Die Zauberflöte het nog nooit sy sjarme as ‘sprokie vir volwassenes’ verloor nie. Boonop het dié opera van die bekendste musiek in die operawêreld opgelewer
Deur JOHAN MYBURG
Kaapstad Opera se aanbieding van Wolfgang Amadeus Mozart se opera Die Zauberflöte begin volgende maand en strek tot vroeg in Desember. Matthew Wild is die regisseur van dié produksie met ’n rolverdeling wat uit jong sangers van die Universiteit van Kaapstad se operaskool bestaan.
Die eerste uitvoering van dié opera was op 30 September 1791 in Wene. Voor Mozart se dood twee maande later, is dit herhaaldelik uitgevoer en mettertyd het dié opera ’n gehoorgunsteling geword. Dit is as Mozart se gewildste én beste opera beskryf. Milton Cross, ’n Amerikaanse radioomroeper vir NBC en ABC, het die sukses van die opera só beskryf: “Mozart gebruik in dié opera eenvoudige Duits, anders as die gebruiklike Italiaans, en bekende volkswysies en die verhaal is ’n hutspot van politieke satire, Vrymesselaar-simboliek en naïewe humor geplaas teen Egipte as agtergrond.”
As daar een aspek van Mozart is wat Peter Shaffer in sy fliek Amadeus knap vasgevang het, is dit Mozart as die uitgelate genie wat so ’n hoë premie op pret geplaas het. Nêrens kom dit so goed na vore as in sy operas nie, veral sy Duitse operas in die tradisie van die Duitse Singspiel, ’n vorm van musiekkomedie. Hy en sy librettoskrywer Emanuel Schikaneder het uit dié tradisie geput, maar dit uiteraard aangepas en verfyn.
LEES OOK: Klassieke klanke: The King’s Singers
Wat ’n mens nie uit die oog moet verloor nie, is dat 1791 ’n skamele twee jaar ná die bestorming van die Bastille was en twee jaar voor die dood van Marie Antoinette (suster van die Oostenrykse keiser Josef II). Dit was ’n tyd toe die monargie in die spervuur was en Mozart het slim munt geslaan uit sy voorstelling van Tamino as’n prins. Die herstel van die monargie in Frankryk was teen 1791 vir baie mense steeds ’n opsie en Die Zauberflöte het dié vlammetjie dalk help aanblaas.
Vir iemand soos Cross ly dit geen twyfel nie dat die tempel van Isis in dié opera vir die Vrymesselary staan; dat Pamina die room van Oostenryk verteenwoordig en dat die Koningin van die Nag ’n parodie op Maria Teresa, die voormalige Oostenrykse keiserin, is. Hoe ook al, Die Zauberflöte het nog nooit sy sjarme as “sprokie vir volwassenes” verloor nie. Boonop het dié opera van die bekendste musiek in die operawêreld opgelewer.
Dink maar aan die aria van die Koningin van die Nag in die tweede bedryf, Der Hölle Rache, waarin die koningin (vertolk deur ’n koloratuursopraan) siedend van woede sing en waarin sy haar dogter, Pamina, por om van Sarastro, die koningin se aartsvyand, ontslae te raak. Benewens die feit dat sy ’n hele paar keer bykans twee en ’n halwe oktaaf bó middel-C gaan draai, kan dié aria ’n sopraan heel insluk as haar konsentrasie vir ’n enkele oomblik sou weifel. Só is daar al van dié aria gesê.
Hoewel daar etlike voortreflike opnames van dié aria is, is dié van Diana Damrau in die BBC-opname met sir Colin Davis as dirigent en David McVicar as regisseur uitsonderlik. Dié opname is op DVD beskikbaar. Maar daar is ook die ewe uitdagende aria van Sarastro waar die bas weer een en ’n halwe oktaaf onder middel-C moet kan haal.