In haar loopbaan van 58 jaar het Berganza op die wêreld se beroemdsteverhoë gesing en tot onlangs het sy nog gereeld meesterklasse aangebied
Deur JOHAN MYBURG
Teen dié tyd weet almal dat lesers van die gesaghebbende Operatydskrif Pretty Yende vanjaar as hul gunsteling-operaster aangewys het. Dié prys was deel van die internasionale operapryse wat in April in Londen se Coliseum oorhandig is. Op 33 het Yende nie net gehore in die wêreld se voorste teaters bekoor nie, maar ook medebenoemdes soos Cecilia Bartoli, Joyce DiDonato en Karita Mattila uitgestof. Dit gaan vandag egter nie oor Yende en haar prestasie nie, maar oor dié van die Spaanse mezzosopraan Teresa Berganza (84) wat deur Opera vir haar lewenslange bydrae tot dié kunsvorm vereer is.
Van al Berganza se bydraes is haar interpretasie van Carmen in Bizet se gelyknamige opera dalk die gedenkwaardigste. Sedert haar debuut in dié rol op die Edinburg-fees in 1977 het sy haar eie inkleding van dié rol en karakter, ten opsigte van stemtegniek en interpretasie ontwikkel, en op dié manier Carmen binne ’n bepaalde Spaanse konteks opgeëis. Daar is mense wat meen Berganza het met ’n feministiese siening van dié karakter vorendag gekom. Waarin sy wel geslaag het, is om die edeler kant van Carmen na vore te bring. In 1984 het sy in ’n uitgebreide onderhoud oor Carmen gepraat. “Die probleem is dat gehore na Carmen kyk sonder om te verstaan wie die karakter in die naamrol is. So dikwels word sy as prostituut gesien, wat nie waar is nie. Sy is ’n sigeunerin. En dit begryp mense nie. “As sy ’n prostituut was, sou sy nie in ’n sigaretfabriek gewerk het nie, sy sou vir haar ’n ryk minnaar gekry het. Sy is dit nie. Sy is ’n vrygees, ’n spesiale vrou … ’n bevryde vrou.”
LEES OOK: Klassieke klanke: Diana Damrau
In haar loopbaan van 58 jaar het Berganza op die wêreld se beroemdste verhoë gesing en tot onlangs het sy nog gereeld meesterklasse aangebied. Tydens die geleentheid in die Coliseum is ’n video-opname gespeel van ’n jong Berganza se vertolking van Voi che sapete, Cherubino se aria uit Mozart se Le nozze di Figaro – ’n meesterlike vertolking met ’n fokus op eenvoud, subtiliteit, eerlikheid en pure skoonheid, eerder as op vokale aandagtrekkery. Dalk is dit juis dié kwaliteite wat Berganza se loopbaan gekenmerk het. Sy het haar debuut in 1957 op die Aixen- Provence-fees as Dorabella in Mozart se Così fan tutte gemaak.
In 1958 het sy haar debuut as Cherubino by Glyndebourne gemaak. Dit was ook die jaar waarin sy saam met Maria Callas en Jon Vickers in Cherubini se Médée in die Dallas Opera te sien was. Sy word vir haar vertolking van rolle in die operas van Rossini, Mozart en Bizet onthou. En dan ook as voorste eksponent van zarzuela, die Spaanse (komiese) opera wat van die Barok dateer. In genoemde onderhoud met Bruce Duffie het Berganza ook oor die gebrek aan operakennis by gehore en veral by kinders uitgebrei. “Die probleem is dat kinders nie toegang tot klassieke musiek het nie. Hulle kry dit nie op TV en in die populêre media nie. Mense verduidelik vir hul kinders die reëls van sokker, maar hulle doen dit nie met opera nie. Dit is ’n jammerte.” In haar aanvaarding van die Opera-toekenning het sy by die oorhandiging gesê: “Dit is met genoegdoening dat ek hierdie toekenning namens ’n hele generasie aanvaar, in die hoop dat ons ons opdrag volvoer het en nou die kollig verlaat.”