Rolprentmusiek is ’n nuwe vorm van dramatiese musiek … en anders as simfoniese of kamermusiek
Deur JOHAN MYBURG
Rolprentmusiek is die nuwe “klassieke musiek”, hoor ek iemand onlangs sê. Die temamusiek uit prente soos The Godfather, Titanic en Gladiator moet as “ernstige” klassieke musiek neffens dié van Mozart en Tsjaikofski erkenning kry. Daar gaan selfs stemme op wat meen rolprentmusiek is die (enigste) pad vorentoe vir klassieke musiek. En dan hoor ’n mens argumente soos: “Rolprentmusiek word deur die beste orkeste, met die vernaamste dirigente uitgevoer.” Asof dít die kriterium vir klassieke musiek sou wees. (Die begrip “klassieke musiek” word hier nie as aanduiding vir musiek uit die Klassieke era gebruik nie, maar as alternatief vir kunsmusiek.)
Dit is nie die grootte van die orkes wat musiek “klassiek” maak nie, maar die feit dat dié soort musiek op sy eie kan staan: komposisie met temas, ontwikkelings en melodiese lyne. Dié soort musiek is die subjektiewe uitdrukking van ’n komponis wat los van eksterne invloed wil staan. Rolprentmusiek, daarenteen, is musiek wat bedoel is om ’n rolprent aan te vul; om objektiewe kommentaar te gee van wat op die skerm gebeur. Sonder die fliek (of die prentjies in ’n mens se kop van die fliek) verloor die musiek heelwat van sy betekenis. Dié onderskeid is natuurlik nie klinkklaar nie.
Daar was etlike komponiste van klassieke musiek wat ook rolprentmusiek geskryf het, soos daar dié was wat musiek vir ballet geskryf het. In 1929 het Dmitri Sjostakowitsj (1906– 1975) in ’n artikel geskryf: “Dit is tyd dat rolprentmusiek getakel moet word, om van die knoeiery ontslae te raak … Die enigste manier om dít te vermag, is om spesiale musiek daarvoor te skryf.” (Hou in gedagte dat die eerste fliek waarin akteurs gepraat het – die sogenaamde talkies – The Jazz Singer van 1927 was.) Sy oogmerk was om musiek te skryf wat meer as ’n bykomstigheid is, maar eerder ’n kragtige dog subtiele instrument met ’n sielkundige, spirituele en selfs filosofiese onderbou. In New Babylon (1929), die eerste fliek waarvoor hy musiek geskryf het, het Sjostakowitsj se eenheidsbenadering reeds na vore gekom.
LEES OOK: Klassieke klanke: Hendrik Hofmeyr
Sy bedoeling was, soos hy opgemerk het, om regdeur ’n ononderbroke simfoniese toon te gebruik. Maar dit was die Amerikaanse komponis Erich Korngold (1897–1957) wat veral met Captain Blood (1935) gewys het wat simfoniese musiek vir die silwerskerm kan doen. “Uitsonderlike simfoniese musiek vir rolprente kan nie anders as om grootskaalse aanvaarding van [klassieke] musiek te kweek nie,” het hy aangevoer. “Die rolprentteater bied direkte toegang tot die ore en harte van ’n groter publiek.” In 1939 het Aaron Copland (1900–1990) die boek What to Listen For in Music met ’n hoofstuk oor rolprentmusiek gepubliseer. Rolprentmusiek het hy as ’n musikale medium met “’n bekoring van sy eie” beskryf. “Dit is ’n nuwe vorm van dramatiese musiek … en anders as simfoniese of kamermusiek,” het hy aangevoer.
John Corigliano (1938), die komponis wat die musiek vir The Red Violin (1998) geskryf het, som die onderskeid tussen rolprentmusiek en dié in ’n konsertsaal só op: “In ’n fliek kom en gaan die musiek, hier vir een minuut, daar vir ses minute en 22 sekondes. In ’n konsertsaal sien jy die instrumente en jou konsentrasie is volledig op die klank gerig.” Soos met alle vorms van musiek kry ’n mens voortreflike musiek en eweneens mindere musiek, en so ook suksesvolle klankbane en meer kommersiële en vergeetbare klankbane. Oor smaak kan ’n mens nie stry nie.