Net omdat Pavarotti, ek en Bocelli die eerstes was wat deur die klassieke crossover-deur gestap het, kan ons nie die skuld kry vir alles wat gevolg het nie
Deur JOHAN MYBURG
Sarah Brightman, die Engelse sopraan wat crossover bykans eiehandig ’n genre in musiek gemaak het, het pas ’n nuwe CD uitgereik. Dit heet Hymn en lui meteen ook haar wêreldtoer in wat vandeesmaand in Suid- Amerika begin. Brightman was 21 toe sy in 1981 haar debuut in Andrew Lloyd Webber se musiekspel Cats in Londen se Weseinde gemaak het. Daarna het optredes ook op Broadway gevolg, onder meer in Lloyd Webber, met wie sy in 1984 getroud is, se The Phantom of the Opera.
Nadat sy en Lloyd Webber in 1990 geskei is en haar musiekspelloopbaan tot ’n einde gekom het, het sy die “klassieke crossover”- koers ingeslaan – ’n genre wat haar miljoene in die sak gebring het, maar tegelyk ’n etiket wat sy nie kan verdra nie. “Net omdat [Luciano] Pavarotti, ek en [Andrea] Bocelli die eerstes was wat deur die klassieke crossover-deur gestap het, kan ons nie die skuld kry vir alles wat gevolg het nie,” het sy in ’n stadium in ’n onderhoud met Huffington Post gesê. Inderdaad het ’n hele rits kunstenaars die pad deur dié deur gevolg: van skamel geklede violiste en Il Divo tot mededingers op TV-realiteitsprogramme.
Brightman kan wal gooi soos sy wil, haar rekord weeg swaarder. Sy het nie net 180 goue- en platinumalbums in 40 lande verwerf nie, maar ook meer as 30 miljoen CD’s wêreldwyd verkoop. Ingesluit in haar album Classics van 2001 het sy opnames wat sy vroeër gemaak het byeengebring – soos Ebben? Ne andrò lontana uit Catalani se La Wally, Lascia ch’io pianga uit Handel se Rinaldo, O mio babbino caro uit Puccini se Gianni Schicchi, en Nessun dorma uit Puccini se Turandot (wat vir ’n tenoor geskryf is). Maar dan het sy onder meer die tweede beweging van Beethoven se Simfonie no. 7, die Albinoni-Adagio in g, Recuerdos de la Alahambra van Tarrega en Chopin se Étude in E, op. 10 no. 3 – vier komposisies onderskeidelik vir orkes, kitaar en klavier – aangetree en met woorde vir liedere vorendag gekom. In dié volgorde heet dié vier snitte op die CD Figlio Perduto, Anytime, Anywhere, Alhambra en Dans la Nuit.
LEES OOK: Klassieke klanke: Nessun dorma
As crossover-sopraan – wat die oogmerk het om die wêreld van klassieke musiek en populêre musiek te verenig en gehore uit al twee dié genres te trek – het Brightman, met die uitsondering van puriste – heelwat aandag op haar gevestig. Sy het ’n natuurlike sangtalent –sy het wel klassieke stemopleiding gekry – en ’n opname van Mozart se Alleluia uit sy motet Exsultate jubilate sou selfs aan die suspisie van menige puris kon wegvreet. Wat belangrik is om in gedagte te hou, is dat Brightman nie ’n opera- of Liedersangeres is nie en haar nog nooit daarvoor uitgegee het nie. Sy wil vermaak. Vir haar komende wêreldtoer het sy ’n vennootskap met Swarovski aangegaan en haar gehore kan tabberds en tiaras met dié beroemde kristalle te wagte wees.
Wat meer is, haar aanhangers kan volgens ’n persverklaring van Decca, wat Hymn uitreik, ook produkte met Swarovski-kristalle in die Brightman-reeks aanskaf. Die jongste CD sluit onder meer Brightman se weergawes van Eric Whitacre se Fly to Paradise, die Japanse superster en liedjieskrywer Yoshiki se Miracle en ’n nuwe weergawe van haar duet saam met Bocelli Time to say Goodbye in. Die album is die afgelope twee jaar in Hamburg, Miami, Londen, Vancouver, Los Angeles, New York en Boedapest opgeneem.