’n Kitaar is ’n instrument met die stert van ’n klavier, die vlerke van ’n harp en die siel van, wel, ’n kitaar, het Joaquín Rodrigo geglo
Deur JOHAN MYBURG
Net meer as 40 km suid van Madrid, die Spaanse hoofstad, lê Aranjuez, ’n stadjie wat in 2001 deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar is – juis vanweë die lushof wat oor eeue heen hier tot stand gebring is.Dit was koning Felipe II wat die bestaande paleis, wat uit die 14de eeu dateer, laat opknap het en in 1560 Nederlandse tuiniers (en fonteinbouers) gekry het om ’n Italiaanse Renaissance-tuin aan te lê.
In 1613 het hy honderde bome laat aanplant, onder meer olm, iep, kastaiing, okkerneut en moerbei. In Spanje se warm en droë klimaat is twee elemente onontbeerlik: bome en water. Ná Felipe se dood is die paleis telkemale vergroot (altyd met Versailles in gedagte) en die tuine is uitgebrei. Tot en met 1752 was Aranjuez uitsluitlik vir koninklike gebruik bedoel en slegs koninklikes en adellikes kon in dié dorpie woon. Wanneer die Spaanse lente aanbreek, staan die vallei om die Taagrivier geil in die blom en is Aranjuez ’n oase in die dor landskap.
In die 1930’s, die tyd toe die Spaanse komponis Joaquín Rodrigo (1901–1999) Aranjuez besoek het – hy was in 1933 daar op sy wittebrood – was die stad dalk minder indrukwekkend as in vorige eeue. Alfonso XIII het in 1931 van die kroon afstand gedoen en kort daarna het die Spaanse burgeroorlog uitgebreek. Maar dit was die herinneringe aan die glorieryke Aranjuez, die betowerende plek met voëlgesang en murmelende water, met geurige blomme en bome gelaai met vrugte, wat Rodrigo in gedagte gehad het toe hy sy kitaarkonsert, Concierto de Aranjuez, in 1938 in Parys in Braille geskryf het. Rodrigo het in 1905 op driejarige ouderdom witseerkeel opgedoen en was daarna blind.
Dié tragedie het moontlik tot sy musiekloopbaan gelei, het hy later self opgemerk. Die hele konsert, en nie net die bekende tweede beweging nie, verbeeld die Spaanse wêreld, en by name dié van Aranjuez, so helder dat mens dit as ’t ware kan ruik. In die tekstuur van die musiek is elemente van flamenco en dansritmes ingeweef. “Om te sê ‘dans’, is om te sê ‘ritme’, en ‘ritme’ in Spaanse beteken ‘kitaar’,” het Rodrigo gesê. En “kitaar” het hy beskryf as “’n instrument met die stert van ’n klavier, die vlerke van ’n harp en die siel van, wel, ’n kitaar”.
Benewens die meesleurende skoonheid van die Concierto de Aranjuez word dié konsert ook as die belangrikste klassieke werk uit Spanje gesien. Die onmiddellike sukses het tot vele opdragwerke met vermaarde soliste gelei – soos die Concierto serenata vir harp en orkes wat vir Nicanor Zabaletta geskryf is en die Fantasía para un gentilhombre wat vir Andrés Segovia geskryf is. Van die Concierto de Aranjuez bestaan daar verskeie wonderlike opnames. As ek een moet uitsonder, sal dit die een wees met Pepe Romero as solis saam met die Academy of St Martin in the Fields met sir Neville Marriner as dirigent. Romero is nommerpas in sy vergestalting van die poëtiese kwaliteite en daarby is sy spel vlekkeloos.
Marriner skep ’n rykgeskakeerde klanklandskap en bied die struktuur waarbinne die kitaar, soos met die vlerke van ’n harp, na hartelus kan vlieg. Met Rodrigo se 90ste verjaardag het Larry Weinstein die dokumentêre program Shadows and Light, Joaquín Rodrigo at 90 gemaak wat met onderskrifte in Engels op YouTube beskikbaar is.