Vier besoekende dirigente sal vanjaar saam met die Johannesburg Filharmoniese Orkes optree
Deur JOHAN MYBURG
Foto Kirk Edwards
Die Johannesburg Filharmoniese Orkes, in die omgang bekend as die Johannesburg Philharmonic of die JPO, het sy seisoen vir die tweede kwartaal, of te wel die winterseisoen, aangekondig. Op vaste voet nadat die Stad Johannesburg besluit het om die JPO vir drie jaar te steun met R10 miljoen per jaar, het die orkes ’n stewige eerste seisoen vanjaar agter die rug en begin nou sy tweede seisoen van vier weke op 30 Mei. Dié seisoen duur tot 21 Junie. Vier besoekende dirigente tree op: Daniel Boico, Brandon Phillips, Conrad van Alphen en Cathrine Winnes. Die vier soliste is Charl du Plessis (klavier), Alexander Buzlov (tjello), Nikita Boriso-Glebsky (viool) en Spencer Myer (klavier).
Die program vir 30 en 31 Mei begin met Dmitri Sjostakowitsj se Feesouverture, op. 96, gevolg deur George Gershwin se Klavierkonsert in F met Du Plessis voor die Linder se vleuel. Die hoofwerk is Pyotr Iljitsj Tsjaikowski se Simfonie no. 1 in g, die simfonie met die bynaam “Winterdagdrome”. Boico, die dirigent in dié eerste week, word wyd geloof vir sy dinamiese, opwindende en verbeeldingryke benadering tot orkesliteratuur. Musiek was nog altyd deel van sy lewe – sy pa was die konsertmeester van die Orchestre de Paris en sy ma ’n pianis. Hy is ’n voormalige liriese tenoor en het sy sangopleiding aan die universiteit van Wisconsin ontvang, waarna hy komposisie en orkestrasie onder leiding van Victor Yampolsky gestudeer het en later sy studie in St. Petersburg onder leiding van Ilya Musin voortgesit het.
LEES OOK: Klassieke klanke: Kiri Te Kanawa
Die konsert op 6 en 7 Junie gryp ’n bietjie verder terug as die eerste een met Ludwig van Beethoven se Egmont-ouverture en daarna die 19de-eeuse Franse komponis Édouard-Victoire-Antoine Lalo se Tjellokonsert in d, met die Rus Buzlov as solis. Die hoofwerk is Robert Schumann se Simfonie no. 3 in E-mol, op. 97, die “Rynse simfonie”. Phillips (37) het in 2010 die Kaapstadse Filharmonie se eerste Len van Zyl-dirigeerkompetisie gewen en in 2014 die Miagi-jeugorkes in Nederland, Duitsland en Swede met groot sukses gelei. Die 32-jarige Boriso-Glebsky, ’n Russiese violis, is die solis in Jean Sibelius se Vioolkonsert in d, op. 47. Die uitvoering begin met Felix Mendelssohn se Ruy Blas-ouverture, op. 95. Mendelssohn het dié ouverture op versoek van die Leipzig-teater se pensioenfonds geskryf. Dit is ’n emosiebelaaide, tipies Romantiese ouverture wat hy in die bestek van drie dae geskryf het.
Die hoofwerk is Antonin Dvořák se Simfonie no. 5 in F, op. 76. Van Alphen is die dirigent. Vir die laaste konsert in dié seisoen is die dienste van die Noorweegse dirigent Cathrine Winnes bekom. Sy is die artistieke direkteur van die simfonieorkes van die Oslo-universiteit en het verlede jaar haar debuut met die Koninklike Filharmonie in Stockholm gemaak. Dié konsert op 20 en 21 Junie begin met Mikhail Glinka se ouverture “Somernag in Madrid”, gevolg deur Edvard Grieg se Klavierkonsert in a, op. 16 met Spencer Myer, ’n Amerikaanse pianis, as solis. Die hoofwerk is Nikolai Rimski-Korsakof se Scheherazade, op. 35, die simfoniese suite geskoei op “1001 nagte”, ook bekend as “Die Arabiese nagte”. Die program is onderhewig aan verandering. Die konserte begin om 20:00 in die Linder-ouditorum in Parktown in Johannesburg en kaartjies is beskikbaar by Computicket. Kaartjiepryse wissel van R184 tot R345.