Dit was 29 Mei 1913 die aand toe pandemonium tydens ’n ballet-première in Parys se Théâtre de Champs-Élysées uitgebreek het. Die gehoor het só tekere gegaan dat die dansers die orkes nie kon hoor nie.
Deur JOHAN MYBURG
Die choreograaf moes op die syverhoog die telling uitskree sodat die opvoering kon aangaan. Die dansers was lede van Sergei Diaghilev se geselskap Ballets Russes en die choreograaf was niemand anders nie as Vaslav Nijinsky. Die werk? Igor Strawinsky se Le sacre du printemps (Die rite van die lente), die verhaal van ‘n jong meisie wat tydens ‘n paganistiese rite dans tot sy dood neerslaan as offerande om ‘n geseënde lente te verseker.
Diaghilev hét immers in ‘n persverklaring dié nuwe produksie beskryf as “‘n nuwe sensasie wat ongetwyfeld hewige debat gaan uitlok”. Hy was nie verkeerd nie. As Strawinski se musiek elemente bevat het wat ‘n primitiewe konteks daargestel het, het Nijinsky dit in sy danswerk geëwenaar. Watter deel die skokkendste vir die eerste gehoor was, is moeilik om te bepaal. Gehore was aan soepel en grasieuse ballette van Tsjaikowski en Chopin gewoond.
Die oerritmes van Nijinsky en die polsende musiek van Strawinski was anders as enigiets wat voorheen ervaar is. In musiek sowel as dans is dit ‘n rou aardsheid wat in dié werk seëvier, en wat, as dit met oorgawe uitgevoer word, steeds aangrypend (indien nie skokkend nie) is. Die gehoor se gemor was blykbaar reg van die begin af hoorbaar, van die aanvangslied van die solo-fagot tot die opruiende middeldeel en die dawerende einde.
Jare later het Lydia Sokolova, wat daardie aand die hoofrol gedans het, in ’n onderhoud vertel presies hóé moeilik dit was om kop te hou. Want sonder die oproer in die gehoor is die werk op sigself oproerig genoeg! Roman Vlad, kenner en biograaf van Strawinsky, het ná die uitvoering opgemerk: “Niemand het voorheen nog sulke musiek gehoor nie. Musiek wat skynbaar die gewyde begrippe van skoonheid, harmonie, tonaliteit en uitdrukking oorboord gooi. G’n gehoor is al voorheen aan sulke brutale, barbaarse, aggressiewe en oënskynlik chaotiese klanke blootgestel nie. Dit het die gehoor soos ‘n orkaan, soos ‘n onbeheerbare oerkrag getref.”
Wat die 31-jarige Strawinski in dié werk vermag het, is om van ‘n orkes ‘n “offerande-masjien” te maak, ‘n musiekgedierte wat as ’t ware voortploeg en alles in sy pad verslind – die meisie, die orkes … en die gehoor. Hou ‘n mens in gedagte dat die Eerste Wêreldoorlog ‘n jaar later sou uitbreek, is Le sacre du printemps des te meer ‘n aanduiding van grusame offers.
Igor Strawinski (1882-1971) het met behulp van verskeie stylbenaderings ‘n eie stem in 20ste-eeuse klassieke musiek verwerf, hoofsaaklik op Russiese tradisies geskoei. Dit was deur Strawinski se toedoen dat Russiese musiek aansien as ‘n uitdrukkingswyse in moderne musiek verwerf het.
Dit beteken egter nie dat hy deurgaans in die USSR gewild was nie. Vanaf 1932 was uitvoerings van sy musiek 30 jaar lank in dié land verbied. Dit was eers in 1962 dat Nikita Chroesjtsjof ‘n uitnodiging aan Strawinsky, wat toe in die VSA gewoon het, gerig het om die USSR amptelik te besoek. In 1972 het die Sowjet-minister van kultuur musici in dié land aangemoedig om Strawinsky te “bestudeer en te bewonder”.
Sy belangrikste werke sluit in Die vuurvoël, Petroesjka, Oedipus Rex, Simfonie van psalms en The Rake’s Progress.
0609 vk1 igor
Pablo Picasso se portret van Igor Strawinski.