“Ek het nooit van die verhoog afgestap en by myself gedink: ‘Dit was perfek’ nie”
Deur JOHAN MYBURG
In September het Kiri Te Kanawa, die Nieu-Seelandse sopraan met ’n loopbaan wat oor vyf dekades strek, die einde van haar openbare optredes aangekondig. Aan die BBC het sy gesê dit het haar vyf jaar geneem om by dié punt uit te kom.
Te Kanawa (73) het bygevoeg dat haar laaste optrede byna ’n jaar gelede in Ballarat in Australië was. In Oktober verlede jaar het sy, voordat sy op die verhoog gestap het, geweet: “Ek wil nie meer my stem hoor nie.” Sy het bygevoeg: “Ek het so ’n ongelooflike loopbaan gehad. Wanneer jy jong sangers oplei en jy hoor die mooi, vars stemme … ek wil nie myne naas hulle s’n plaas nie.” Dit was egter Te Kanawa se vertolking van die hoofrol in Vanessa, Samuel Barber se opera van 1958, wat allerweë as haar swanesang gesien is toe sy in 2004 dié rol vir die Los Angeles Opera vertolk het.
Daarna was sy ’n lang ruk nie in ’n opera te sien nie. Sy het haar meer toegelê op konserte, meesterklasse en steun aan jong sangers wat ’n loopbaan van sang wil maak. Vyf jaar later, in 2009, toe 65, het sy gesê sy vind optredes vermoeiend en dat die einde vir haar stem aangebreek het. Sy het wel ingestem om die volgende jaar die rol van die Marschallin in Richard Strauss se Der Rosenkavalier in Keulen te sing, en dat dit dan haar laaste opera sal wees – nadat sy eers “vaarwel gesê het aan die VSA” met ’n vertolking van die hertogin van Krakenthorp se praatrol in Donizetti se La fille de regiment in die New York Metropolitan Opera.
LEES OOK: klassieke klanke: Palau de la Musica Catalana
Laasgenoemde rol het sy in die Met se 2011/12-seisoen herhaal en die volgende jaar in Wene en in 2014 ook in Covent Garden. Sy was toe reeds 70. Maar dit was Te Kanawa se vertolking van gravin Rosina Almaviva in Mozart se Le nozze di Figaro in Covent Garden in Londen in 1971 wat haar van roem verseker het. Dié vertolking het sy in verskeie teaters herhaal en die volgende jaar Desdemona in Glasgow gesing toe sy skielik vir Teresa Stratas moes instaan. Daarna het sy haar debuut in Parys, Milaan, Salzburg, Wene en mettertyd ook in die VSA gemaak.
Groter blootstelling kon sy nie kry nie as met die huwelik van die prins van Wallis en lady Diana Spencer in 1981 toe 600 miljoen mense haar “Let the bright Seraphim” uit Handel se Samson sien sing het. Te Kanawa was oornag een van die bekendste soprane. Die volgende jaar het sy dame Kiri Te Kanawa geword. In 1991 het Te Kanawa “World in Union”, die temalied vir daardie jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi gesing en daarmee die vierde plek op die Britse trefferparade gehaal. Sy het die Kiri Te Kanawastigting op die been gebring, daarop gemik om talentvolle jong Nieu-Seelandse sangers en musici in staat te stel om hul drome na te jaag. In ’n onlangse onderhoud met die BBC het Te Kanawa erken dat sy, ondanks talle hoogtepunte in haar loopbaan, nooit heeltemal tevrede was met wat sy gedoen het nie. “Ek het nooit honderd persent behaal nie. Ek het nooit van die verhoog afgestap en gedink: ‘Dit was perfek nie.’ Nooit. Ek het altyd bly dink daar was iewers ’n fout.”