Die Stellenbosch wynlandgoed, Kleine Zalze, het onlangs sy 20ste verjaardag by Terroir restaurant op die landgoed gevier, maar ook ‘n glas MCC geklink op die uitsonderlike prestasies wat die plaas die afgelope paar maande gehad het.
Maryke Roberts
Hoewel hierdie Stellenbosse produsent wat in familiebesit is, meer gereken word vir sy wêreldklas Cabernet Sauvignon en Chenin Blanc, is dit die landgoed se Chardonnay wat die afgelope paar maande die kollig steel.
By die 23ste jaarlikse Chardonnay du Monde-kompetisie, wat by Château des Ravatys in die hartjie van Boergondië gehou is, is meer as 780 wyne van 30 lande deur ‘n uitgelese paneel internasionale beoordelaars evalueer. Nie alleen het die Kleine Zalze’s Vineyard Selection Chardonnay 2015 ‘n gesogte goue medalje verower nie; dit was ook die enigste Suid-Afrikaanse inskrywing wat in die uitgelese Top 10 lys van wêreld-gesogte Chardonnays opgeneem is.
Intussen was die Kleine Zalze Cellar Selection Unwooded Chardonnay 2015 een van slegs drie Suid-Afrikaanse wyne wat by die Concours Mondial de Bruxelles met ‘n Grand goue medalje weggestap het. Verskeie ander medaljes is die afgelope paar maande – internasionaal sowel as plaaslik – aan die landgoed toegeken, waaronder die Nuwe Wêreld Produsent van die Jaar by die 2015 VK Sommelier Wyntoekennings.
“Ek glo wynmakers is bloot die opsigters van dit wat in die wingerd produseer word,” het Alastair Rimmer, Kleine Zalze se keldermeester, gesê. “Ons wyne bied die rykheid van vatverouderde Chardonnays, maar ons behou die wyn se varsheid, lewendigheid en ook die natuurlike suur, om die terroir te laat deurskemer.”
Passasiers op Air Canada, American Airlines, Virgin Atlantic en Delta Air Lines het almal al ‘n smakie van Kleine Zalze op 35 000 voet geniet. Die gelukkige handjievol wat Lufthansa se Eersteklas vlieg, kan die bekroonde Family Reserve Chenin Blanc 2015 geniet. En hier plaaslik sal hierdie Trots Suid-Afrikaanse landgoed regdeur die jaar vyf wyne aan boord van South African Airways-vlugte bied.
Anthony van Schalkwyk, bemarkingsbestuurder en RJ Botha, wynmaker by Kleine Zalze.
Kleine Zalze se eienaar en besturende direkteur, Kobus Basson by HUB van WOSA, Siobhan Thompson en wynbeoordelaar en -kenner, Duimpie Bayley.
Kleine Zalze se keldermeester, Alastair Rimmer (links) en Kleine Zalze se eienaar en besturende direkteur, Kobus Basson (regs, staande) vertel aan gaste meer oor hul planne vir die toekoms.
SOURCES
Clifford Roberts