‘’n Mal man! ’n Mal man,’ was al wat ’n vrou in die gehoor kon uitkry. Toe Ravel later van haar reaksie vertel is, het hy opgemerk: ‘Dié vrou … het verstaan’
Deur JOHAN MYBURG
“Ek het ’n meesterstuk geskryf. Net jammer daar is g’n musiek daarin nie,” was Maurice Ravel se lakonieke opsomming van sy Bolero. Nietemin was dié opmerking duidelik nie genoeg om die werk te diskwalifiseer nie en Bolero het sy bekendste werk geword.
In 1928 was die Franse komponis 53 toe hy dié balletmusiek vir die Russiese danseres Ida Rubinstein geskryf het. Die eerste uitvoering, met choreografie deur Bronislawa Nijinska, suster van die beroemde Waslaw Nijinski, het in Parys se Opéra- Comique plaasgevind en die gehoor was raserig en oproerig toe die enkele crescendo, wat ná 17 minute eindelik sy piek bereik het, tot ’n einde kom. “’n Mal man! ’n Mal man,” was al wat ’n vrou in die gehoor kon uitkry. Toe Ravel later van haar reaksie vertel is, het hy opgemerk: “Dié vrou … het verstaan.”
Die gedagte om ’n komposisie uit ’n enkele tema op te bou wat met die toevoeging van meer en meer instrumente in harmoniese opbou kan uitgroei, was lank in Ravel se agterkop. Die resultaat was ’n tema wat deurgaans begrond word deur ’n klein trom, ’n modulasie van C na E en die uiteindelike vuurwerk waarmee die werk eindig. In ’n onderhoud het Ravel later gesê die werk is ’n eksperiment in ’n spesifieke en beperkte rigting en ’n mens moenie meer daarvan verwag as wat dit in werklikheid bied nie. Sy oogmerk was herhaling en nie ontwikkeling nie. Kort ná die Franse en Amerikaanse première van dié Bolero – bolero is ’n Spaanse dans in ¾-tyd wat van die 18de eeu dateer – het dit baie vinnig deel van die 20ste-eeuse populêre kultuur geword.
LEES OOK: Klassieke klanke: The King’s Singers
Dit is in menige rolprent as tema- en agtergrondmusiek gebruik (onder meer in 10 met Bo Derek), daar is ’n reggaeweergawe ontwikkel en in 1984 het die Britse ysskaatspaar Torvill en Dean dié musiek tydens hul sege op die Olimpiese Spele in Sarajevo gebruik. Ravel het nie baie musiek nagelaat nie. Daar is mense wat sê sy perfeksionisme het daartoe bygedra. Onder die meesterlike werk wat hy wel nagelaat het, is die volgende:
Pavane vir ’n dooie prinses – een van Ravel se gewildste komposisies vir klavier geskryf in 1899 toe hy onder Gabriel Fauré aan die Conservatoire de Paris gestudeer het. In 1910 het hy ook ’n orkesweergawe van dié pavane (’n stadige dans) geskryf. Ravel het met dié pavane ’n gevoel opgeroep van ’n dans wat ’n prinses van weleer aan ’n Spaanse hof sou gedans het.
Gaspard de la nuit – ’n virtuose klavierwerk in drie dele geskryf na gedigte van Aloysius Bertrand. Die première was in 1908 met die Spaanse pianis Ricardo Viñes, ’n lewenslange vriend van Ravel.
Daphnis et Chloé – waarskynlik Ravel se triomf, ’n ballet in drie bedrywe, ook genoem ’n “choreografiese simfonie” met ’n groot orkesbesetting. Dié werk is in opdrag van Sergei Diaghilev geskryf en die première was in 1912 in die Théâtre du Châtelet in Parys.
Boonop het Ravel orkesweergawes gemaak van klaviermusiek deur Schumann, Chabrier, Debussy en Moessorgski se Prente op ’n uitstalling – wat dalk meer bekend as die oorspronklike klavierweergawe geword het.
En moenie vergeet van die wonderlike Klavierkonsert in G nie (met die melancholies weerlose tweede beweging) en die Klavierkonsert vir die linkerhand in D wat hy vir die pianis Paul Wittgenstein geskryf het wat sy regterhand in die Eerste Wêreldoorlog verloor het.