‘Ek het jare gelede gedink dit sal wonderlik wees as ek tot op 50 opera kan sing. En hier is ek 50 plus 27’
Deur JOHAN MYBURG
So maand of wat gelede is die rolprentweergawe van Giuseppe Verdi se Luisa Miller in Cinema Nouveau-teaters hier te lande vertoon as deel van die Live in HD-reeks van die New Yorkse Metropolitan Opera. In dié opera kon gehore die 77-jarige Spaanse tenoor Plácido Domingo op die verhoog sien in die baritonrol van die heldin se pa. Dié baritonrol is Domingo se 149ste rol en iets soos sy 700ste optrede vir die Met.
Die eerste keer dat hy in dié opera vir die Met gesing het, was in 1971 toe hy die tenoorrol van Rodolfo vertolk het. In ’n onlangse onderhoud het hy oor dié lang verhoogloopbaan gesê: “Ek het jare gelede gedink dit sal wonderlik wees as ek tot op 50 opera kan sing. En hier is ek 50 plus 27.” Dié lang loopbaan skryf hy toe aan voorspoed, gesondheid, versigtige keuses in rolle dwarsdeur sy loopbaan en goeie musiekopleiding. Uit dié wenkombinasie haal hy duidelik die meeste. As Domingo as “die belangrikste man in opera vandag” beskryf word, strek dit verder as sy vaardigheid en talent wat nie net van hom ’n wonderlike sanger maak nie, maar ook ’n uitstekende akteur.
BBC Music Magazine het hom as The greatest singer of all time aangewys. Op 77 is hy nie net óp die verhoog nie, maar ook dikwels as dirigent voor die verhoog in die orkesbak. Daarby staan hy sedert 2001 aan die hoof van die Los Angeles Opera waar hy nou algemene regisseur is, en die afgelope 25 jaar is hy aan die stuur van Operalia, ’n internasionale sangkompetisie waardeur hy nuwe talent ontgin. Van die vernaamste operasterre van die laaste paar jaar het in die Operaliakompetisie uitgeblink: sangers soos Joseph Calleja, Joyce DiDonato, Erwin Schrott, Giuseppe Filianoti en José Cura.
LEES OOK: Klassieke klanke: Kevin Volans
Sy debuut het hy in 1961 in die rol van Alfredo in Verdi se La traviata gemaak en sy Met-debuut was in 1968 in Francesco Cilea se Adriana Lecouvreur teenoor Renata Tebaldi. As aanduiding van sy statuur in die operawêreld: Hy het nie minder nie as 21 keer die Met-seisoen geopen, selfs meer as die befaamde Enrico Caruso. Sy operaroem het hy in 1981 uitgebrei en miljoene aanhangers bygekry toe hy Perhaps Love in ’n duet saam met die Amerikaanse country/folk-sanger John Denver gesing het. Daarna het sportstadions hul hekke vir oopgegooi Domingo wat saam met Luciano Pavarotti en José Carreras skares gelok het as die Three Tenors, en miljoene CD’s verkoop het.
Hoewel hy rolle in operas in Frans, Duits, Engels, Spaans en Russies vertolk, lê die grootste deel van sy repertorium in Italiaanse opera – in rolle soos Otello, Cavaradossi in Tosca, Don Carlo, Des Grieux in Manon Lescaut, Dick Johnson in La fanciulla del West en Radames in Aïda. Heelwat operas het rolle wat spesifiek met hom in gedagte geskryf is – José Vásquez se El último sueño, Moreno Torroba se El poeta, Gian Carlo Menotti se Goya, García Abril se Divinas palabras, José María Cano se Luna, Deborah Drattell se Nicholas and Alexandra, Tan Dun se The First Emperor en Daniel Catán se Il Postino. Eersdaags maak hy sy debuut as dirigent op die Bayreuth-fees waar hy op die podium is vir Richard Wagner se Die Walküre. Oor sy vol program sê hy dit sorg dat hy nie verveeld is nie. “As ek rus, roes ek,” het hy by geleentheid gesê.