‘Nadia Boulanger het alles geweet wat daar te weet is van musiek’
Deur JOHAN MYBURG
Wat het Aaron Copland, Roy Harris, Quincy Jones, John Eliot Gardiner, Elliott Carter, Dinu Lipatti, Igor Markevitch, Virgil Thomson, David Diamond, İdil Biret, Daniel Barenboim, Philip Glass en Astor Piazzolla gemeen? Benewens die feit dat hulle in verskillende rigtings vooraanstaande musici was, was hulle ook almal studente van Nadia Boulanger.
Nadia Boulanger (1887-1979) was as komponis en as dirigent bekend. Nietemin was dit as onderwyser/pedagoog waar sy waarskynlik die diepste spore in die musiekwêreld getrap het. Sy het aan roemryke instellings soos die Juilliard-skool in New York en die Royal College of Music in Londen klas gegee, maar dit was in haar woonstel in Parys waar sy tot en met haar dood op 92 vir studente klas gegee het en op dié manier geslagte van jong komponiste beïnvloed en help vorm het.
Iets hiervan kom deur in dié inskrywing in Piazzolla se memoires:
“Ek was te skaam om vir haar te sê ek is ‘n tango-musikus. Wat ek eindelik toegegee het, was: ‘Ek speel in ‘n nagklub.’ Ek wou nie sê kabaret nie.
“Sy het geantwoord: ‘Nagklub, mais oui, maar dit is kabaret, nie waar nie?’
“‘Ja,’ het ek geantwoord …
“Sy het bly vra: ‘Jy sê jy is nie ‘n pianis nie. Watter instrument bespeel jy dan?’
“Ek wou nie erken ek is ‘n bandoneón-speler nie want ek het gedink sy sou my by die venster uitgooi.
“Einde ten laaste het ek dit uitgeblaker en sy het my gevra om ‘n paar mates van my eie tango’s te speel. Sy het haar oë oopgemaak, my hand gevat en gesê: ‘Jou idioot! Dít is Piazzolla! Astor, jou klassieke stukke is alles goed geskryf, maar die ware Piazzolla is hiér. Moet dit tog nooit verwaarloos nie.’
“En binne twee sekondes het ek al die musiek wat ek tien jaar lank gekomponeer het net so laat vaar …”
Boulanger se openheid jeens musiek en die voorkeur van haar studente blyk verder uit die feit dat sy musici so uiteenlopend as byvoorbeeld Aaron Copland en Quincy Jones as studente kon hê.
LEES OOK: Klassieke klanke: Reneé Fleming
Sy het van 1908 tot 1918 klas in harmonie aan die Paryse konservatorium gegee, waar sy self studeer het, en hoewel sy in haar leeftyd Frankryk se bekendste musiekdosent was, is sy eers in 1948 tot volle professor bevorder.
In dié tyd – tot en met 1918, die jaar waarin haar jonger suster, die komponis Lili Boulanger, dood is – het sy ook nog gekomponeer, maar haar daarna op musiekonderrig toegespits. Toe sy in die vroeë 1920’s die VSA besoek het, het sy die eerste vrou geword wat die Boston Symphony sowel as die New York Philharmonic dirigeer het.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy haar in die VSA gevestig en daar aan die Longy School of Music in Cambridge en later ook aan die Peabody Conservatory in Baltimore klas gegee, waar klasse musiekgeskiedenis, harmonie, kontrapunt, orkestrasie en komposisie ingesluit het.
Wat was dit wat van Boulanger so ‘n besonderse musiekonderwyser gemaak het?
Die antwoord lê ten dele dalk in Copland se opmerking: “Nadia Boulanger het alles geweet wat daar van musiek te weet is: die oudste én die jongste musiek – dié voor Bach en dié ná Strawinski.
“Tegniese vaardigheid het sy in haar vingerpunte gehad: ʼn indringende kennis van en aanvoeling vir harmoniese transposisie; bladlees; orrelregistrasie; instrumentale tegniek; strukturele analise; die fuga in al sy vorms; die Griekse modusse én Gregoriaanse sang.”