Alissa Margulis word vir haar ekspressiewe en gelade spel geprys. Die Argentynse pianis Martha Argerich het na haar as ’n sterk musikale persoonlikheid verwys
Deur JOHAN MYBURG
Vir die Duitse violis Alissa Margulis en haar Russiese tjellis-man, Alexander Buzlov, is Suid-Afrika lank nie meer ’n vreemde bestemming nie. Buzlov was vroeër vanjaar hier op besoek en Margulis is binnekort in Kaapstad vir ’n konsert en daarna in Johannesburg vir ’n uitvoering vir die Johannesburgse Musiekvereniging (JMV). Dié twee het einde verlede jaar ouers geword en as hulle saam op reis is, is die klein Amalia in die sorg van Alissa se ma in Keulen of Alexander se ma in Moskou, waar hy aan die konservatorium klas gee.
Margulis is in Freiburg, Duitsland, gebore en het op vier met viool- en klavierles begin. Sy het op sewe haar eerste openbare optrede saam met die Budapest Soloists gehad. Op tien het sy haar eerste beduidende prys op die Spohrjeugkompetisie verower en dieselfde jaar ook op Jugend Musiziert, die Duitse nasionale jeugkompetisie. Sy was 13 toe die Russiese violis en pedagoog Zakhar Bron haar genooi het om in Lübeck en Keulen te gaan studeer. Onder die legendariese Bron se studente tel violiste soos Maxim Vengerov, Daniel Hope en David Garrett.
In 2005 het Margulis by die Franse violis Augustin Dumay aan Brussel se Chapelle Musicale Reine Elisabeth begin les neem. Daarna het meesterklasse onder leiding van vermaarde meesters van die viool gevolg: Salvatore Accardo, Pierre Amoyal, Yuri Bashmet, Ana Chumachenco, Ida Haendel, Hermann Krebbers, Shlomo Mintz, Igor Oistrakh, Menahem Pressler en Vladimir Spivakov. Margulis is tans ’n student van Pavel Vernikov en Julian Rachlin. Sy word geprys vir haar ekspressiewe en gelade spel. Haar spel is al uitsonderlik genoem en die Argentynse pianis Martha Argerich het na haar as ’n sterk musikale persoonlikheid verwys.
LEES OOK: Klassieke klanke: Diana Damrau
Saam met haar loopbaan as solis is Margulis ook ’n ywerige ensemble-speler en sy span dikwels saam met musici soos Argerich, David Geringas, Ivry Gitlis, Gidon Kremer en Mischa Maisky vir uitvoerings van kamermusiek. Op CD is Margulis in die EMI-opnames Martha Argerich ingesluit: Life from Lugano met musiek van Brahms, Messiaen en Schnittke. Ook vir EMI het sy saam met Argerich, Renaud Capuçon, Lida Chen en Maisky die Sjostakowitsj-Kwintet in g, op. 57 opgeneem. Margulis se optrede saam met die Kaapstadse Filharmonie onder leiding van Bernhard Gueller is deel van dié orkes se Winter-simfonieseisoen.
Sy is op 23 Augustus op die verhoog van die Kaapstadse Stadsaal in ’n uitvoering van Max Bruch se Skotse Fantasie vir viool en orkes in E-mol, op. 46. Bruch het dié fantasie in 1880 geskryf en dit aan die viool-virtuoos Pablo de Sarasate opgedra. Dit is geskoei op tradisionele Skotse volksmelodieë en is een van Bruch se bekendste en gewildste werke. Die ander werke op die program is Franz Liszt se Les preludes en Ludwig van Beethoven se Simfonie no. 4 in B-mol, op. 60.
Vir die JMV-uitvoering op 1 September word Margulis deur die Stellenbosse pianis Luis Magalhães begelei. Die program bestaan uit welgekose laat-19de- en vroeg 20ste-eeuse stukke en sluit Antonin Dvorák se Vier Romantiese stukke, in. 75; Richard Strauss se Sonate vir viool en klavier; Dmitri Sjostakowitsj se Tien preludes (getranskribeer vir viool en klavier) en Sergei Prokofiëf se Sonate no. 2 vir viool en klavier, op. 94. Dié uitvoering is in die Linderouditorium in Parktown. Kaartjies vir die Kaapstadse sowel as die Johannesburgse konserte is by Computicket beskikbaar