In 1895 het Augusta Holmès die eerste vrou geword wie se opera in die Opéra in Parys aangebied is
Deur JOHAN MYBURG
Lui die naam Augusta Holmès ’n klokkie? Waarskynlik nie. Sy is die komponis van wie Gioachino Rossini gesê het: “Onthou wat ek vir julle sê: Van haar gaan ons nog baie hoor.” Sy is die vrou van wie Franz Liszt gesê het haar kantate van 1870, Astarté, stel haar manlike tydgenote in die skadu. Sy was ’n gerekende Franse komponis, pianis en sangeres met ’n besonderse stem, en haar vriende was die komponiste Camille Saint-Saëns (wat by meer as een geleentheid met haar wou trou), César Franck en Vincent d’Indy, die digter Stéphane Mallarmé, die beeldhouer Auguste Rodin en die skilder Pierre-Auguste Renoir (wat ’n skildery van haar drie dogters gemaak het).
Vandag weet ons skaars van Holmès. Daar bestaan maar enkele opnames van haar werke – een onder die titel Augusta Holmès: Orchestral Works, in 1994 deur die Rheinland-Pfalz-filharmonie opgeneem onder leiding van Samuel Friedmann en Patrick Davin. Holmès (1847–1903) is een van die vrouekomponiste wat die BBC se Radio3 (waarna ’n mens aanlyn kan luister), onlangs aan vergetelheid ontruk het toe dié stasie verkeie programme begin aanbied het waarin die musiek van onbekende en minder bekende vroue in die fokus kom.
In ’n tyd toe dit gebruiklik was dat vrouekomponiste kleiner salonwerke of liedere skryf, het Holmès haar nie daardeur laat beperk nie. Sy het met omvangryke werk vir groot orkesbesettings vorendag gekom. Teen 1875 is haar musiek deur die voorste Franse orkeste en dirigente uitgevoer en haar opera in vier bedrywe, La montagne noir, het sy première in 1895 in die Opéra in Parys gehad. Daarmee het sy die eerste vrou geword wie se opera in Parys sy première gehad het. Sy het opdrag gekry om musiek vir die herdenking van die Franse Revolusie te skryf en daarvoor het sy ’n orkes van 300 lede ingespan, met ’n koor van 900. Ná die uitvoering van dié Ode triomphale het Saint-Saëns gemeen “Frankryk het uiteindelik sy muse gevind”.
Haar Hymne à la paix het sy première in 1890 gehad en die gehoor van 4 000 het haar 18 keer met dawerende applous teruggeroep. Nietemin het die destydse pers – soos Anastasia Belina, ’n musikoloog aan die Royal College of Music, opgemerk het – in berigte eerder aandag aan haar voorkoms, sjarme en gissings oor haar liefdesverhoudings gegee. “Daar is meer oor haar haarkleur as oor haar musiek geskryf,” meen Belina. Holmès was van Ierse afkoms (waarop sy uitermate trots was en wat onder meer gestalte kry in die simfoniese toondig Irlande) en het in 1871 Franse burgerskap aanvaar.
Sy was in ’n verhouding met die digter Catulle Mendès (wat getroud was met die digter en skrywer Judith Gautier, wat op haar beurt ’n verhouding met Richard Wagner gehad het) en die twee het vyf kinders gehad. Hoewel sy aanvanklik onder die skuilnaam Hermann Zenta gekomponeer het (omdat vroue in haar tyd nie ernstig as kunstenaars geneem is nie en ontmoedig is om te publiseer), het sy van dié naam afstand gedoen en as Holmès roem verwerf, onder dié naam gepubliseer en finansieel onafhanklik gebly. Sy is nie toegelaat om aan die Paris Conservatoire te studeer nie en het privaat les geneem. In 1876 het sy ’n leerling van Franck (wat ook op haar verlief was) geword. Hoewel Franck sy Klavierkwintet formeel aan Saint-Saëns opgedra het, is daar min twyfel dat hy Holmès in gedagte gehad het toe hy dit geskryf het.