Pieter Schoeman het sy debuut op tien saam met die Kaapstadse Simfonieorkes gemaak
Deur JOHAN MYBURG
Die Kaapstad Filharmonie bied jaarliks teen die einde van die jaar die Huberte Rupertgedenkkonsert aan as ’n geleentheid om die nalatenskap van ’n vrou te gedenk wat etlike jong Suid-Afrikaanse kunstenaars gehelp het sonder om dit in die openbaar te noem of enige erkenning daarvoor te verwag. Rupert was ’n kunsliefhebber en -ondersteuner en die vrou van Anton Rupert. Die violis Pieter Schoeman is vanjaar op 30 November die solis in dié konsert in die Endlersaal op Stellenbosch.
Schoeman is die solis in Max Bruch se Vioolkonsert saam met die Kaapstadse Filharmonie onder leiding van Chad Hendricks. Hendricks was in 2016 die wenner van die derde Len van Zyldirigeerkompetisie. Die ander twee werke in die program is Beethoven se Egmontouverture en Antonín Dvořák se Simfonie no. 8 in G. Schoeman, ’n kunstenaar wat al jare in die buiteland woon, besoek Suid-Afrika gereeld. Hy is in 2008 as konsertmeester van die Londense Filharmoniese Orkes aangestel nadat hy in 2002 by dié orkes aangesluit het.
Voorheen was hy aan die Orchestre Philharmonique in Nice, Frankryk, verbonde, en het as gaskonsertmeester saam met simfonieorkeste in Barcelona, Bordeaux, Lyon, Baltimore en dié van die BBC opgetree. In 2016 was Schoeman die gaskonsertmeester vir die gedenkkonsert vir Kurt Masur saam met die Gewandhaus in Leipzig. Tans is hy professor in viool aan die Trinity Laban Conservatoire in Londen. Schoeman het sy debuut op tien saam met die Kaapstadse Simfonieorkes gemaak. Vyf jaar later het hy die Wêreldjeugconcerto- kompetisie in Michigan in die VSA verower en op 17 het hy na die VSA verhuis waar hy sy studies in Los Angeles en Dallas voortgesit het.
LEES OOK: Klassieke klanke: 40 vingers
In 1991 het die Israels-Amerikaanse violis en dirigent Pinchas Zukerman van Schoeman se talent te hore gekom en later aanbeveel dat hy in New York by Sylvia Rosenberg onderrig kry. Rosenberg was sedert die 1980’s aan die Aspen- en Manhattan-musiekskool verbonde en is deesdae ’n dosent aan die Juilliard in New York. Schoeman is in 1994 by die Indianauniversiteit as Rosenberg se onderrigassistent aangestel. Sy loopbaan as solis het hom na die wêreld se bekendste konsertsale geneem – die Concertgebouw in Amsterdam, die Rachmaninoff-saal in Moskou, die Capella-saal in St Petersburg, die Hollywood Bowl in Los Angeles en die Elizabeth-saal in Londen se Southbank Centre. Saam met kamermusiek-ensembles het hy in Londen se Wigmore Hall opgetree.
Hy het met verskeie kunstenaars vir die Londen Filharmonie in dubbelkonserte opgetree: saam met Boris Garlitsky in dié van Arvo Pärt; saam met Kristina Blaumane in dié van Brahms; en saam met Alexander Zemtsov in die Dubbelkonsert van Benjamin Britten. Dié optredes is op CD onder die etiket van die Londen Filharmonie uitgereik. Hy het ook verskeie opnames vir Chandos, Opera Rara, Naxos die BBC en vir Amerikaanse TV- en rolprentmaatskappye gemaak. As konsertmeester van die Londen Filharmonie was hy ook by die uitvoering van Howard Shore se temamusiek vir The Lord of the Rings-trilogie betrokke.
Op uitnodiging van die Kanadese pianis en dirigent Yannick Nézet-Séguin was hy deel van Yannick and Friends, ’n kamermusiek-ensemble wat onder meer op musiekfeeste in Dortmund en Rheingau in Duitsland opgetree het. Op ’n besoek aan Suid- Afrika het Schoeman in 2012 ’n uitvoering in die Linder in Johannesburg van Roelof Temmingh se Vioolkonsert gegee, ’n werk wat die komponis drie jaar voor sy dood in 2015 aan Schoeman opgedra het.