‘Daar is iets goddeliks in musiek. Dit is ’n ontsaglike krag wat aan die wêreld vorm gee’
Deur JOHAN MYBURG
Noem jy die naam Vangelis en die klankbaan van Chariots of Fire, die fliektreffer van 1981, kom onmiddellik by jou op. Dit was met dié klankbaan waarmee Vangelis die Oscar vir die beste oorspronklike rolprentkomposisie verower het.
Dit was met sy eiesoortige klank – wat ’n mens met moeite kan klassifiseer – waarmee hy as ’t ware aan instrumentale musiek van die 1970’s en veral die 1980’s gestalte gegee het. Beskrywings soos “sintetiseerder-musiek”, “new age”, “progressiewe rock”, “simfoniese rock”, “ruimtemusiek” en “elektroniese musiek” is aan sy werk gegee. Nietemin dra nie een van dié begrippe die volledige lading van Vangelis se musiek nie. In dieselfde asem moet ’n mens toegee dat hy moontlik by tye in wat al as “autopilot arranging” beskryf is, verval het.
Die geheim van sy musiek is moontlik juis die eiesoortigheid daarvan: die eenvoudige, herhalende melodieë wat in ’n mens se kop vassteek, geskoei op evokatiewe ritme- en akkoordprogressie. Dit alles met Griekse volksmusiek vernuftig ingewerk. Daarmee het Vangelis vir hom ’n plek op treffersparades verseker – soos met Chariots of Fire. Sy musiek uit dié fliek is sedertdien in ’n magdom TV-programme en by etlike sportgeleenthede gebruik. Dié sukses het hom jare later, in 1997, die geskikte kandidaat gemaak vir die aanbied van die openingsgeleentheid van die Wêreldatletiekkampioenskap in Griekeland.
LEES OOK: Klassieke klanke: Rolprentmusiek
In 2000 het hy ook die musiek vir die afsluitingsgeleentheid van die Olimpiese Spele in Sydney gekomponeer. Ná die aanvanklike sukses van Chariots of Fire het die Griekse komponis Stavros Logaridis gemeen Vangelis het die idee vir dié musiek in sy City of Violets gekry en hom van plagiaat aangekla. ’n Hofsaak het gevolg en Vangelis het die saak gewen. In 1982 het hy die musiek vir Ridley Scott se Blade Runner geskryf – waarmee hy nié ’n Oscar verower het nie, maar wel ’n Bafta- en Golden Globebenoeming. Trouens, Vangelis is in daardie jaar nie eens vir ’n Oscar benoem nie – John Williams het dit toe gekry vir ET. Nietemin word die musiek vir Blade Runner allerweë as ’n besonder belangrike boublok in die elektroniese musiekgenre beskou.
Met dié musiek het Vangelis juis meesterlik daarin geslaag om die gevoel van verlatenheid en melancholie in ’n distopiese omgewing in dié fliek vas te vang. Die Amerikaanse rolprentinstituut het Vangelis se musiek vir die flieks Chariots of Fire en Blade Runner ingesluit in sy lys van die 250 voortreflikste klankbane wat nog voortgebring is. Evángelos Odysséas Papathanassíou (1943), die man wat alom bekendstaan as Vangelis, word buite Griekeland as dié land se bekendste en suksesvolste komponis gereken – met ’n loopbaan van meer as 50 jaar en meer as 50 albums.
Hy het van kleins af klavier gespeel, maar nooit deeglike kennis van musieknotasie onder die knie gekry nie. Hy het ook nooit formele musiekonderrig gehad nie. Hy het homself gelukkig geag, het hy later gesê, om juis nié na ’n musiekskool gestuur te word nie. Na dié instellings het hy as ’n “kreatiewe hindernis” verwys. Hy het wel in Athene kuns studeer en skilder steeds. Sy eerste uitstalling was in 2003 in Valencia in Spanje. In ’n onderhoud in 2016 het Vangelis die verskil tussen skilder en komponeer só geformuleer: “Dit is nie dieselfde ding nie. Dit is ’n mens wat skilderwerk voortbring. Musiek het niemand nodig nie. Daar is iets goddeliks in musiek. Dit is ’n ontsaglike krag wat aan die wêreld vorm gee.”