering jok oor die omvang van die uitbraak in Suid-Afrika.
Boodskappe van ’n vermeende biologiese oorlog. Daar was selfs boodskappe oor ’n oorlog tussen Turkye en Italië.
Berigte dat die virus mensgemaak is en dat daar ’n plan is om 60% van die wêreldbevolking uit te wis.
Daar is ook talle fopnuus oor beweerde uitbrake in spesifieke omgewings.
Gaan feite na
Die Suid-Afrikaanse regering het ’n webwerf beskikbaar gestel met al die amptelike Covid- 19-inligting met betrekking tot Suid-Afrika: https://www.gov.za/Coronavirus Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NI OS) se amptelike webwerf: www. nicd.ac.za Die WêreldGesondheidsorganisasie (WGO) se Covid-19-bladsy: https://www.who.int/healthtopics/ coronavirus Die WGO het ook ’n webbladsy wat fopnuus aan die kaak stel: https://www.who.int/emergencies/ diseases/novel-coronavirus-2019/ advice-for-public/myth-busters Die webwerf www.snopes.com stel ook fopnuus oor die wêreld aan die kaak. Gaan inligting by Africa Check na: https:// africacheck.org/ Arthur Goldstuck se webwerf www.urbanlegends.org het ’n afdeling oor hoe om te voorkom dat jy deur ’n stadslegende gevang word.