‘Ek hoop om altyd aan ander te gee wat ek ontvang het. Musiek kan mens laat droom’
Deur JOHAN MYBURG
Teen etenstyd op 25 Januarie, die dag waarop kaartjieverkope vir Andrea Bocelli se twee Suid-Afrikaanse konserte in April geopen het, was kaartjies vir die konsert in die Paarl uitverkoop. Die goedkoopste kaartjies was R1 140 en die duurste R4 795.Vir die Bocelli-konsert in Johannesburg se Dome met sitplek vir ’n gehoor van 20 000 was daar toe nog kaartjies beskikbaar. Die twee konserte is op 18 April in die Dome in Northriding en op 22 April op die Val de Vie-landgoed in die Paarl.
As jy vinnig genoeg was om kaartjies te kry, kan jy jou regmaak vir die charisma van dié Italiaanse tenoor met die begeleiding van ’n groot simfonieorkes, een met 140 lede, en ’n koor. In Johannesburg is die Johannesburg se Feesorkes en koor saam met Bocelli op die verhoog, en in die Kaap die Kaapstadse Filharmonie en koor. In die eerste deel van die uitvoering dra Bocelli arias uit beroemde operas voor en in die tweede helfte is dit die ligter liedere wat aan die beurt kom. Sy seun Matteo is ook saam met hom op die verhoog in die vertolking van die duet Fall in Me. Het Bocelli bekendstelling nodig? Dalk nie. Nie sedert Luciano Pavarotti in 1992 ’n demonstrasie-opname van Bocelli se Miserere gehoor het en gaande daaroor was nie.
Dit was as ’t ware die begin van sy loopbaan. In 1994 het hy vir ’n sangkompetisie van die Sanremo-fees ingeskryf en dit met Il mare calmo della sera gewen en dieselfde jaar sy eerste CD met dié titel uitgebring. Op die Italiaanse Top 10 het hy binne weke platinumstatus verwerf. Sy groot roem het gekom deur duette – die een met Sarah Brightman (Time to say Goodbye) en die ander met Celine Dion (The Prayer), albei tranetrekkers. Dié treffers is al “euroschmaltz” genoem, met die blink liggies van Las Vegas getooi. Bocelli het van kleins af gesing en moontlik was dit ’n plaat van Franco Corelli, “die prins van tenore”, wat hom besiel het om ’n loopbaan uit sang te maak. Maar dit was nadat hy regte aan die Universiteit van Pisa gaan studeer het.
Om sy sakgeld aan te vul, het hy saans in kroeë gesing en ná een jaar as prokureur besluit om sy droom na te jaag. Bocelli het later ook opera aangedurf, maar dit is dalk nie waar sy trefkrag lê nie. Wat hy aan tegniese eienskappe vir opera ontbreek, vergoed hy met sy eiesoortige stem. Dit was die einste Corelli wat ná ’n meestersklas, waar hy Bocelli hoor sing het, oor Bocelli se stem opgemerk het: “Ek dink sommige stemme het ingeboude trane.” In ’n onderhoud het Bocelli onthul waarom hy so baie van Corelli hou: “Omdat hy my hart aangeraak het. Ek hoop om altyd aan ander te gee wat ek ontvang het. Musiek kan mens laat droom. En as jy droom, droom jy van iets goeds, van iets moois. Wanneer jy droom, droom jy jouself altyd beter as wat jy is.” Sy blywendste vertolkings is dié van onopgesmukte liedjies, dikwels met ’n jazzerige ondertoon, soos Perfidia en Quizas Quizas Quizas (saam met Jennifer Lopez), wat in sy album Passione ingesluit is. Sonder fieterjasies en met luistergenot is sy jongste CD, Si, sy eerste met nuwe materiaal in 14 jaar.