Cecilia Bartoli is iemand wat as ’t ware teen die gety bly inswem en deurgaans haar kop (en hart) volg
Deur JOHAN MYBURG
As koloratuur-mezzo-sopraan met ’n uitsonderlike timbre is Cecilia Bartoli die afgelope hoeveel jaar al een van die topverkopers in die kunsmusiekgenre, met meer as tien miljoen oudio- en videoopnames wat wêreldwyd uitgereik is.
Boonop het sy dié prestasie sonder foefies behaal en sonder die navolging van ’n cross over-neiging soos voorgestaan deur sangeresse soos Charlotte Church en Katherine Jenkins – wat enigiets denkbaar (en ondenkbaar) sal sing solank dit by die breë publiek byval vind … en verkoop. In teenstelling met dié neiging hou Bartoli vol met haar repertorium wat sy sedert die begin van haar loopbaan teen die laat 1980’s stelselmatig uitgebou het.
In die beginjare het sy Rossini en Mozart gesing. In die laat 1990’s het sy operas van Vivaldi – wat selde gehoor word – aangepak en meer as ’n halfmiljoen CD’s van Vivaldi-arias verkoop. Met dié album het sy boonop ’n wêreld vir mense oopgesluit wat nie veel meer van Vivaldi geken het as sy Vier seisoene nie. Onder haar CDsuksesse tel The Vivaldi Album, Italian Arias (met musiek van Gluck), The Salieri Album, Opera proibita, Maria (’n huldeblyk aan Maria Malibran, een van die voorste sangeresse van die vroeë 19de eeu), Sacrificium, Mission en St Petersburg. Byna al dié albums sluit musiek in wat selde gehoor word, sommige daarvan lank vergete, en wat nou topverkopers is.
LEES OOK: Klassieke klanke: Diana Damrau
Dié prestasies moet ’n mens lees teen die agtergrond van ’n geknakte CD-bedryf – een wat sedert die begin van die 21ste eeu nié kanse met “riskante” projekte vat nie. Nietemin het Bartoli as ’t ware teen die gety bly inswem en deurgaans haar kop (en hart) gevolg. Die 51-jarige Bartoli het haar debuut in 1991 in Milaan se La Scala as Isolier in Rossini se Le comte Ory gemaak, ’n vertolking waarmee sy haar reputasie as een van die wêreld se voorste Rossinivertolkers ’n netjiese onderbou gegee het. In 1996 het sy die gehoor in die Metropolitan Opera in New York met haar vertolking van Despina in Così fan tutte (Mozart) aan haar voete gehad.
Die volgende jaar was sy terug in die hoofrol in La cenerentola (Rossini) en in 1998 as Susanna in Le nozze di Figaro (Mozart). Hoewel die wêreld se verhoë haar met oop arms sou verwelkom, het sy haar in Zürich in Switserland gaan vestig. In ’n onderhoud ’n paar jaar gelede het sy gesê: “Ek het Zürich Opera gekies omdat ek daar relatief obskure projekte kan aanpak wat ek nie elders sal kan doen nie.” Twintig jaar nadat sy die rol van Isolier in die Met vertolk het, het sy in 2011 in Zürich die rol van die gravin in Le comte Ory vertolk. Die rol vir Isolier is dié van ’n mezzo, dié vir die gravin Adèle is vir ’n sopraan.
Bewus van die beperkings in groot rolle vir mezzo’s het Bartoli haar op twee groot rolle in bel canto-operas toegelê: dié van Norma en dié van Amina in La sonnambula. Dis twee rolle wat Bellini vir ’n mezzo geskryf het en deur mezzo’s gesing is – voordat Maria Callas en Joan Sutherland in die 20ste eeu dit sopraanrolle gemaak het. Met vyf Grammys op haar kaggelrak en benoem vir die 2018-Opera-prys, aangewys deur lesers van dié gesaghebbende tydskrif, het Bartoli besonder baie vermag. ’n Voorbeeld van iemand wat beperkings nie as die einde van die wêreld sien nie, maar as aansporing tot nog groter ideale. Opera se 2018-lesersprys is aan die Suid-Afrikaanse sopraan Pretty Yende toegeken