Nadesjda von Meck, die welgestelde Russiese vrou wat veral bekend is vir haar finansiële steun aan Pjotr Iljitsj Tsjaikofski, het ook die lewe van die jong Franse komponis Claude Debussy (1862–1918) beïnvloed
Deur JOHAN MYBURG
Van 1880 tot 1882 het die jong Debussy tydens haar jaarlikse somerbesoeke aan Europa saam met haar en haar gesin gereis en vir haar kinders musiekles gegee. Hy het ook saam met haar in uitvoerings in private konserte vir haar vriende opgetree. Debussy was in 1880 pas 18.
In September 1880 het sy Debussy se Danse bohémienne (Boheemse dans) vir Tsjaikofski aangestuur om kommentaar te lewer. Hy was besonder kortaf in sy terugvoer: “Dit is ʼn fraai stuk, maar dit is gans te kort. G’n enkele idee is uitgewerk nie, die vorm is droog en daar is geen eenheid in die stuk nie.”
Die stuk is eers in 1932, lank ná Debussy se dood, gepubliseer.
Ondanks dié kritiek het Debussy in 1884 sy kantate L’enfant prodigue (Die verlore seun) vir ‘n kompetisie vir komponiste in Rome ingeskryf en as wenner geseëvier. As wenner kon hy drie jaar in Rome studeer (hoewel hy ná twee jaar terug is Parys toe). Debussy was nie gaande oor Italië nie en ook nie oor die Italiaanse operas van Donizetti en Verdi nie. Franz Liszt het wel ‘n indruk op hom gemaak.
Later het hy die musiek van Richard Wagner van nader leer ken, veral sy opera Tristan und Isolde. Hoewel Wagner ‘n blywende invloed op Debussy gehad het, het hy in sy eie komposisies altyd van die grootsheid van Wagner weggeskram.
In 1889 het Debussy op die wêreld-ekspo in Parys met die gamelan, ‘n perkussie-instrument uit Java en Bali, kennis gemaak en dit het ‘n nuwe klankwêreld vir hom oopgesluit.
Dié invloede het tot ‘n groot mate tot Debussy se statuur as een van die toonaangewende komponiste van die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu bygedra. Sy musiek lê binne die idioom van die Franse Simbolisme en die Impressionisme – ‘n tipering waarin hy nie veel sin gehad het nie. Impressionisme word deur die Oxford Dictionary of Music as musiek beskryf wat fokus op die suggestie en atmosfeer wat “gemoed en emosies oordra eerder as ‘n noukeurige klankprent”.
Debussy het volgehou: “Ek probeer iets anders doen … anders as dit wat imbesiele ‘impressionisme’ noem, ‘n begrip wat so verkeerd moontlik gebruik word, veral deur kritici”.
Onder Debussy se vroeë komposisies tel Ariettes oubliées (1888) en Prélude à l’après-midi d’un faune (Voorspel tot die agtermiddag van ‘n bosgod) wat hy in 1892 voltooi het en die eerste keer in 1894 uitgevoer is.
Sy opera Pelléas et Mélisande is in 1895 voltooi en is met groot lof begroet toe dit in 1902 die eerste keer uitgevoer is. In die volgende tien jaar tot en met sy dood in 1912, was Debussy ʼn leierfiguur in Franse musiek. Hy het onder meer La mer (Die see) in 1905 en Ibéria (1908) geskryf, albei vir orkes, en Images (1905) en die suite Le coin des enfants (Kinderhoekie) (1908) vir solo-klavier. In 1905 is sy Suite bergamasque (geskoei op danse in die styl van dié in die Italiaanse stad Bergamo) gepubliseer. Die werk in vier dele se “Claire de lune” (Maanskyn) is sonder twyfel Debussy se bekendste werk. Dié derde deel ontleen sy titel aan Paul Verlaine se gelyknamige gedig.