Die afgelope paar jaar word die Wakkerstroom-musiekfees (WMF) in die nasomer in dié dorpie op die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal aangebied.
Deur JOHAN MYBURG
Die afgelope paar jaar word die Wakkerstroom-musiekfees (WMF) in die nasomer in dié dorpie op die grens tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal aangebied.
Jy ry deur plate Hoëveldse kosmos voordat jy anderkant Volksrust die waterryke groen omgewing van Wakkerstroom kry. Dit is waar Rona Sonnenberg in 2011 ‘n musiekfees begin het om die mense van die omgewing aan die wêreld van klassieke musiek en musici wat in hul midde musiek kom maak, bloot te stel. Daarbenewens was haar oogmerk ook om Wakkerstroom en die omgewing aan besoekers bekend te stel.
Sonnenberg is vroeg in 2013 dood, maar die saadjies wat sy gesaai het, staan deesdae besonder welig. Die sewende WMF is vanjaar van 17 tot 21 Maart aangebied met ‘n program wat die mense van Wakkerstroom, maar ook heelwat besoekers veral van Gauteng, beïndruk het.
Met die Pretoriase mezzo Linette van der Merwe aan die stuur van die WMF is ‘n program saamgestel met “meer uitdagende werke” wat gehore die geleentheid gebied het om na minder bekende musiek te luister. “Daar was beslis die tradisionele, meer gehoorvriendelike werke, wat meer binne die algemene gehoor se smaak val, maar ek dink tog dit is belangrik om mense uit te daag,” sê sy.
As voorbeeld hiervan is East meets West aangebied, ‘n uitvoering van Indiese klassieke musiek met Berthine van Schoor (tjello), Vevek Ram (sitar), Rabin Ram (sarod), Arindam Mukhopadhyay (stem) en Madhav Parshotam (tabla), asook Discussions between Oboe and Tenor, ʼn uitvoering deur Olivier Barrier (hobo) en Chris Mostert (tenoor) van Ralph Vaughan Williams se “Ten Blake Songs” en die “Six Metamorphoses after Ovid” vir solo-hobo.
Een van die hoogtepunte op die program was die Wits Trio – met Zanta Hofmeyr (viool), Maciej Lacny (tjello) en Malcolm Nay (klavier) – se program From Vienna to Buenos Aires, met ʼn vertolking van die Trio no. 1 in B-mol van Schubert en die Vier seisoene van Piazzolla.
Rynier Prins (kitaar) en Mart-Marie Snyman (klavier) het in Guitar and Piano Duologues met behulp van eksperimentele improvisasies ʼn vars kleur aan kitaar-en-klavierduette gegee.
Sondagaand se galakonsert in die NG Kerk, die grootste ruimte op die dorp, het ʼn gehoor van meer as 400 getrek en het bestaan uit hoogtepunte van die feesnaweek. As jy ʼn program of twee sou mis, kon jy die kunstenaars tydens dié konsert met Richard Cock as seremoniemeester in aksie sien.
In dié konsert was dit die jong violis Eike Coetzee wat beïndruk het met sy vertolking van die Danse Espagnole van De Falla.
“Die galakonsert is elke jaar die kersie op die koek,” sê Van der Merwe, “en ek hoop regtig die gemeenskapskoorprojek sal volgende jaar uitbrei. Vir baie lede van die koor was dit hul eerste keer, nie net in ‘n koor nie, maar ook op ʼn verhoog.” Dié impromptu-koor wat saamgestel is uit inwoners van Wakkerstroom en die omgewing, asook besoekers, het onder leiding van Christopher Vale (tenoor) en Marten van Wyk (klavier) net ʼn uur lank geoefen voordat hulle die koorgedeeltes van “Die lied van die toreador” en die “Habanera” uit Carmen van Bizet saam met soliste gesing het.
Volgende jaar vind die fees van 16 tot 18 Maart plaas. “Die jaar daarna val die fees weer oor ʼn langnaweek,” sê Van der Merwe. “Ek gaan my bes probeer om Pretty Yende te kry vir ʼn konsert.” Yende kom van Wakkerstroom se buurdorp Piet Retief.