‘Ek kook my wyn en drink dit koud gemeng met Fuchsia-sap. Ek het ‘n goeie aptyt, maar praat nooit terwyl ek eet nie uit vrees dat ek myself kan verwurg’
Deur JOHAN MYBURG
Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ’n rolprentvervaardiger munt uit die lewensverhaal van Erik Satie gaan slaan. Dat dit nog nie in die era van die biopic gebeur het nie, is eintlik verstommend.
In soveel opsigte het die verhaal van die Franse komponis Erik Satie (1866–1925) al die elemente wat kykers sal boei: Benewens die musiek – veral die Gymnopédies en die Gnossiennes wat wyd bekend is en ‘n perfekte klankbaan kan vorm – was Satie, om dit sagkens te stel, eksentriek. Hy het byvoorbeeld net kos geëet wat wit is, hy het die bynaam “fluweelheer” gekry omdat hy dag in en dag uit onberispelik in ’n fluweelpak op straat verskyn het, en hy het 27 jaar lank in ‘n armoedige kamertjie aan die buitewyke van Parys gewoon sonder dat enigiemand tydens sy leeftyd die binnekant daarvan gesien het.
In sy boek, wat vertaal is as Memoirs of an Amnesiac, beskryf Erik Satie sy dieet: “My enigste voedingswaarde kom van wit kos: eiers, suiker, bone, diervet, kalfsvleis, sout, klapper, hoender opgekook in water, skimmelvrugte, rys, rape, wors in kanfer, pastei, wit kaas en sekere soorte vis (sonder vel). Ek kook my wyn en drink dit koud gemeng met Fuchsia-sap. Ek het ’n goeie aptyt, maar praat nooit terwyl ek eet nie uit vrees dat ek myself kan verwurg.” Op 13 het Satie aan die Paryse Conservatoire begin studeer, maar nie wafferse rapporte gekry nie.
LEES OOK: Klassieke klanke: Zuill Bailey
Sy tegniek is beskryf as “onbeduidend” en “nutteloos” en hy het as “die luiste student aan die konservatorium” bekend gestaan. Sy klavierdosent het hom egter aangeraai om hom op komposisie toe te spits en op 22 het Satie sy Gymnopédies geskryf – drie atmosferiese stukke vir klavier met dié onderskeidelike spelaanduidings: gepynigd, weemoedig en swaarmoedig. Wat “gymnopédies” beteken, is nie heeltemal seker nie. Dit kan na ‘n soort dans, ‘n dans of parade vir kinders in ‘n gimnasium, ‘n krygsdans of ‘n godsdienstige ritueel verwys.
Moontlik lê die betekenis wat Satie aan die woord geheg het tussen dié moontlikhede. In 1889 en die jare daarna het sy ander bekende klavierwerk, Gnossiennes, gevolg. Ook dié titel verraai min van die betekenis. Moontlik verwys dit na die een of ander gnostiese sekte waaraan Satie behoort het of belang by gehad het. Godsdiens was immers tot in ’n stadium ‘n bepalende invloed in sy lewe. Hy het hom eens by die Rosekruisers geskaar en later was hy die enigste lid van die Metropolitaanse Kerk van Jesus die Dirigent wat hy in die lewe geroep het. In 1893 het hy ’n verhouding met die skilder Suzanne Valadon aangeknoop.
Sy Danses gothiques spruit uit dié tyd. Ná ses maande het Valadon die verhouding beëindig en Satie het sy blyplek in Montmartre prysgegee en na Arcueil, sowat vyf kilometer buite Parys, uitgewyk. ‘n Erflating wat hom in 1895 te beurt geval het, het opgeraak en hy het sy brood as kabaretpianis verdien. Sy ontmoeting met die skrywer Jean Cocteau in 1915 het tot samewerkingsooreenkomste vir die verhoog gelei. Benewens werk aan Shakespeare se Midsummer Night’s Dream het hy die volgende jaar die musiek vir Parade verskaf wat in 1917 met Sergei Diaghilev se Ballet Russes met kostuumontwerp deur Pablo Picasso aangebied is. Ná jare van kwaai drink is Satie in 1925 aan lewersirrose dood. In sy blyplek is, afgesien van honderde sambrele en twee vleuelklaviere, die een bo-op die ander, verskeie komposisies gevind waarvan niemand geweet het nie.