Benjamin Appl is moontlik die ideale kandidaat om die vaandel van vernuwing in die vertolking van Lieder te dra
Deur JOHAN MYBURG
In ’n tyd waarin vernuwing, met die betekenis van toeganklikheid, die wagwoord is, ook wat Duitse Lieder betref, is die 36-jarige Duitse bariton Benjamin Appl een van die voorlopers. Hy het al by geleentheid opgemerk dat die tradisionele aanslag van musiekaanbiedings “styf” is, dat dit vermaakwaarde kort en dat mens daarna moet streef om dit interessanter te maak.
Moontlik is hy die ideale kandidaat om dié vaandel te dra. Die webwerf www. barihunks.blogspot.com het hom reeds in sy geledere van aantreklike baritonstemme opgeneem. Dit help immers om aantreklik te wees as jy toeganklikheid in gedagte het. Maar Appl het meer planne as net sy voorkoms. Deel van dié planne is om Lieder uit die konsertsaal te neem na plekke waar mense is. Hy het verwys na die getalle jongmense wat deesdae kunsmuseums eerder as konsertsale besoek. Toe hy vroeër vanjaar in Chennai, Indië, gesing het, was dit in ’n kunsinstituut waar ’n video vertoon is wat die besoedeling in die stad se rivier gewys het.
’n Visserman trek sy net in waarin rommel en plastiek vergaar het. Om dié beelde te sien en tegelyk na die beskrywing van ’n helder stroompie uit die Romantiek te luister, gee dit nuwe betekenis. Sy oogmerk is meervoudige impulse wat die boodskap des te sterker maak. Dat Appl aan die voorpunt van ’n nuwe geslag Lieder-sangers is, is al bevestig deur Gramophone, die gesaghebbende musiektydskrif, én die BBC, wat hom as ’n “New Generation Artist” en ’n “ECHO Rising Star” aangewys het. Gramophone het hom ook verlede jaar as ’n aanspraakmaker op die Gramophoneprys in die kategorie vir solokunstenaar benoem en wel vir sy jongste album, Heimat, met die pianis James Bailieu as begeleier.
LEES OOK: Klassieke klanke: Natalie Dessay
Dié CD vir Sony sluit liedere van Johannes Brahms, Benjamin Britten, Edvard Grieg, John Ireland, Francis Poulenc, Max Reger, Franz Schubert, Adolf en Richard Strauss, Ralph Vaughan Williams, Peter Warlock en Hugo Wolf in. Die Franse akademie vir CD-opnames het aan dié CD die Dietrich Fischer- Dieskau-prys toegeken en vroeër vanjaar het hy die Franse “Orphée d’or”-prys as die beste vertolker van Lieder in Parys gekry. Intussen het hy vir Hyperion 28 Brahms- Lieder opgeneem as deel van die pianis en begeleier Graham Johnson se Brahms- Lieder-projek.
Benewens klavierbegeleide Lieder voer hy veral Schubert-liedere saam met ’n orkes uit. Die verskil tussen die twee soorte begeleiding beskryf hy as verf met ’n groot kwas teenoor ’n klein kwassie soos vir waterverf. “Nuwe kleure in die musiek kom met ’n orkes tot stand,” sê hy. “Orkesbegeleiding bevestig dikwels die kleure wat ek in gedagte het, maar by ander geleenthede kom nuwes na vore. Dit vind ek inspirerend.” Tydens ’n konserttoer na Indië het Appl saam met die Indiese simfonieorkes ’n voordrag van Gustav Mahler se Lieder eines fahrenden Gesellen gegee.
Hy het sy sangloopbaan as koorlid van die bekende Regensburger Domspatzen begin en het aan die Hochschule für Musik und Theater in München studeer. Daarna het hy aan die Guildhall School of Music & Drama in Londen studeer. Hy het ook ’n graad in sakestudie voltooi. Appl was nie net die laaste private student van die Duitse liriese bariton Dietrich Fischer- Dieskau (1925–2012) nie, maar het ook heelwat van sy leermeester se vaardighede: sy besonder duidelike diksie en omgang met die teks, oorwoë frasering en toonkleur. As vernuwing só klink, is die toekoms blink.