‘My oogmerk was nooit om Afrika-musiek te probeer verwesters nie – iets wat die populêre musiekbedryf reeds gedoen het’
Deur JOHAN MYBURG
“Ek kon my ore nie glo nie … Dit was musiek wat ek nog nooit voorheen gehoor het of kon versin nie,” het die Britse skrywer Bruce Chatwin oor die musiek van Kevin Volans gesê. “Dit het op niks of niemand teruggeval nie. Dit was net daar. Dit was vry en lewend … dit is die opperste toewydingsmusiek. Vir my is Kevin een van die vindingrykste komponiste sedert Stravinsky.”
In 1987, die jaar voor Chatwin se dood, het Volans aan hom geskryf en toestemming gevra om Song Lines, wat toe pas verskyn het, as die basis vir ’n opera te gebruik. Song Lines is Chatwin se optekening van die Australiese inboorlingegemeenskap se persoonlike verhale. Dié verhale het Chatwin gelees as metafoor vir die mens se behoefte om te reis (Wanderlust). Chatwin het ingestem en Volans het sy kameropera The Man with Footsoles of Wind in 1993 voltooi. Kevin Volans is in 1949 in Pietermaritzburg gebore en het sy musiekgraad in 1972 aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf.
Die volgende jaar is hy eers na Duitsland, waar hy tot 1981 gewoon het, en later het hy hom in Ierland gevestig, waar hy Ierse burgerskap aanvaar het. In Keulen het Volans van 1973 tot 1981 aan die Musikhochschule onder leiding van Karlheinz Stockhausen studeer en in 1975 het hy Stockhausen se klasgee-assistent geword. In 1979, ná etlike navorsingsbesoeke aan Suid-Afrika, het Volans ’n reeks stukke aan die hand van komposisionele tegnieke van Afrika gekomponeer. Dié projek het hom die volgende tien jaar besig gehou.
LEES OOK: Klassieke klanke: Maurice Ravel
In 1984 is hy as professor aan die internasionale musiekinstituut in Darmstadt aangestel. Volans se groot deurbraak as komponis het in 1986 met sy strykkwartet White Man Sleeps gekom. ’n Opname van dié werk deur die Kronos Quartet het eers in 1989 en toe weer in 1992 die grootste verkoper van ’n opname van ’n strykkwartet geword. ’n Konserttoer met dié werk het optredes op die Salzburg-fees, die Berlynse feesweek, die Montreal-jazzfees en die Interlink-fees in Tokio ingesluit. Oor White Man Sleeps het Volans opgemerk: “Ek het die stuk in 1982 in Durban geskryf as die derde in ’n reeks stukke wat ek gehoop het ’n versoening tussen Afrika- en Europese estetika kan wees.
My oogmerk was ’n multikulturele samelewing, een waarin die tradisies van verskillende kulture aan die orde kom, onderhou word en bowenal gedeel word.” Benewens Venda-, San-, Basotho- en Nyungwe-elemente is Barok en eietydse Westerse musiek in gelyke maat in dié stuk verteenwoordig. “My oogmerk was nooit om Afrika-musiek te probeer verwester nie – iets wat die populêre musiekbedryf reeds gedoen het. Ek wou die teenoorgestelde doen … amper iets soos om ’n Afrika-rekenaarvirus in die hart van eietydse Westerse musiek in te bring.
Waarop ek gefokus het, is goed soos die teenhiërargiese aard van Afrika-musiek, oop vorms, uitermate vinnige tempo in sommige stukke en toonkleur, energie en vreugde (aspekte wat so afwesig in Westerse musiek van die 1970’s en 1980’s is).” Volans het in 1984, op versoek van die Kronos-kwartet, White Man Sleeps, oorspronklik vir twee klavesimbels, viola da gamba en perkussie geskryf, vir vier strykers oorgeskryf. In 1997 het die BBC-musiektydskrif Volans as “een van die 50 belangrikste lewende komponiste” beskryf en die Village Voice het na hom as “een van die oorspronklikste en onvoorspelbaarste stemme op die planeet” verwys. Dit beaam Chatwin se siening.