‘Ek was nog altyd as ’n bariton geklassifiseer. Dit lyk nou asof ek in werklikheid ’n tenoor is,’ sê Johannes Slabbert
Deur JOHAN MYBURG
Die rits baritonrolle wat Johannes Slabbert die afgelope paar jaar so suksesvol sy eie gemaak het, kan dalk binnekort iets van die verlede wees. ’n Maand of twee gelede het Slabbert tydens ’n uitvoering in Nelspruit aangedui sy kop (of stem) staan tenoor se kant toe.
In ’n kort loopbaan – hy is 25 jaar oud – het Slabbert onder meer verlede jaar die rol van Morales in Bizet se Carmen vertolk (“’n Wulpse Morales,” het ’n Kaapse dagblad in ’n resensie geskryf); dié van graaf Almavia in Mozart se Le nozze di Figaro; en in 2015 dié van Giorgio Germont, Alfredo se pa, in Verdi se La traviata. “Tot dusver het ek die rolle gesing van die man wat nié die meisie kry nie of van die een wat ’n demper op liefde plaas.” Dis gewoonlik die rolle wat baritons in operas kry om te sing.
Aan die begin van die jaar het Slabbert, wat by ’n nuwe sangdosent begin klas neem het, meer aandag begin gee aan werke geskryf vir tenoorstemme, “dié wat sing van die liefde en in talle ontboesemings daarvan oorloop”. Einde verlede jaar het Slabbert vir Kaapstad Opera die titelrol in Monteverdi se Orfeo vertolk, ’n rol wat vir tenoor of hoë bariton geskryf is. In die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se program Klassieke kamers het Slabbert ’n program gesing wat uit musiek vir tenore bestaan. “Ek was nog altyd as ’n bariton geklassifiseer. Dit lyk nou asof ek in werklikheid ’n tenoor is,” het hy gesê. Liedere wat hy in dié program ingesluit het, was Dein ist mein ganzes Herz, deur die tenoor Richard Tauber beroemd gemaak, en die tenoorgunsteling, die Napolitaanse lied O sole mio.
LEES OOK: Klassieke klanke: Hendrik Hofmeyr
Ses maande later was die donker baritonregister nog bepalend, maar ’n mens hou graag ’n oog op dié nuwe rigting wat hy inslaan. As sangstudent aan die Universiteit van Kaapstad se operaskool en met die sangdosente George Stevens en Kamal Khan het hy sy eerste operarol, dié van Schaunard in Puccini se La bohème, vertolk en in 2011 ook die Ruth Ormond-sangprys verower. In 2013 het Slabbert die hoofrol in Don Giovanni alla breve vertolk, ’n verkorte, gedramatiseerde konsertweergawe van die Mozart-opera.
Ná aanbiedings vir die Darling Music Experience in dié Wes-Kaapse dorp is dié produksie onder meer ook in Londen aangebied. ’n Londense resensie het verwys na Slabbert se “vokale statuur wat heelwat groter as dié van ’n 22-jarige is”. In 2014, die jaar waarin hy sy musiekgraad behaal het, was hy die wenner van die Angelo Gobbato-beurs vir nagraadse studie asook van die ATKV se Muziqanto, ’n nasionale klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse sangers. Ná sy studie aan die UK het hy sy meestersgraad in musikologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf waar hy tans ’n sangdosent is.
Vroeër vanjaar het hy met sy doktorale studie in musikologie aan die Noordwes- Universiteit begin. Hy is steeds lid van Kaapstad Opera en hy gee ook sangles by ’n paar Wes-Kaapse private skole. Benewens ’n verskeidenheid operarolle hier sowel as in die buiteland het Slabbert ook in verskeie oratoriums gesing, onder meer die Mozart- en Durufle-requiem, Bach se Matteus-Passie en Brahms se Ein Deutsches Requiem. Slabbert se belangstelling in dirigeerwerk kom gereeld tot uiting wanneer hy die jaarlikse AGL Opera Gala-reeks in Kaapstad dirigeer.