Sy debuut het hy op ’n jong ouderdom gemaak en op 20 het hy reeds 850 konserte in 28 verskillende lande op sy kerfstok gehad
Deur JOHAN MYBURG
Suid-Afrikaanse gehore het vandeesweek en volgende week geleentheid om minstens by drie geleenthede – in die Kaap, in KwaZulu-Natal en in Gauteng –met die spel van die Tsjeggiese pianis Lukáš Vondráček kennis te maak.
copy>In ‘n loopbaan wat oor ‘n dekade en ‘n half strek, het dié 31-jarige pianis bekendheid verwerf as “die meester van tekstuur wat die klavier perfek laat sing”.
Vondráček se ma was ‘n professionele pianis en hy het gevolglik vroeg met die klavier kennis gemaak. Sy debuut het hy op ‘n jong ouderdom gemaak en op 20 het hy reeds 850 konserte in 28 verskillende lande op sy kerfstok gehad. Op sy eerste internasionale toer was hy maar tien jaar oud en op 16 het hy in die Carnegie Hall gespeel. Sedertdien het hy op vyf vastelande reeds meer as 1 000 uitvoerings gelewer.
Soos wat ‘n mens verwag van iemand van dié statuur, is sy spel solied ten opsigte van aksent, aanslag en ritme.
In ‘n wêreld van briljante pianiste trek die Amerikaanse musiekresensent Peter J Rabinowitz interessante parallelle: Vondráček, skryf hy in Fanfare, is nie die super-virtuoos wat Marc-André Hamelin is nie, en ook nie die vuurvreter wat Arcadi Volodos of Misha Dacić is nie. Maar wat hom laat uitstaan, is nogal individualistiese interpretasies waarin hy kwaliteite vermeng wat ‘n mens nie altyd bymekaar sou sit nie.
Ná sy debuut op 16 saam met die Tsjeggiese Filharmonie onder leiding van Ashkenazy – dit was Ashkenazy wat sy talent twee jaar tevore raakgesien het en hom les begin gee het – het Vondráček die een ná die ander internasionale kompetisie gewen en so ‘n konsertloopbaan verseker.
Dit was geen groot verrassing nie dat hy in 2012 in Pretoria as die wenner van die 12de internasionale Unisa-klavierkompetisie aangewys is – een van die talle kompetisies wat hy verower het. Verlede jaar het hy die internasionale Koningin Elisabeth-klavierkompetisie verower.
Nietemin lê Vondráček hom toe op uitvoerings, eerder as kompetisies. Juis omdat kompetisies so “onnatuurlik” is, soos hy by geleentheid opgemerk het.
In Europa het hy in die voorste konsertsale uitvoerings gegee: onder meer in Londen se Wigmore Hall, Zürich se Tonhalle, Wene se Konzerthaus, Amsterdam se Concertgebouw, Porto se Casa da música, Brussel se Palais des Beaux Arts, Parys se Cité de la Musique en Madrid se Auditorio Nacional.
Tydens ‘n uitgebreide Amerikaanse toer het hy onlangs weer in New York se Carnegie Hall gespeel, maar ook saam met voortreflike orkeste soos dié van Baltimore, Cincinnati en Dallas opgetree.
Verlede jaar het Vondráček saam met die tjellis Alexey Stadler ‘n toer onderneem en konserte in Weimar, St Petersburg en ook tydens die Menuhin-fees in Gstaad gegee.
Vir die Stellenbosse etiket TwoPianists het Vondráček in 2013 ‘n CD opgeneem wat hoog aangeskryf word. Daarop speel hy die Sonate in C, Hob. XVI:50 van Joseph Haydn, die Variasies op ‘n tema van Corelli, op. 42 van Sergei Rachmaninoff en die Sonate no. 7, op. 83 van Sergei Prokofiëf. Die CD is in die Endler-saal op Stellenbosch opgeneem.
Dit is in die einste Endler-saal waar Vondráček op Vrydag 9 Junie sy Stellenbosch-uitvoering lewer. Die volgende aand, op 10 Junie, is hy om 20:00 in die Linder-ouditorium in Johannesburg vir ‘n uitvoering vir die Johannesburgse Musiekvereniging met werke van Janacek, Chopin en Brahms.
Op Donderdag 15 Junie is Vondráček in die Durbanse Stadsaal vir ‘n uitvoering saam met die KZN Filharmonie.