Sy metode, wat agterna as die Kodály-metode bekend geword het, was daarop gemik om kinders musiekopvoeding te gee deur van volksliedjies, musiekspeletjies en ’n reeks oefeninge gebruik te maak
Deur JOHAN MYBURG
Afgesien van die feit dat die twee Hongaarse komponiste, Béla Bartók en Zoltán Kodály, vroeg in die 20ste eeu begin het om Hongaarse volkswysies op te teken, het dié twee ook ’n leeue-aandeel in die musiekontwikkeling in Hongarye gehad. Bartók het byvoorbeeld twee bande met 80 volkswysies saamgestel, spesiaal vir kinders as klavierstukke vir solo-klavier.
Maar dit was Zoltán Kodály (1882–1967) wat met ’n metode vorendag gekom het om kinders (maar nie nét kinders nie) met musiek vertroud te maak. Hy het in musiekonderrig begin belangstel toe hy op ’n dag na leerlinge moes luister wat liedjies sing wat hulle op skool geleer het. Die standaard was só laag dat hy terstond besluit het om iets daaraan te doen. Hy het ’n klomp artikels en essays geskryf waarin hy kritiek op die swak gehalte van musiekonderrig uitspreek, veral op laerskole. Hy het aangedring op beter opgeleide onderwysers, ’n beter leerplan en dat meer tyd op skool aan musiek vir alle leerders afgestaan moet word.
Nou moet ’n mens in gedagte hou dat kunsmusiek (waarna ook as klassieke musiek verwys word) teen die vroeë 20ste eeu sy eie koers ingeslaan het (atonaliteit sou een van die redes kon wees) en dat daar ’n gaping tussen musiek en luisteraars ontstaan het. Heelwat komponiste het dié gaping probeer oorbrug deur “meer toeganklike” musiek vir rolprente, teater- en dansproduksies te skryf. Dit was ook die tyd toe nasionalisme hoogty gevier het en regerings musiekaktiwiteite regstreeks finansieel gesteun het. Teen hierdie agtergrond was Kodály die voorloper wat die oomblik aangegryp het. Sy metode, wat agterna as die Kodálymetode bekend geword het, was daarop gemik om kinders musiekopvoeding te gee deur van volksliedjies, musiekspeletjies en ’n reeks oefeninge gebruik te maak. Dié aanslag het nie net in Hongarye nie, maar ook in skole in die res van Europa en die VSA veld gewen. En sekerlik ook in Suid- Afrika.
LEES OOK: Klassieke klanke: Kevin Volans
Kodály het ’n paar basiese beginsels benadruk: Musiekonderrig moet op ’n jong ouderdom begin. Musiek moet op ’n logiese en opeenvolgende manier onderrig word. Musiekonderrig moet met pret gepaardgaan. Die stem is ’n instrument waaroor almal beskik. Die inhoud wat onderrig word, moet in die konteks van volksliedjies in die moedertaal plaasvind. Talle van die tegnieke wat hy in sy leerplan ingesluit het, het hy uit bestaande leermetodes gehaal. As iets gewerk het, het hy dit net so oorgeneem. Hoewel hy sy aandag op leerders toegespits het, kon enigiemand uiteraard by die metode baat vind. Die ontwikkelingsvlak en die vermoë van die kind was die vertrekpunt. Die volgorde was luister, sing, beweging.
Eers nadat die kind dít alles onder die knie gehad het, is na notering oorgegaan. Hy het die solfa-stelsel gebruik, klem gelê op ritme en die Britse predikant John Curwen (1816–1880) se meegaande handgebare as visuele hulpmiddel vir sangoefeninge oorgeneem. Met sy benadering het Kodály inderdaad daarin geslaag om die gaping tussen volksmusiek en kunsmusiek te oorbrug. Hy het duisende stukke, liedjies én bladleesoefeninge, vir gebruik deur jong leerders geskryf. Bowenal het sy metode tot verbeterde noothou in moeilike sangstukke, beter ritme en algehele musiekgeletterdheid bygedra. As neweprodukte van die Kodály-metode, so het navorsing bewys, het leerders wat hieraan blootgestel is, op ander vlakke ook beter gevaar – van motoriese vaardighede tot wiskunde.