Wat het Sean Connery, Sting, Bill Clinton en David Attenborough gemeen? Hulle was almal in die vertellerstoel vir opnames van Pieter en die wolf
Deur JOHAN MYBURG
Sergei Prokofiëf was ’n meester van die kuns om ’n storie met musiek te vertel. Dink maar aan die immergroen Pieter en die wolf of die dramatiese musiek vir die balsaaltoneel (Dans van die ridders) uit sy Romeo & Juliet-balletmusiek.
Pieter en die wolf (geskryf in 1936), die simfoniese kinderverhaal met ’n verteller aan die woord, waarin verskeie orkesinstrumente op ’n vindingryke manier aan jong luisteraars bekendgestel word, is sonder twyfel Prokofiëf se bekendste werk en ook die een wat die meeste uitgevoer word. Daar is talle opnames van Pieter en die wolf beskikbaar, in verskeie tale, en ’n rits mense is al in die rol van die verteller ingespan, van Sean Connery, Sting en Bill Clinton tot David Attenborough en ook Michail Gorbatsjof en dame Edna Everage.
Walt Disney was betower deur die temas en karakterbeelding en het in 1938 ’n rolprentweergawe daarvan, Peter and the Wolf, gemaak. Die karakters is dié van Pieter (met die strykers wat sy tema vergestalt), sy oupa (fagot), ’n voëltjie (fluit), ’n eend (hobo), die kat (klarinet), die wolf (Franse horings) en die jagters (keteltromme). Pieter en die wolf is as ’t ware ’n les oor hoe om vreesloos te wees, die natuur te tem en vrese te oorkom. Aan die ander kant van die heining ís daar donker skadu’s (of dit nou werklike skadu’s is of die paranoia van die Stalinistiese bewind wat die Russe wou laat glo hulle woon eintlik in die paradys en in die woud woon die vyand).
LEES OOK: Klassieke klanke: Alissa Margulis
Natalya Sats, die direkteur van die kinderteater wat Prokofiëf gevra het om die stuk te skryf, het juis ’n boodskap met die werk in gedagte gehad: dié van die jeugdige Pieter wat kans sien vir gevaar teenoor die onbuigsame beginsels van die ou orde, met die oupa as verteenwoordiger van die garde wat nog nie die Sowjet-ideologie snap nie. Prokofiëf was teen 1936 terug in die Sowjet-unie ná ’n verblyf in die Weste – eers in die VSA van 1918 af en daarna in Parys en die dorpie Ettal in die Alpe in Duitsland. Kort ná sy terugkeer na sy vaderland het hy Romeo & Juliet voltooi, ’n ballet waarin hy afwyk van Shakespeare se verhaal van die gedoemde verliefdes en die verhaal van ’n gelukkige einde voorsien. Dit het tot groot ongelukkigheid by die Bolsjoi-balletgeselskap gelei.
Die opvoering van die ballet is onbepaald uitgestel en toe dit eindelik in 1939–’40 aangebied is, is veranderings en snitte sonder die komponis se toestemming aangebring. Alles was dus nie pluis in Moeder Rusland nie, en Prokofiëf het besef dit was ’n fout om terug te keer. Hy het nietemin tot en met sy dood daar aangebly. Luister ’n mens nou na die monumentale Dans van die ridders uit dié ballet is dit die outoritêre en rigiede wêreld van die Montagues en die Capulets (moontlik as verteenwoordigers vir die Sowjet-regime) wat weerklink en ’n mens ’n duidelike beeld gee van die opdraande stryd wat vir die jong Romeo en Juliet voorlê. Nietemin seëvier die verliefdes in die Prokofiëf-weergawe van die verhaal en tree hulle as ’t ware uit die bestaan wat hul families voer. Prokofiëf is op 5 Maart 1953 dood, dieselfde dag waarop Josef Stalin gesterf het. Die aankondiging van sy dood en die skamele begrafnis was onbeduidend vergeleke met die praal wat met Stalin se dood en begrafnis gepaardgegaan het.