‘Klassieke musiek as ’n genre leef in die instrumente wat dié musiek voortbring’
Deur JOHAN MYBURG
Twee jaar gelede is die première van die Amerikaanse komponis Michael Daugherty se Tales of Hemingway in Nashville, Tennessee, uitgevoer. Die feit dat Ernest Hemingway in sy jong dae tjello gespeel het, het daartoe aanleiding gegee dat Daugherty dié werk vir orkes en tjello geskryf het.
Die solis in dié eerste aanbieding was die Amerikaanse tjellis Zuill Bailey, wat vir sy regstreekse CD-opname van dié uitvoering vroeër vanjaar ’n Grammy vir beste solo-aanbieding gekry het. Bailey tree volgende maand in Johannesburg in ’n solo-uitvoering vir die Johannesburg Musiekvereniging op en vroeg in November saam met die Kaapstadse Filharmonie onder leiding van dié orkes se hoofgasdirigent, Bernhard Gueller.
Dit is nie die eerste keer dat Bailey saam met die Kaapstadse Filharmonie speel nie – in 2014 was hy hier vir ’n uitvoering van die Dvorák-tjellokonsert, ook met Gueller op die podium. Bailey word as een van die wêreld se voorste tjelliste gereken, ’n kunstenaar wat gehore met sy tegniese beheer verstom en hulle met die warmte van sy spel bekoor. Hy het met klassieke musiek grootgeword en dít is dalk die dryfveer agter sy uitreikprogramme – om musiek met mense te deel wat nie daarmee grootgeword het nie. In ’n onderhoud in 2010 het hy opgemerk: “Ek was nog nie 20 nie toe ek met uitreikprojekte begin het, vir 200 tot 300 mense op ’n keer. Ek begin nou, 20 jaar later, die resultate sien van dit waarmee ek begin het.” So het hy ’n reeks in ’n museum in die VSA aangebied waarin hy kuns en musiek uit ’n spesifieke era met mekaar verbind het, byvoorbeeld die skilderkuns van die Impressioniste en die musiek van Claude Debussy.
LEES OOK:Klassieke klanke: Claude Debussy
Toegang tot kuns is vir hom belangrik en in ’n era – selfs in die VSA – waar kunsopvoeding in skole nie meer ’n gegewe is nie, meen hy dit is die verantwoordelikheid van uitvoerende kunstenaars om dié fakkel verder te dra. Maar dan moet ’n mens dalk ook wegkom van die eng siening dat klassieke musiek die musiek van Bach, Beethoven en Brahms is, sê hy. “Klassieke musiek as ’n genre leef in die instrumente wat dié musiek voortbring. En dié instrumente is oral rondom ons: van fliekmusiek tot in videospeletjies.” Hy was vier toe hy met die tjello kennis gemaak het. Sy ouers het hom na ’n uitvoering geneem en hy was in vervoering oor die klank van dié instrument. Daarna het hy met die hulp van ’n Suzuki-onderwyser die tjello begin bemeester voordat hy op sewe met formele tjello-onderrig begin het.
Terugskouend praat Bailey met lof oor die Suzuki-metode, ontwikkel deur die Japanse violis Shinichi Suzuki, wat daarop gegrond is dat die aanleer van musiek nie anders as die aanleer van ’n moedertaal nie. Die 45-jarige Bailey is sedert 2004 aan die universiteit van Texas in El Paso se musiekdepartement verbonde. Sy akademiese opleiding sluit in studie aan die Peabody-instituut, die Johns Hopkins-universiteit en die Juilliard-musiekskool in New York. Bailey se vertolkings op CD sluit die Bach-tjellosuites, Britten se tjellosimfonie en sonates, Elgar en Dvorák se tjellokonserte en die volledige tjellomusiek van Brahms in. In Bailey se uitvoering in die Linderouditorium in Johannesburg op 21 Oktober word hy deur die Amerikaanse pianis Bryan Wallick begelei. Die uitvoering met die Kaapstad se Filharmonie is op 2 November.