Is daar ’n gewilder konsert as die Weense Nuwejaarskonsert?
Deur JOHAN MYBURG
Die nuwe jaar het Maandag in prag en praal in Wene begin toe Riccardo Muti die tradisionele Nuwejaarskonsert in die Musikverein se Gouesaal gedirigeer het. Dié konsert, wat wyd belangstelling lok, is vanjaar na 90 lande uitgesaai en meer as 50 miljoen kykers het deel aan dié Oostenrykse tradisie gehad.
Die Weense stadstuine en plaaslike bloemiste het vanjaar vir tamaai rangskikkings gesorg wat selfs nog méér luister aan die roemryke Gouesaal verleen het. Hou in gedagte dat Januarie in die Noordelike Halfrond in die hartjie van die winter is! Jaarliks word die musiek van die beroemde Strauss-familie en hoofsaaklik landgenote in ’n program van ligte en selfs nostalgiese musiek uitgevoer. Benewens Johann Strauss I, Johann Strauss II, Josef Strauss en Eduard Strauss is Joseph Hellmesberger, Joseph Lanner, Wolfgang Amadeus Mozart, Otto Nicolai, Emil von Reznicek, Franz Schubert, Franz von Suppé en Karl Michael Ziehrer gewoonlik op die program.
Hoewel daar vroeër ook konserte op Nuwejaarsdag in Wene aangebied is, het die tradisie eintlik in 1941 beslag gekry. Vanjaar was dit die vyfde keer dat Muti vir dié Nuwejaarskonsert op die podium was (hy was ook in 1993, 1997, 2000 en 2004 daar). Die 76-jarige Muti is deesdae die musiekdirekteur van die Chicago-simfonie-orkes Sy verbintenis met die Weense Filharmonie gaan so ver terug as die vroeë 1970’s en het tot verskeie konserttoere gelei, soos die jongste een na Japan in 2008. In 1971 het hy dié orkes die eerste keer op die Salzburg-fees gelei. Daarna het iets soos 500 konserte gevolg, almal deur Muti se noukeurigheid gekenmerk. Hy word veral vir die navorsing wat hy voor optredes doen én sy uitsonderlike kennis van die spesifieke klank van die Weense Filharmonie geloof. In 2011, op sy 70ste verjaardag, het hy uit erkenning vir dié toewyding erelidmaatskap van die Weense Filharmonie ontvang. Dié toekenning is een in ’n lys van vele.
LEES OOK: Klassieke klanke: Die Weense tradisie van Nuwejaarskonserte
Verskeie lande het hom met eretitels vereer – Italië, Duitsland, Frankryk, Brittanje, Rusland en Israel. Omdat dié Weense Nuwejaarskonsert wêreldwyd so gewild is en om te verseker dat almal ’n gelyke kans het om dié konsert by te woon, word kaartjies deur middel van ’n lotingstelsel toegeken. As jy die 2019-konsert wil bywoon, moet jy pas ná Nuwejaar, maar voor die einde van Februarie, op die Weense Filharmonie se webwerf aansoek doen. Daar kan jy vir drie konserte registreer: die repetisiekonsert om 11:00 op 30 Desember, die Oujaarskonsert om 19:30 op 31 Desember en die kersie op die koek, die Nuwejaarskonsert om 11:15 op 1 Januarie 2019.
Die program vir al drie konserte is dieselfde, hoewel die kaartjiepryse verskil. Vir die Nuwejaarskonsert kos kaartjies van R570 tot R17 500 per persoon. Vir iets soos R1 200 kan jy egter die New Year’s Concert: The Complete Works koop: ’n stel van 23 CD’s met al 319 werke wat in die 75 jaar van die Weense Filharmonie se Nuwejaarskonserte uitgevoer is. In die regstreekse opnames van konserte in dié gedenkalbum word die orkes deur 14 dirigente wat deur die jare opgetree het gedirigeer: Claudio Abbado, Daniel Barenboim, Willi Boskovsky, Nikolaus Harnoncourt, Mariss Jansons, Herbert von Karajan, Carlos Kleiber, Clemens Krauss, Lorin Maazel, Zubin Mehta, Riccardo Muti, Seiji Ozawa, Georges Prêtre en Franz Welser-Möst. As jy Wiener Blut in jou are het, is dié boksstel dalk net vir jou. Die CD word deur Sony Classics uitgegee.