Op 22 durf die Britse pianis Isata Kanneh-Mason die musiek van Clara Schumann aan as ’n huldeblyk ter herdenking van dié komponis se 200ste geboortedag
Deur JOHAN MYBURG
Op 20 was Clara Wieck (1819-1896), later bekend as Clara Schumann, ‘n gerekende pianis in ‘n wêreld wat deur mans as pianiste en komponiste oorheers is. As wonderkind het sy op nege haar eerste openbare uitvoering gegee en daarna ‘n konsertreis deur Europa onderneem. Haar klavierkonsert het sy op 14 geskryf en daarna ook Lieder, kamermusiek en solostukke vir klavier.
Bykans dieselfde ouderdom as wat Clara destyds was, durf die Britse pianis Isata Kanneh-Mason op 22 die musiek van dié komponis aan vir ‘n album uitgegee deur Decca ter herdenking van dié komponis se 200ste geboortedag. In die CD, Romance, sluit Kanneh-Mason genoemde Klavierkonsert, op. 7 in a, in, in ‘n opname met die Royal Liverpool-filharmonie onder leiding van Holly Mathieson. Ook ingesluit is die Drie romanses vir viool en klavier, op. 22 saam met die violis Elena Urioste. Daarbenewens is ook musiek uit verskeie fases in Schumann se lewe ingesluit.
Kanneh-Mason is ‘n nagraadse student aan die Royal Academy of Music, en het in 2014 die Walter Todd-beurs vir die belowendste student ontvang. Die opname van dié CD met Schumann-musiek het Kanneh-Mason as ‘n groot voorreg bestempel. “Wat my van haar opval,” sê sy, “is Schumann se ongelooflike krag. Sy het nie net ‘n lang en veeleisende konsertloopbaan – iets ongehoords vir haar tyd – gehad nie, maar ondanks vele terugslae en onvoorspelbare tragedies ook ‘n groot gesin aan die gang gehou.
“Ek kom ook uit ’n groot gesin, en ek is gelukkig om reg deur my lewe nog altyd deur talle sterk en inspirerende vroue omring te kon wees.”Kanneh-Mason is die oudste van sewe kinders en haar sibbe is inderdaad talentvolle musici in eie reg. Haar een broer, die tjellis Sheku Kanneh-Mason, is in 2016 as die BBC Young Musician of the Year aangewys. Intussen het hy ook by die Baftas en die Proms opgetree en ‘n album, Inspiration, uitgereik – een wat boonop besonder goed verkoop. Sy roem het verlede jaar ‘n verdere hupstoot gekry met sy optrede by die huweliksbevestiging van die hertog en hertogin van Sussex.
Kort voor haar 21ste verjaardag is Clara Wieck met die komponis Robert Schumann getroud. Sy het agt kinders in die wêreld gebring en ná haar man se siekte en dood op 46 moes sy die pot aan die kook hou. Sy het vroeg in haar dertigerjare ophou komponeer. Haar man het die situasie só verwoord: “Om kinders te hê én ‘n man wat altoos in ‘n verbeeldingswêreld lewe, rym nie met komponeer nie. Sy kan nie voluit daaraan werk nie, en wonder dikwels hoeveel wonderlike idees het verlore gegaan omdat sy nie daaraan uiting kon gee nie.”
Self het sy opgemerk: “Ek het in ʼn stadium geglo ek het kreatiewe talent, maar ek het dié gedagte prysgegee. ‘n Vrou moenie ‘n begeerte hê om musiek te skryf nie. Daar was nog nooit een wat dit kon regkry nie. Kan ek verwag om die een te wees?” Sy het gereeld konsertreise onderneem en kort ná haar man se dood is sy saam met die violis Joseph Joachim, ‘n goeie vriend van die Schumanns, op ‘n konserttoer na Dresden, Leipzig en München. Op dié manier kon sy haar kinders onderhou. In 1878 het sy ‘n pos aan die konservatorium in Frankfurt aanvaar. Sy het haar laaste uitvoering in 1891 gegee, vyf jaar voor haar dood op 77.