’Charismaties’, ‘asembenemend’ en ‘foutloos’ is kritici se beskrywings van die 30-jarige Yuja Wang se spel – juis vanweë haar tegniese afgerondheid, musikale insig en emosionele sensitiwiteit
Deur JOHAN MYBURG
Moenie eers daaraan dink om dié rubriek te lees sonder om Yuja Wang te sien (meer as net te hoor) klavier speel nie. Daar bestaan heelwat YouTubeopnames, maar Google dalk eers die video-opname “Paraphrase on Mozart’s ‘Alla Turca’/Yuja Wang” voordat ons verder praat.
Die opname waarna ek verwys, is die een van 16 Mei 2015 wat sy ná haar optrede saam met die Berlynse Filharmonie as toegif gespeel het. Dit is ’n parafrase van Mozart se bekende Rondo alla Turca, die laaste beweging van sy Sonate No. 11 in A, K 331. Toe Wang met die eerste note van dié bekende stuk musiek uit die Klassieke era wegtrek, het lede van die gehoor gelag. Was dit omdat dit so ’n oorbekende stuk musiek is? Of was dit omdat daar mense was wat geweet het wat gaan volg?
Wang se parafrase was iets tussen die weergawes wat ’n mens ken van die pianiste Fazil Say en Arcadi Volodos, maar met ’n stewige skeut jazzy klaviergimnastiek. Verbluffend. Dit is al wat ’n mens daaroor kan sê. Die musiektydskrif Gramophone het dit ’n “fenomenale encore” genoem. “Charismaties”, “asembenemend” en “foutloos” is eweneens kritici se beskrywings van die 30-jarige Wang se spel – juis vanweë haar tegniese afgerondheid, musikale insig en emosionele sensitiwiteit. Op 21 was haar loopbaan al sterk op dreef met uitvoerings wêreldwyd. Sy het op ses met klavierlesse begin en kort daarna aan die konservatorium in Beijing les gekry. Op 12 is sy na Kanada waar sy aan die Morningside-musiekprogram in Calgary deelgeneem het en twee jaar later het haar ouers besluit dié begaafde kind moet opleiding in die Weste kry en is sy as die jongste student nóg aan die Mount Royal-konservatorium in Kanada ingeskryf.
LEES OOK: Klassieke klanke: Arnold Schönberg
Sy was 14 toe sy as ’n Steinwaykunstenaar aangewys is en ’n jaar later is sy genooi om onder leiding van Gary Graffman aan Philadelphia se gesogte Curtis-musiekinstituut te studeer. Haar groot deurbraak het in 2007 gekom toe sy op 20 vir Martha Argerich moes instaan. Die vermaarde Argentynse pianis het weens fisieke uitputting vier uitvoerings met die Boston-simfonieorkes gekanselleer en Wang het met die Klavierkonsert no. 1 van Tsjaikofski met Charles Dutoit op die podium ingestaan. Dawerende applous en ’n staande toejuiging was die gehoor se reaksie op haar indrukkende virtuositeit en styl.
In 2009 het sy ’n opnamekontrak met Deutsche Grammophon (DG) gesluit en haar debuutalbum, Sonatas & Etudes, het haar terstond DG se jong kunstenaar van die jaar gemaak. Daarna het die een opname ná die ander gevolg: onder meer Albéniz, Bach, Chopin, Rachmaninoff, Saint-Saëns en Scriabin, noem maar op. Wang se benadering tot musiek trek ’n besonder wye gehoor: van kieskeurige luisteraars tot nuwe bekeerlinge, veral onder jonger mense. Dit is veral haar uitrustings op die verhoog en haar liefde vir ontwerpersklere wat daartoe bydra dat sy die oog vang.
Dit is óf kort rokkies wat sy kort-kort moet afrem óf tabberds wat deeglik weggesny is en heelwat vel wys en wat sy saam met 10 cm hoë hakskoene dra. Daar was al kritici wat gevoel het hulle kan nie op die klavierspel konsentreer terwyl hulle vir haar kyk nie. Maar dit daar gelaat. Dit is juis die mengsel van jeugdige energie en musikale integriteit wat van Wang so ’n vars bries op verhoë en regstreekse opnames maak. Sy is mooi, jonk en uiters begaafd.