Maak geen fout nie, Nessun dorma is meer as ’n catchy tune. Dit is dramaties, opswepend … en verdeksels moeilik
Deur JOHAN MYBURG
Giacomo Puccini is graf toe sonder dat hy ooit sy Turandot op die verhoog gesien het. En sonder dat hy blootgestel is aan al wat leef wat Nessun dorma sing. Puccini (1858–1924) se laaste opera is die verhaal van prins Calaf wat verlief raak op die ysige prinses Turandot. Hy is een van ’n klomp vryers wat drie raaisels reg moet beantwoord om die prinses se hand te verower. Wie verkeerd antwoord, word doodgemaak. (Dis opera.) Calaf slaag die toets, maar Turandot is steeds teësinnig om met hom te trou. Hy gee haar ’n uitweg: As sy teen dagbreek sy naam kan raai, is hy bereid om te sterf (!).
Turandot laat g’n gras onder haar voete groei nie en sit haar onderdane aan die werk. Niemand sal slaap alvorens dié onbekende prins se naam vasgestel is nie. As hulle nie daarin sou slaag nie … word hulle doodgemaak. Waarom sou Calaf met die vrou wou trou, wonder ’n mens? Nietemin, in die maanlig hoor Calaf die dekreet: “Nessun dorma!” Niemand sal slaap nie. Hy eggo dié woorde in sy aria waarin hy onder meer die ysprinses aanspreek, waarin hy spog dat sy geheim veilig is én dat hy daarvan oortuig is dat hy teen dagbreek sal seëvier.
LEES OOK:Klassieke klanke: Barcelona
Die Italiaans vir “seëvier” is die “vincerò” waarmee die aria dramaties eindig Die voorlaaste noot is die bekende hoë B (op die “ce” van vincerò) wat Puccini as ’n kort (16de) noot geskryf het, en wat Francesco Merli in 1937 sodanig gesing het. Maar mettertyd het tenore op die B (en die daaropvolgende A – albei dramatiese en hoë note vir tenore) verlief geraak en dit begin rek: Jussi Björling, Mario Lanza, Franco Corelli en eindelik Luciano Pavarotti wat die rol van Calaf selde in ’n opera vertolk het, maar van Nessun dorma sy kenwysie gemaak het. Sy 1972-opname (’n goeie opname) van dié aria, wat die BBC in hul TV-dekking van die 1990 Fifa-sokkerwêreldbeker gebruik het, het grootliks daartoe bygedra. En toe Pavarotti saam met José Carreras en Plácido Domingo Nessun dorma tydens die sogenaamde Drie Tenorekonsert in Rome as toegif sing, was die vet in die vuur.
Die opname van dié konsert het driemalige platinumstatus in die VSA verwerf. Maak geen fout nie, Nessun dorma is meer as ’n catchy tune. Dit is dramaties, opswepend … en verdeksels moeilik. ’n Feit wat menige sanger nie in sy én – hou vas – háár pad laat staan het nie. Nadat Pavarotti en maters soos Michael Bolton en later die Brit Paul Potts (in die eerste reeks van ITV se Britain’s Got Talent) aangedurf het, het soprane, mezzo’s en wie nie almal nie dié Puccini vir roem gemelk.
Sarah Brightman het haar kenmerkende soet kwaliteit daaraan verleen; die ersatzmezzo Katherine Jenkins het dit probeer en ’n paar jaar gelede ook Lucy Kay, weer eens in Britain’s Got Talent. En glo dit of nie, toe Pavarotti in 1999 nie gesond genoeg was om op die Grammy-prysaand op te tree nie, het die soul-sangeres Aretha Franklin ingestem om Nessun dorma te sing. Van Puccini was daar min in dié vertolking. Gaan soek dit op die web. Dat Puccini nie sy opera op die verhoog gesien het nie, is ’n tragedie. Dat hy die talle “opera”-weergawes daarvan misgeloop het, is iets waaroor almal wat van opera hou, behoort te jubel.