Wonder jy dikwels wat in jou baba se kop aan die gang is? Veel meer as wat jy dalk vermoed, skryf Riëtte Grobler in ons 22 April-uitgawe. Ons kyk daar na die belangrikheid van vroeë kinderontwikkeling. Lees hier verder oor die waarde van saamspeel
Speel-speel vir saamspeel
Die brein is soos ’n orkes en die verskillende dele van die brein soos die musikante wat moet leer saamspeel, sê die kinderontwikkelingskenner en stigter van Practica, Lizette van Huyssteen.
Net soos elke instrument ’n unieke rol in die orkes speel, het elke deel van die brein ’n unieke funksie en moet elke deel leer om in verskillende kombinasies saam te werk om dinge te laat gebeur.
“Daar is onder meer ’n deel wat klein motoriese vaardighede beheer, ’n deel vir visuele persepsie en ’n deel vir taal,” verduidelik Lizette.
Sy beskryf die prefrontale lob, die voorste deel van jou brein, as die dirigent. “Hy is die een wat die hele spul laat saamwerk. Dié deel van die brein ontwikkel glad nie sonder stimulasie nie.
“Net soos die lede van ’n orkes moet leer watter instrumente moet saamspeel om jazz of country te speel, moet die dele van die brein leer om in verskillende kombinasies saam te werk as jy byvoorbeeld ’n bal wil skop.”
Vryspel (wanneer jou kind toegelaat word om op sy eie verbeeldingsvlugte te gaan) én voorskriftelike spel (wat opvoedkundige speletjies soos legkaarte insluit) bied net die regte soort stimulasie wat jou kind se brein benodig en moedig die ontwikkeling van uitvoerende funksie aan.
Volgens Lizette is die drie hoofdele van uitvoerende funksie werksgeheue, of om stappe te onthou; selfregulering, of die vermoë om jouself en jou emosies te beheer en op te tree soos van jou verwag word en aanpasbare denke.
Deur vryspel, soos wanneer kinders “huis-huis” speel, word die geleentheid vir jou kind geskep om sy verwysingsraamwerk toe te pas; te konsentreer en om te leer hoe om dinge stap vir stap te doen.
“Die opvoedkundige Lev Vygotsky het gesê die natuurlike manier vir kinders om aan reëls blootgestel te word, is deur vryspel,” sê Lizette.
“As Sannie byvoorbeeld maak asof sy ’n padda is, maak sy ’n klomp reëls wat bepaal hoe sy moet beweeg en klink as padda. Eerder as om te sing, sal sy kwaak en eerder as om soos ’n mens te loop, hop sy soos ’n padda.
“Die hele brein moet saamwerk om daardie stel reëls uit te leef.”
Op die beurt moedig voorskriftelike spel die ontwikkeling van uitvoerende funksie in alle opsigte aan.
“Stel jouself voor daar is ’n groep kinders in die klas en die juffrou vra almal om in ’n sirkel te gaan sit. Jannie moet begin deur te sê wat sy gunstelingkleur is en moet dan ’n bal na die volgende maatjie aangee. So leer die kind om stil te sit, aan te gee en te onthou wat hy moet sê.
“Maar gestel juffrou verander halfpad deur die speletjie die reëls en jy moet nou sê wat jou gunstelingkos is? Of die seuntjie voor jou laat val die bal? Dan moet jy die vermoë hê om aanpasbaar te wees.”
Lizette sê dit is belangrik dat ouers die regte omgewing tuis moet skep om sowel vryspel as voorskriftelike spel te akkommodeer.
“Moenie van jou kritieke rol as ouer vergeet nie – niemand anders gaan so lief wees vir jou kind en soveel aandag aan sy ontwikkeling gee soos jy nie.”