Op Britten se versoek was daar ná die uitvoering van die War Requiem geen applous nie
Deur JOHAN MYBURG
Op 14 November 1940, tydens die sogenaamde Coventry Blitz, het die Duitse Luftwaffe in ‘n aanval op dié stad in Engeland die St Michael-katedraal byna volledig in puin gelê. Dié gebou wat van die 14de en vroeg 15de eeu dateer, was een van die grootste kerke in Engeland en is in 1918 tot katedraal verklaar.
Neffens die ruïne van dié katedraal, wat tot ‘n gelyste gebou en nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is die nuwe St Michael-katedraal kort ná die Tweede Wêreldoorlog gebou. ‘n Kompetisie is uitgeskryf en uit sowat 200 inskrywings is op die ontwerp van Basil Spence besluit.
Spence, later sir Basil, het in materiaal en argitektuur die styl van die Middeleeuse gebou gevolg en tog ‘n eietydse katedraal daargestel.
Die inwyding van die Coventry-katedraal, soos dit algemeen bekendstaan, was op 25 Mei 1962 en by dié geleentheid is Benjamin Britten se War Requiem uitgevoer, ‘n opdragwerk wat hy vir dié geleentheid geskryf het.
Terwyl die verwoestende invloed van oorloë veral in die Noordelike Halfrond jaarliks vroeg November herdenk word – met 11 November die hoogtepunt wanneer die beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog in herinnering geroep word – word Britten se War Requiem op 10 November in die Église Saint Sulpice in Parys, Frankryk, uitgevoer.
Meer as 300 mense is betrokke in dié werk wat Britten vir sopraan, tenoor en bariton as soliste, ‘n koor, ‘n seunskoor, orrel, ‘n volledige orkes en ‘n kamerorkes geskryf het. Laasgenoemde word gebruik as begeleiding tydens intiemer toonsettings van poësie.
Vir dié requiem, wat nié as liturgiese werk bedoel is nie, het Britten wel die Latynse teks van die tradisionele dodemis gebruik, maar daardeur nege gedigte geweef wat die Engelse digter Wilfred Owen tydens die Eerste Wêreldoorlog geskryf het.
LEES OOK: Klassieke klanke: Igor Strawinski
Op 4 November 1918, sewe dae voor die einde van die oorlog, het die 25-jarige Owen as aanvoerder van ‘n kompanjie skutters tydens die oorsteek van die Sambre-Oise-kanaal in Frankryk gesneuwel. Ná die oorlog is sy verse uitgegee en het hy een van die vernaamste stemme geword wat die futiliteit van oorlog verwoord het.
Op die titelblad van die War Requiem het Britten Owen aangehaal: “My subject is War, and the pity of War / The Poetry is in the pity … / All a poet can do today is warn.”
Vir die première van dié werk in 1962 is die soliste die Sowjet-sopraan Galina Visjnefskaja, die Engelse tenoor Peter Pears en die Duitse bariton Dietrich Fischer-Diskau genooi. Dié verteenwoordiging was bedoel as ‘n vergestalting van ‘n gesamentlike strewe na vrede. Kort voor die uitvoering het die Sowjet-owerhede Visjnefskaja verbied om na Coventry te reis en tien dae voor die geleentheid het Heather Harper ingestem om dié rol te vertolk.
Die dirigent voor die City of Birmingham-simfonieorkes was Meredith Davies terwyl Britten, wat ‘n beseerde skouer gehad het, net die Melos Ensemble gedirigeer het.
Pasifis wat Britten was, het hy versoek dat daar ná die uitvoering geen applous gegee word nie.
Die eerste plaatopname van die War Requiem was wel met Visjnefskaja, Pears en Fischer-Diskau se stemme. Op die podium voor die London Symphony Orchestra en die Bach-koor was Britten. Dié opname is in 1963 uitgereik.
In 1988 het die Engelse regisseur Derek Jarman ‘n weergawe met dieselfde titel vir die silwerdoek gemaak.