Arnold van Wyk het ‘een van die belangrikste bydraes van ons tyd tot die kunsliedereskat’ gelewer
Deur JOHAN MYBURG
In sy bespreking van Stephanus Muller se Nagmusiek in Vrouekeur het Willie Burger na dié boek as “tegelyk ‘n lewensverhaal en ‘n roman” verwys.
“Enersyds is dit ‘n biografie van die Suid-Afrikaanse komponis Arnold van Wyk (1916-1983). Andersyds is dit ‘n roman oor ‘n fiktiewe karakter, Werner Ansbach, ‘n musikoloog wat al jare lank worstel om ‘n biografie van Arnold van Wyk te skryf.”
Die lof van dié boek is wyd besing en dit is ook gepas met literêre pryse bekroon. Maar bowenal is die groot wins van Muller se boek die feit dat hy die lewe en werk van Arnold van Wyk weer ‘n bietjie voorop gestel het.
Anders as die werk van Suid-Afrikaanse meesters in die veld van die visuele kunste wat darem nog van tyd tot tyd op veilings in die oog kom, hoor ‘n mens min van dié van meesters op die gebied van musiek. Hul musiek word gans te min of jammerlik selde uitgevoer. Michelle Breedt het darem verlede jaar Van Wyk se Vier weemoedige liedjies tydens RSG se Kunstefees gesing.
Van Nagmusiek, die stuk wat so sentraal staan in Van Wyk se oeuvre en ook in Muller se boek, bestaan daar, sover dit my kennis strek, geen CD-opname nie. Dié werk vir klavier, net minder as 30 minute lank, het Van Wyk in die middel-1950’s geskryf ter gedagtenis aan sy vriend, die Australiese pianis Noel Mewton-Wood. Op sy beurt het Benjamin Britten, ‘n komponis vir wie Van Wyk groot waardering gehad het, veral vir sy komposisionele tegniek, sy Canticle III: Still Falls the Rain ter herinnering aan Mewton-Wood geskryf.
LEES OOK Klassieke klanke: Johannes Slabbert
Van Wyk is ná sy studie aan die Universiteit Stellenbosch Londen toe waar hy met behulp van ‘n beurs aan die Royal Academy of Music studeer het en daar ook heelwat pryse gewen het.
Hy het later by die BBC as omroeper begin werk en op dié manier die Britse musikoloog Howard Ferguson leer ken. Sy verbintenis met Ferguson het daartoe gelei dat sy werk dikwels uitgevoer is – onder meer sy Eerste Simfonie, Vyf elegieë vir strykkwartet en sy Saudade vir viool en orkes.
Ná sy terugkeer na Suid-Afrika in 1946 het hy by die SAUK gewerk en later as dosent aan die Universiteit van Kaapstad en tot en met sy aftrede in 1978 aan die Universiteit Stellenbosch.
Van Wyk het in verskeie genres gekomponeer: onder meer musiek vir ballet, orkeswerke, concerto’s, kamermusiek en klavierwerke. Dit was die laat-Romantiese tradisie en dié van die nieu-Romantiek wat tot hom gespreek het.
Nietemin is daar kenners wat sy werk vir stem as sy belangrikste bydrae uitsonder, spesifiek met verwysing na die siklus Van liefde en verlatenheid (1953) op verse van Eugène Marais. Na dié siklus het die Skotse musiekkritikus Malcolm Rayment as “een van die belangrikste bydraes van ons tyd tot die kunsliedereskat” verwys.
Van Wyk se liefde vir letterkunde en veral poësie het daartoe gelei dat hy verskeie liedere aan die hand van die poësie van digters soos NP Van Wyk Louw en WEG Louw geskryf het. Uit sy keuse van verse om te toonset, bly Van Wyk se voorkeur vir dié met ‘n melancholiese of nostalgiese ondertoon.
‘n Mens kan net hoop dat Muller se boek daartoe bydra dat Arnold van Wyk se musiek meer uitgevoer word én op CD opgeneem word.