Celebrating John Williams bring hulde aan die 87-jarige John Williams met ’n keur uit sy rolprentmusiek
Deur JOHAN MYBURG
In ‘n wêreld waarin die grense tussen kunsmusiek en rolprentmusiek vergly het, is John Williams een van die suksesvolste komponiste van die 20ste eeu. Dink maar aan sy musiek vir flieks soos Jaws, Star Wars, Superman, Indiana Jones, ET, Jurassic Park, Schindler’s List, Saving Private Ryan en drie van die Harry Potter-flieks.
Verlede maand het Deutsche Grammophon ‘n nuwe dubbelalbum van Williams se bekendste werk uitgereik, uitgevoer deur die Los Angeles Filharmonie onder leiding van Gustavo Dudamel. Dié CD, Celebrating John Williams, volg op die gelyknamige konserte wat die LA Phil met Dudamel op die podium in Januarie in die Walt Disney-konsertsaal in Los Angeles ter ere van die 87-jarige Williams aangebied het.
Die CD met 19 snitte val weg met die Olimpiese fanfare en tema wat Williams vir die 1984 Olimpiese Spele geskryf het en dan volg uittreksels uit Close Encounters of the Third Kind, Steven Spielberg se fliek van 1977; Out to Sea/The Shark Cage Fugue uit Jaws van 1975, ook van Spielberg; Hedwig’s Theme uit die 2001 se Harry Potter and the Philosopher’s Stone, met Chris Columbus as regisseur, en verskeie uittreksels uit George Lucas se Star Wars, onder meer The Imperial March uit Star Wars: Episode V – The Empire Strikes Back van 1980 met Irvin Kershner as regisseur.
Daar is ook The Flight to Neverland uit Hook van 1991, die Scherzo for Motorcycle and Orchestra uit Indiana Jones and the Last Crusade van 1989, albei met Spielberg as regisseur en die Superman March uit Richard Donner se Superman van 1978. Deur die jare het Williams 24 Grammys, sewe Baftas, vyf Oscars en vier Golden Globes ingeryg en met 51 Oscar-benoemings is hy naas Walt Disney die mees benoemde in die rolprentbedryf.
Sy eerste Oscar-benoeming het hy in 1967 vir Valley of the Dolls gekry en in 1971 het hy sy eerste Oscar-beeldjie vir sy musiekverwerking en oorspronklike musiek vir Fiddler on the Roof ontvang. 1974 het die jong Spielberg Williams gevra om musiek vir sy derde prent as regisseur, The Sugarland Express, te komponeer. Daarna het musiek vir Jaws gevolg, die tema met die twee lae note op die tuba gespeel wat mettertyd sinoniem geword het met gevare wat in die see skuil.
Spielberg en Williams het aan meer as 20 flieks saamgewerk, meer onlangs ook The Adventures of Tintin (2011), War Horse (2011) en Lincoln (2012). Hoewel Williams vir sy rolprentmusiek bekendheid verwerf het, het hy heelwat ander orkesmusiek, konserte vir verskeie solo-instrumente en kamermusiek geskryf. Hy is ook ‘n knap pianis. Pas nadat hy in sy 20’s aan die Juilliard-musiekskool in New York afstudeer het, het hy in Los Angeles ‘n ateljeemusikant geword en vir die klankbaan van flieks soos Some Like it Hot (1959) en To Kill a Mockingbird (1962) klavier gespeel.
Boonop werk hy dikwels as dirigent. In 1980 het hy die leisels by die Boston Pops-orkes oorgeneem. In 1993 het hy afgetree, maar steeds as dié orkes se eredirigent aangebly. Einde verlede jaar het Williams op 86 nog ingestem om die Londen-simfonieorkes in die Royal Albert Hall in ‘n uitvoering van sy werk te lei. Dié uitvoering asook een later saam met die Weense Filharmonie is op kort kennisgewing gekanselleer omdat sy gesondheid nie na wense was nie.