Vanjaar was daar, anders as vorige jare, twee feeskomponiste wie se werk op die fees uitgevoer is – dié van Lungiswa Plaatjies en Matthijs van Dijk
Deur JOHAN MYBURG
Die tiende Johannesburg se Internasionale Mozart-fees (JIMF) is in Januarie in die Goudstad aangebied – ’n fees wat jaarliks op 27 Januarie, die geboortedag van Wolfgang Amadeus Mozart, begin en vir langer as ’n week ’n verskeidenheid musiekkonserte aanbied.
Met die titel Papageno/Papagena is die fees vanjaar weer met Florian Uhlig as artistieke direkteur en Richard Cock as uitvoerende direkteur aangebied. Vanjaar was daar, anders as vorige jare, twee feeskomponiste wie se werk op die fees uitgevoer is. Dié eer het Lungiswa Plaatjies en Matthijs van Dijk te beurt geval. Lungiswa Plaatjies was een van die komponiste wat verlede jaar onder leiding van Neo Muyanga, toe die JIMF se feeskomponis, aan ’n opleidingsprogram deelgeneem het met die oog daarop om Westerse kunsmusiek en dié van Afrika vermeng en verwerk te kry.
Die 44-jarige Plaatjies is bekend as ’n kenner van Afrika-musiek, met ’n belangstelling in die grondlae van dié musiek en spesifiek Xhosa-dansmusiek. Benewens haar suksesvolle loopbaan as sangeres is sy ook ’n bekwame instrumentalis wat ’n verskeidenheid tradisionele instrumente – soos die mbira, djembe, uhadi en die umrhubhe – deeglik onder die knie het. Haar eerste album, Ekhaya, is in 2000 in Engeland opgeneem en onlangs het sy haar vierde album, Ndiyahamba, uitgereik. Haar musiek het haar verskeie Sama- en Kora-benoemings besorg.
LEES OOK: Klassieke klanke: Cecilia Rangwanasha
Sy is in Langa in die Wes-Kaap gebore en musiek was van meet af aan deel van haar opvoeding. Die blootstelling wat sy op sewe gekry het toe sy deel geword het van haar oom Dizu Plaatjies se groep, Amampondo, beskou sy as ’n ongelooflike ervaring en inspirasie. In 2012 het sy saam met Muyanga aan sy opera The Flower of Shembe en in 2015 weer aan Heart of Redness gewerk. Die feit dat sy in Suid-Afrika nie so bekend is nie, pla haar nie. In ’n onderhoud vroeër het sy gesê: Musiek gaan nie oor roem nie. As ek deur musiek heling kan bring en mense aanraak, het ek my doel bereik.”
Tans werk sy saam met die ShhArtensemble, ’n kollektief bestaande uit komponiste en musici wat op die skryf en uitvoering van nuwe musiek (die rigting wat as new music bekend staan) fokus. Die ensemble, deur Matthjis van Dijk, Sarah Evans, Galina Juritz en Nicola du Toit begin, eksperimenteer vrylik met genres, instrumentasie en plekke waar hulle uitvoerings aanbied – met die oogmerk om ’n nuwe forum vir kuns- en geraasmusiek te bied, wat uiteraard gehore se ore beproef. Van Dijk (52), wat ook ’n violis is, het sy stempel as komponis afgedruk, iets wat hy sedert negejarige ouderdom doen, en het verskeie opdragwerke vir kamermusiekensembles en orkes geskryf – onder meer vir Jill Richards, die New Yorkse Clockwise-duo en die Maya-trio asook die Duitse Signum-kwartet wat die land verlede maand besoek het.
Hy het komposisie onder leiding van Peter Klatzow, Hendrik Hofmeyr en Peter Louis van Dijk aan die Universiteit van Kaapstad studeer en meesterklasse bygewoon wat deur onder andere Kevin Volans, Robert Fokkens en Richard Danielpour aangebied is. In 2003 het hy die Priaulx Rainier-prys vir komposisie (genoem na die Suid-Afrikaans- Britse komponis Ivy Priaulx Rainier) verower en in 2006 het hy die gesogte Samro-beurs vir oorsese studie in komposisie gewen. Van Dijk is al lank in die rolprentbedryf betrokke en in 2014 het hy die Suid- Afrikaanse rolprentorkes in samewerking met Simon Ratcliffe en Sound & Motion Studios begin in ’n poging om opnames van fliekklankbane in die land te bevorder.