Vir die eerste keer in die bykans vier dekades wat die prys bestaan, word dit nie vanjaar aan ’n kunstenaar binne die genre van klassieke musiek toegeken nie
Deur JOHAN MYBURG
Jaarliks wys Standard Bank ’n aantal jong kunstenaars aan – Suid- Afrikaners jonger as 35 wat in ’n kort loopbaan reeds baie vermag het en van wie nog meer in die toekoms verwag word. Een van dié groep word gewoonlik in die kategorie musiek uitgesonder. Vanjaar is Guy Buttery (34), kitaarspeler van formaat, as die Standard Bank Jong Kunstenaar vir musiek aangewys – die eerste keer in die bykans vier dekades wat die prys bestaan dat dit nie aan ’n kunstenaar binne die genre van klassieke musiek toegeken word nie.
Moontlik is die oogmerk om grense te skuif, om muwwe beperkings opnuut te ondersoek en om tot voordeel van die kunste kruisbestuiwend te werk te gaan. Sou dit die geval wees, is Buttery die ideale kandidaat om dié baanbrekerswerk te verrig. Sedert 2011 werk Buttery aan ’n projek waarin musiek vir solokitaar met ’n eiesoortige Afrika-klank en hedendaagse komposisionele tegnieke en verwerkings in samehang met eietydse klassieke musiek aangebied word. In die Odeion-strykkwartet, die Bloemfonteinse ensemble wat die afgelope paar jaar wyd lof inoes, het Buttery sy ideale vennote gevind en in 2016 het die vyf van hulle gehore op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad gaande gehad.
Met ’n magdom lae van klank en kleur verruim dié same- en wisselwerking tussen kitaarspeler en kwartet die moontlikhede van die bestaande formaat en instrumentasie. Die resultaat was ’n ryk en eg Suid-Afrikaanse musiekwêreld binne ’n Westerse idioom. Die lede van die kwartet – Samson Diamond (viool), Sharon de Kock (viool), Jeanne Louise Moolman (altviool) en Anmari van der Westhuizen (tjello) – sowel as Buttery op die kitaar en die mbira (’n klein duimklaviertjie), figureer as onafhanklike stemme wat eiesoortige strykteksture, polifoniese melodielyne en poliritmes voortbring.
LEES OOK: Klassieke klanke: Jean Sibelius
Buttery is net noord van Durban gebore, het jazz aan die Durbanse Universiteit van Tegnologie en later vir ’n kort ruk klassieke kitaar onder leiding van Leandros Stavrou studeer. Dit was ook Stavrou as kitaaronderwyser wat hom op 13 met klassieke harmonie vertroud gemaak het. Dit was as gevolg van Nibs van der Spuy, ’n vriend en leermeester, dat Buttery met die akoestiese meester Michael Hedges kennis gemaak het, wat ’n groot invloed op Buttery se spel gehad het. Op 18 was Buttery die jongste benoemde nóg toe sy debuutalbum die benoemingslys vir ’n Sama (South African Music Awards) gehaal het in die kategorie beste nuweling en beste instrumentale album.
Dié album, When I Grow Up …, is in 2002 uitgereik en het oorspronklike akoestiese komposisies ingesluit. In 2005 het die tweede album, Songs from the Cane Fields, gevolg en daarna Fox Hill Lane (2009), To Disappear in Place (2011), In the Shade of the Wild Fig, saam met Nibs van der Spuy (2012), Live in KwaZulu (2013) en Guy Buttery (2016). In 2010 het hy die Sama vir die beste instrumentale album gekry vir Fox Hill Lane en in 2014 het hy die Sama vir die beste klassieke en/ of instrumentale album met Live in KwaZulu verower. Buttery en Van der Spuy het die voorreg gehad om van hul treffers, verwerk vir orkes, saam met die KwaZulu-Natalse Filharmoniese orkes uit te voer. As deel van sy prys as Standard Bank Jong Kunstenaar kry Buttery die geleentheid om ’n opdragprogram op vanjaar se Nasionale Kunstefees op Grahamstad aan te bied. Dié fees word van 28 Junie tot 8 Julie aangebied.