Daar is kwalik iets meer frustrerends as wanner ’n koloratuur dié aria baasraak, maar nalaat om ’n mens bang te maak
Deur JOHAN MYBURG
Dat Der Hölle Rache, die aria van die Koningin van die Nag in die tweede bedryf van Mozart se opera Die Zauberflöte (vertaal as Die towerfluit), ’n kragtoer is, twyfel niemand nie. Benewens die feit dat die koloratuursopraan wat dié rol vertolk, ’n hele paar keer bykans twee en ’n halwe oktaaf bó middel-C gaan draai en dié aria ’n sopraan op ’n tegniese vlak heel kan insluk as haar konsentrasie vir ’n enkele oomblik sou weifel, vereis dié rol ook ’n helleveeg aan die woord.
Daar is kwalik iets meer frustrerends as wanner ’n koloratuur dié aria baasraak, maar nalaat om ’n mens bang te maak. Die Koningin van die Nag is immers siedend van woede besig om haar dogter, Pamina, te por om van Sarastro, haar aartsvyand, ontslae te raak. Vir dié doel prop sy Pamina ’n dolk in die hand. “Wraak uit die hel kook in my hart …” begin sy die aria. Diana Damrau, die Duitse koloratuursopraan wat populêr gesproke al as “die Meryl Streep van klassieke musiek” beskryf is, is uitgeknip vir dié rol en het sedert haar debuut in 2003 as die koningin in Londen se Royal Opera dié rol haar eie gemaak.
Sy het dit in meer as 15 verskillende produksies gesing, onder meer in die BBC-opname met sir Colin Davis as dirigent en David McVicar as regisseur – ’n opname wat op DVD beskikbaar is en ook op You- Tube te sien is. Dit is juis die kombinasie van uitsonderlike stem en boeiende verhoogvertolking wat haar so ’n gesogte operavertolker maak. Sy is ’n gereelde gas by die voorste operageselskappe en in 2007 is sy as die Bayerische Kammersängerin aangewys, ’n eretitel van die Beierse Opera. In 2014 het Opera, die internasionale musiektydskrif, haar as beste sangeres aangewys.
LEES OOK: Klassieke klanke: Nadia Boulanger
Damrau (46) het in Würtzburg en Salzburg studeer en haar professionele debuut as Barbarina in Mozart se Le nozze di Figaro in die Würzburg-staatsteater gemaak. Sy het terstond ’n lid van dié teater se ensemble geword en daarna die een na die ander verhoog betree: dié van La Scala in Milaan, die Metropolitan in New York, die Paris Opéra, die Beierse staatsopera, die Deutsche Oper in Berlyn en die Weense staatsopera. Haar repertorium sluit in die rolle van Gilda (Rigoletto), Violetta, Amina (La sonnambula), Moll Hackabout (A Harlot’s Progress), Philine (Mignon), Elvira (I puritani), Linda di Chamounix, Donna Anna (Don Giovanni) en ook die naamrol in Lucia di Lammermoor.
Dié rol het sy ook in 2016 in die opspraakwekkende weergawe van die Royal Opera in Londen en met Katie Mitchell as regisseur gesing. Mitchell het dié aanbieding as ’n ondersoek van vroeg-Victoriaanse gender-politiek en die opkoms van feminisme benader. Haar inkleding van die waansintoneel in dié Donizetti-tragedie is in ’n resensie as ’n vertolking waarin “elke frase diep sielkundige weerklank dra” beskryf. Benewens haar bekwaamheid as operasangeres het sy haar as een van die voorste Lieder-sangeresse van haar dag bewys.
Vroeër vanjaar het sy saam met die tenoor Jonas Kaufmann ’n uitvoering van Lieder in Londen se Barbican gegee. Een resensent het só na haar voordrag van liedere deur Hugo Wolf uit sy Italienisches Liederbuch verwys: “Damrau se silwergespinde stem het gekruip tot in die kleinste hoekies en uitdrukking van dié klein liedere, by tye dig gesluierd, dan weer stiletto-skerp, nou verruklik platvloers en dan weer gebleik tot die broosste reinheid.”