Die Minnesota-orkes se eerste konsert in Suid-Afrika vind op 10 Augustus in Kaapstad plaas en daarna volg konserte in Durban, Pretoria, Soweto en Johannesburg
Deur JOHAN MYBURG
Die Minnesota-orkes onder leiding van sy musiekdirekteur en dirigent, Osmo Vänskä, besoek Suid-Afrika vandeesmaand op ’n kort konserttoer van vyf konserte. Dié besoek is die eerste deur ’n groot professionele Amerikaanse simfonie-orkes.
Die saadjie vir dié besoek is in 2014 geplant toe Vänskä hier was vir die viering van die 50ste bestaansjaar van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes waartydens hy die orkes saam met alumni van regoor die wêreld gedirigeer het. Die Minnesota-orkes se besoek is vir vanjaar gereël om met die viering van Nelson Mandela se 100ste verjaardag saam te val.
Die orkes, wat in 1903 as die Minneapolis- simfonie-orkes tot stand gekom het, heet sedert 1968 die Minnesota-orkes. Onder die leiding van Vänskä het die orkes die afgelope paar jaar vyf Europese toere onderneem en in 2015 die eerste Amerikaanse orkes geword wat Kuba besoek het. Die orkes het ’n lang tradisie van radiouitsendings en opnames. Die eerste radiouitsending was in 1923 met die vermaarde Bruno Walter as gasdirigent. Onder leiding van dirigente soos Antal Doráti en Stanislaw Skrowaczewski het die orkes ’n aantal uitsonderlike opnames gemaak.
In 2014 het die orkes onder leiding van Vänskä sy eerste Grammy gewen in die kategorie beste orkesoptrede vir die CD-opname van Sibelius se Simfonie no. 1 en no. 4. Vänskä, sedert 2003 aan die hoof van die Minnesota-orkes, se roemryke voorgangers was Emil Oberhoffer (1903–1922), Henri Verbrugghen (1923–1931), Eugene Ormandy (1931–1936), Dimitri Mitropoulos (1937–1949), Antal Dorati (1949–1960), Stanislaw Skrowaczewski (1960–1979), Neville Marriner (1979–1986), Edo de Waart (1986–1995) en Eiji Oue (1995–2002).
LEES OOK: Klassieke klanke: Johannesburg Filharmoniese Orkes
Die Minnesota-orkes se eerste konsert in Suid-Afrika vind op 10 Augustus in Kaapstad plaas en daarna volg konserte in Durban, Pretoria en Soweto. Die besoek word op 18 Augustus met ’n uitvoering in die Johannesburgse Stadsaal afgesluit. Vänskä bied ook meesterklasse in Pretoria aan. Daar is ’n sterk Suid-Afrikaanse klank in die program vir die vyf konserte, met die insluiting van Harmonia Ubuntu, ’n werk vir orkes en sopraan deur die Suid-Afrikaanse komponis Bongani Ndodana-Breen. Dié werk, geskoei op die woorde van Nelson Madela, is in opdrag van Classical Movements geskryf, die Amerikaanse konserttoergeselskap wat by die Minnesota-orkes se besoek betrokke is. Die solis is Goitsemang Lehobye. Ander soliste wat saam met die Minnesota-orkes optree, is Minette du Toit-Pearce, Siyabonga Maqungo en Njabulo Madlala.
Die program vir die konserte op 10 Augustus in die Kaapstadse Stadsaal, op 12 Augustus in die Durbanse Stadsaal en op 16 Augustus in die Aula in Pretoria lyk dieselfde: En saga, die toondig deur die Finse komponis Jean Sibelius; Harmonia Ubuntu deur Bongani Ndodana-Breen; die Candide-ouverture van Leonard Bernstein; en die Simfonie no. 5 in c, op. 67 deur Ludwig van Beethoven. Die konsert in die Universiteit van Pretoria se Aula is deel van dié universiteit se Musiekverrykingfees wat van 14 tot 19 Augustus aangebied word.
In die program vir die laaste twee konserte, dié op 17 Augustus in die Regina Mundi Rooms-Katolieke Kerk in Soweto en op 18 Augustus in die Johannesburgse Stadsaal, val die Sibelius weg, en ná die Ndodana-Breen en Bernstein volg die laaste beweging uit die Simfonie no. 9 van Beethoven. Die Minnesota Chorale en die Gauteng Choristers tree saam met genoemde soliste op. Die Soweto-program sluit ook verwerkings van tradisionele liedere in Sotho, Xhosa en Zoeloe in. Bespreek vir al dié konserte by Computicket