Anita Rachvelishvili is in 1984 in Tbilisi gebore en het tydens die verbrokkeling van die Sowjet-unie grootgeword. Dit was ’n tyd van ontbering, onthou sy. ‘Daar was nie elektrisiteit nie, nie water nie, nie kos nie, niks’
Deur JOHAN MYBURG
In die eerste aflewering van dié rubriek vanjaar het ek na die Russiese sopraan Anna Netrebko verwys wat soveel lof ingeoes het met haar vertolking van Aïda in die Metropolitan Opera in New York se voorstelling van Verdi se gelyknamige opera, asook met die vertolking van die naamrol in Cilea se Adriana Lecouvreur.
Dit was The New York Times wat haar lof met dié opskrif in ’n resensie besing het: “Anna Netrebko Makes Aida her own at the Met Opera.” Terwyl Netrebko haar kleim as die Ethiopiese prinses in haar eerste Met-Aïda afgesteek het, het die Georgiese mezzosopraan Anita Rachvelishvili in die rol van Amneris, die farao se dogter, só uitgeblink dat die einste dagblad háár triomf verwoord het as: “A young singer takes the opera world by storm.” In die betrokke resensie word verwys na haar vermoë om nie haar stem te melk of te forseer nie en nogtans ’n ronde, warm klank voort te bring – dié van “’n ystervuis in ’n kasjmierhandskoen”.
Maar dit was nie die enigste pluimpie wat Rachvelishvili gekry het nie. Die Italiaanse dirigent Riccardo Muti, wat onder meer musiekdirekteur van die Chicago Simfonieorkes is, het dié 34-jarige sangeres “sonder enige twyfel die beste Verdi-mezzosopraan vandag op aarde” genoem. Anita Rachvelishvili is in 1984 in Tbilisi gebore en het tydens die verbrokkeling van die Sowjet-unie grootgeword. Dit was ’n tyd van ontbering, onthou sy. “Daar was nie elektrisiteit nie, nie water nie, nie kos nie, niks,” het sy in ’n onderhoud met The New York Times gesê.
Maar uit dié tyd het sy ook aangename herinneringe oorgehou. Sonder verhitting het die bure op wintersaande in ’n enkele vertrek byeengekom om te sing en kaart te speel. “My pa het kitaar gespeel en my ma klavier. Musiek het 99 persent van dié byeenkomste uitgemaak.” As kind het sy klavieronderrig gekry. Haar musieksmaak is beïnvloed deur die musiek waaraan sy blootgestel is: die Led Zeppelins, Pink Floyds en Whitesnakes van die wêreld. Die musiek wat sy gesing het, was dié van Whitney Houston en Mariah Carey. Vir haar oudisie vir toelating tot die staatskonservatorium in Tbilisi waar sy wou gaan studeer het, het sy ’n Houstonliedjie gesing. In daardie stadium het sy nog nie ’n opera op die verhoog gesien nie.
Sy het toelating gekry en moes operategniek onder die knie kry. Sy is later in die akademie vir jong sangers aan die Teatro alla Scala in Milaan opgeneem waar sy in 2008 die klein rol van Mercédès in Carmen gekry het. Daniel Barenboim was die dirigent vir dié aanbieding van Carmen en was beïndruk met haar stemkwaliteit. Die volgende jaar het sy die titelrol in dié opera tenoor Jonas Kaufmann as Don José gesing.
Sy was nie net die jongste sanger nog wat ’n seisoen in La Scala geopen het nie, maar dié optrede, wat wêreldwyd gebeeldsend is, het internasionale aandag op dié jong Carmen gevestig. Oor Rachvelishvili se Carmen het Barenboim gesê: “Sy het dit gesing asof sy dit sedert haar geboorte al doen. Met die grootste natuurlikheid. Sy het die forsheid van die Carmen-karakter beliggaam sonder om ooit vulgêr te klink.” Alex Ross, die Amerikaanse musiekkritikus, het hom oor Rachvelishvili se vermoëns só uitgelaat: “Operahuise moet haar toelaat om te doen wat sy wil. Dit is kunstenaars van dié kaliber wat die rede is dat opera bestaan.”