Tanglewood is sedert 1937 die ‘somertuiste’ van die Boston-simfonieorkes (BSO), die plek waar dié orkes vir die duur van die somer optree
Deur JOHAN MYBURG
Tanglewood, die landgoed in die omgewing van die Berkshireheuwels van Massachusetts in die VSA, is die plek waar ’n groot musiekfees jaarliks in die noordelike somer aangebied word. Met drie groot musiekskole in die omgewing word ’n fees met ’n wye verskeidenheid musieksoorte aangebied – van kontemporêr tot jazz – hoewel die fees van klassieke musiek lank reeds gevestig is.
Sedert 1937 is Tanglewood die “somertuiste” van die Boston-simfonieorkes (BSO) waar dié orkes vir die duur van die somer optree. Met die sowat 350 000 besoekers wat Tanglewood in een somer besoek, dra die teenwoordigheid van die BSO jaarliks sowat 261 miljoen dollar tot die ekonomie van Massachusetts by. Heelwat inwoners van New York en Boston vertoef gedurende die somer in die Berkshire-omgewing om van die hitte in dié stede weg te kom. Die BSO, wat in 1881 tot stand gekom het, word as een van die “groot vyf” Amerikaanse simfonieorkeste gereken.
Die huidige musiekdirekteur is Andris Nelsons wat in 2014 die dirigeerstok by James Levine oorgeneem het, wat op sy beurt vir Seiji Ozawa opgevolg het. Ozawa is steeds die eremusiekdirekteur van die orkes. Vier jaar ná die totstandkoming van die BSO het die Boston Pops Orchestra uit die geledere van die BSO ontwikkel. Die Boston Pops tree veral op wanneer die BSO in die winter met verlof gaan. Die naam Arthur Fiedler kom sonder meer by ’n mens op as jy aan die Boston Pops dink. Hy was tot en met sy dood in 1979 nie net 50 jaar lank dirigent van dié orkes nie, maar het tot die wêreldwye aansien van die Boston Pops bygedra.
LEES OOK: Klassieke klanke: Weense Nuwejaarskonsert
Met Fiedler aan die stuur het dié orkes meer as enige ander orkes ter wêreld die meeste kommersiële opnames gemaak en iets soos 50 miljoen dollar met verkope van albums, bandopnames en kassetbande verdien. Ná Fiedler se dood is John Williams, komponis van rolprentmusiek, as dirigent aangestel en sedert 1995 swaai Keith Lockhart die dirigeerstok. Die BSO, onder leiding van Nelsons, open vanjaar se Tanglewood op 5 Julie met die eerste van nege uitvoerings deur dié orkes.
In dié konsert is die pianis Emanuel Ax die solis in Mozart se Klavierkonsert no 22. Die hoofwerk is Mahler se Simfonie no 5. Ander hoogtepunte in die BSO-program sluit in Anne-Sophie Mutter se uitvoering van André Previn se Vioolkonsert Anne- Sophie, ’n werk wat Previn in 2001 vir haar geskryf het; Jean-Yves Thibaudet (klavier) as solis in werke van Gershwin; en Renée Fleming (sopraan) en Rod Gilfry (bariton) se vertolking in die première van Kevin Puts se The Brightness of Light, ’n werk wat op die korrespondensie tussen die skilder Georgia O’Keeffe en haar fotograafman Alfred Stieglitz geskoei is.
Lockhart en die Boston Pops bied ’n program aan wat Star Wars: A New Hope genoem word, met musiek van John Williams. Op die kamermusiek-program is Beethoven-trio’s uitgevoer deur Emanuel Ax (klavier), Leonidas Kavakos (viool) en Yo-Yo Ma (tjello). Ma is ook op die program in ’n uitvoering van ses van die Bach-suites vir tjello. Dié konsert is deel van Ma se inisiatief, The Bach Project, waarin hy binne twee jaar die suites regoor die wêreld uitvoer en mense aanmoedig “om anders oor die rol van kultuur in gemeenskappe te dink”. Vir nog inligting, besoek www.bso.org