Olga Kern, wenner van die 11de Van Cliburn- internasionale klavierkompetisie in 2001, is vandeesweek in Johannesburg vir ’n uitvoering
Deur JOHAN MYBURG
Die Russies-Amerikaanse pianis Olga Kern, ’n bekende op Suid- Afrikaanse verhoë, is op 16 Maart die gas van die Johannesburgse Musiekvereniging (JMV) in ’n solo-uitvoering in die Linder-ouditorium in Johannesburg. Kern se program vir dié geleentheid bestaan uit stukke wat elkeen ’n eie klankwêreld oproep – van Robert Schumann se karnavaleske indrukke van die Italiaanse commedia dell’arte Carnaval, op. 9, tot dié van Mily Balakiref in Islamey, ’n Oosterse fantasie, wat hy in 1862 geskryf het ná ’n reis na die gebied wat vandag as Iran en Afganistan bekendstaan.
Maar benewens die stemmingsvolle eienskappe van dié werke in die program, staan die tegniese vernuf uit wat dit van die pianis verg. Kern open haar program met die Schumann, ’n werk met 21 kort stukke wat in 1834 en 1835 geskryf is en wat gemaskerde pretmakers tydens ’n karnaval voorstel. Daarna volg George Gershwin se Drie preludes wat die eerste keer in 1926 in New York uitgevoer is, klinkklare voorbeelde van vroeë 20ste-eeuse Amerikaanse jazz. Fascinating Rhythm (Kern speel die transkripsie van Earl Wild) is Gershwin se komposisie vir die 1924-treffer met woorde deur Ira, Gershwin se jonger broer.
Van Sergei Rachmaninoff sluit Kern in Six moments musicaux, op. 16 no. 4, ses musikale oomblikke wat elkeen kenmerkend van ’n spesifieke era is, Barcarolle, op. 10 no. 3 en Polichinelle, op. 3 no. 4, ’n uitbeelding van ’n karakter uit die commedia dell’arte uit Rachmaninoff se vyf Fantasiestukke van 1892. Van Alexander Scriabin is twee etudes, no. 4 en 5 uit Scriabin se Agt etudes, op. 42, ingesluit en die uitvoering word met die Balakiref afgesluit. Die 43-jarige Kern is in Moskou gebore waar sy op sewe haar eerste uitvoering gegee het. Op 11 het sy haar eerste internasionale klavierkompetisie in die Tsjeggiese Republiek gewen en in 1993 was sy op 17 die wenner van die eerste internasionale Rachmaninoff-kompetisie vir pianiste – toe nog onder die naam Olga Pushechnikova.
Sy het haar ma se nooiensvan aangeneem toe haar internasionale loopbaan op dreef gekom het. In 2001 het dié loopbaan ’n aansienlike hupstoot gekry toe sy die eerste vrou geword het wat in meer as 30 jaar die Nancy Lee en Perry R Bass- goue medalje in die 11de Van Cliburn internasionale klavierkompetisie verower het. In 2016 het Kern die Olga Kern- internasionale klavierkompetisie vir pianiste tussen 18 en 32 van stapel gestuur. Dié kompetisie vind elke drie jaar in Albuquerque in Nieu-Mexiko plaas en die tweede kompetisie kom einde Oktober en vroeg November aan die beurt.
Kern het ’n hele rits opnames gemaak – onder meer van Tsjaikofski se Klavierkonsert no. 1 saam met die Rochester Filharmonie met Christopher Seaman in 2003, Rachmaninoff se Corelli-variasies en ander transkripsies in 2004, wat vir ’n Grammy benoem is, Chopin se Klavierkonsert no. 1 saam met die Warschau Filharmonie onder leiding van Antoni Wit in 2006 en ’n opname van Chopin-sonates in 2010. Haar jongste opname waaraan sy vir Sony gewerk het, is Rachmaninoff se Tjellosonate saam met Sol Gabetta. Konserte van die JMV is oop vir die publiek en kaartjies kan by Computicket bespreek word. Lede van die JMV betaal tot R45 per kaartjie minder. Bel 011 728 5492 vir meer besonderhede. Meer inligting oor die JMV se jaarprogram in die Linder is op die webwerf www.jms.org.za beskikbaar