Signum is al ‘een van die interessantste nuwe ensembles’ genoem
Deur JOHAN MYBURG
Die Duitse Signum-kwartet is eersdaags in die land op ’n kort konserttoer wat optredes in Stellenbosch, Kaapstad, Port Elizabeth, Sasolburg en Johannesburg insluit. Dié kwartet, wat in 1994 in Keulen in Duitsland tot stand gekom het, bestaan sedert 2007 uit Florian Donderer (viool), Annette Walther (viool), Xandi van Dijk (altviool) en Thomas Schmitz (tjello). Die kwartet is bekend vir sy energieke ensemble-spel en het sy stempel deeglik in die internasionale wêreld van kamermusiek afgedruk – “signum” is Latyn vir merk, teken of merkwaardige werk.
Dié reputasie strek ook so ver as die kwartet se CD-opnames: van die bekendste werke in die kwartetliteratuur tot werk wat nouliks meer uitgevoer word, soos die kwartette van die Italiaans gebore Oostenrykse komponis Ludwig Thuille (1861–1907). Signum is al “een van die interessantste nuwe ensembles” genoem. In 2015 het dié vier met #quartweet, ’n sosialemediaprojek, vorendag gekom om komponiste van alle ouderdomme en vaardighede die geleentheid te bied om ’n kort kwartet van 140 note of minder te twiet. Dié projek het heelwat mediabelangstelling uitgelok en daaroor is onder meer op die BBC en in die Duitse media berig.
Komponiste wat deelgeneem het, sluit Brett Dean, Sebastian Currier en die Suid-Afrikaans gebore Ierse komponis Kevin Volans in. Donderer het in Berlyn en Londen gestudeer en sy leermeesters sluit Neeme Järvi, Paavo Järvi en Leonid Grin in. Hy het hom vroeg in sy loopbaan op kamermusiek toegelê en was lank ’n lid van die Ensemble Oriol Berlin. Benewens sy spel in ensembles tree hy ook dikwels as konsertmeester op. Hy het sy dirigeerdebuut in 2010 gemaak. Deesdae tree hy as dirigent vir ’n hele aantal Europese orkeste op.
LEES OOK: Klassieke klanke: Jean Sibelius
Walther het in Düsseldorf en Essen asook aan Londen se Guildhall School for Music and Drama gestudeer en by sir Colin Davis klas in kamermusiek gehad. Sy is ’n gereelde gas van die Mahler-kamerorkes en konsertmeester van die Keulense kamerorkes, die Belgiese kamerorkes en die Folkwang-kamerorkes. Sy is verlede jaar as viooldosent aan die Louis Spohrakademie in Kassel aangestel. Van Dijk, die seun van die komponis Pieter-Louis van Dijk, is in Kaapstad gebore en het aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad gestudeer. Hy is ’n stigterslid van die Sontonga-kwartet, ’n ensemble wat die premières van meer as 30 Suid-Afrikaanse werke aangebied het, asook Suid-Afrikaanse premières van werk van Terry Riley, Osvaldo Golijov, Kevin Volans, Arvo Pärt en Henryk Gorecki.
Schmitz het saam met Walther op 16 die Signum-kwartet begin. Reeds voordat hy met sy voorgraadse studie in musiek begin het, het hy ’n besondere belangstelling in en aanvoeling vir kamermusiek getoon. Hy het in Keulen en daarna in Amsterdam, Berlyn, New York en Helsinki gestudeer. Hy is sedert 2005 tjellodosent aan die Hochschule für Musik in Keulen. Verskeie CD-opnames van die Signum-kwartet het gesogte pryse verower: Die CD No. 3 met musiek van Bartók, Berg en Schnittke is in 2014 in die internasionale klassiekemusiekpryse as die beste kamermusiekopname aangewys.
Hulle het ook Soundscapes uitgereik, met musiek van Ravel, Debussy en Adès, asook Alla czeca met musiek van Suk, Schulhoff en Dvorák. Die Signum-kwartet tree op 4 en 5 Maart op die Stellenbosse Woordfees, op 6 Maart in die Baxter-teater in Kaapstad, op 7 en 8 Maart in Port Elizabeth, op 9 Maart in die Etienne Rossouw-teater op Sasolburg en op 10 Maart in die Linderouditorium in Parktown vir die Johannesburgse Musiekvereniging op.