Hy het aan die hand van opnames van klavierspel op YouTube en bladmusiek wat hy van die internet afgelaai het, geleer speel
Deur JOHAN MYBURG
Die afgelope paar jaar bied Allianz, die internasionale finansiële diensverskaffer, ’n week lange musiekkamp vir tien jong pianiste van oral in die wêreld aan wat die droom koester om eendag ’n konsertpianis te word. Die deelnemers aan dié kamp is tussen nege en 14 jaar oud.
Die vierde kamp in sy soort is in November 2016 in Warschau in Pole aangebied en ’n jong Suid-Afrikaner, Qden Blaauw (toe 12), was een van die tien wat dié kamp bygewoon het en op die koop toe ’n meesterklas van die Chinese pianis Lang Lang gekry het. Uit 500 aansoeke vir dié kamp was Qden s’n een van die tien suksesvolles – die ander was van Italië, Brittanje, Ierland, Duitsland, Turkye, Suid-Korea, Pole, Spanje, China en die VSA.
Qden (13) kom van Parow, is ’n leerder aan Laerskool Welgemoed en neem klavierles by die Hugo Lambrechtsmusieksentrum in Parow. Hoewel hy ook viool speel, is dit met klavierspel waarmee hy die een prys ná die ander losslaan. In die 2016 Samro Hubert van der Spuy- nasionale musiekkompetisie het hy die volgende pryse gewen: die Tygerbergprys, die prys vir die beste uitvoering van ’n werk deur ’n Suid-Afrikaanse komponis, die kategorieprys vir klavier, gedeel met Leo Gevisser, asook die Leon Hartshorne-prys, die Johanna van der Spuy-gedenkprys en ’n goue medalje.
LEES OOK: klassieke klanke: Arnold van Wyk
Op die Stellenbosch-eisteddfod het hy sewe trofees verower en op die Kaapstadse eisteddfod twee. Oor die ervaring wat klavierspeel hom bied, het Qden só geantwoord: “Dit is soos ’n towertonnel waardeur ek gaan en deel van ’n wêreld met wonderlike karakters en temas word.” Dit is veral Mozart wat dié towertonnel vir hom ontsluit, sê hy. Hy het aan die hand van opnames van klavierspel op YouTube en bladmusiek wat hy van die internet afgelaai het, leer speel. Só het hy byvoorbeeld Beethoven se Für Elise baasgeraak.
Verlede maand was Qden op uitnodiging vir meesterklasse in Saarlouis in Duitsland. Dié klasse is deur Rudolf Meister en Wolfram Schmidt-Leonardy, twee van Duitsland se uithalerpianiste, aangebied. Meister is op 26 as professor aan die Mannheim-universiteit aangestel en staan deesdae aan die hoof van die Hochschule Mannheim. Sy leermeerster, Paul Badura-Skoda, het hom een van die toonaangewende pianiste van sy geslag genoem. Schmidt-Leonardy is professor in klavier aan die Hochschule München en die Alfred Cortot-musiekskool in Parys. In dié hoedanigheid het sy studente die afgelope ruk meer as 20 van die gesogste musiekpryse ter wêreld verower. Shane Goodall, die onderwyser wat tans vir Qden les gee, meen hy het al die eienskappe om tot ’n suksesvolle konsertpianis te ontwikkel. En dan voeg hy by dat ’n mens nie Qden se komponeervermoë moet onderskat nie.
Komposisies bring hy moeiteloos en sonder hulp van enigiemand voort. “Dit is wat ek wil doen,” sê Qden onomwonde. “Ek wil as pianis oral in die wêreld optree en mense ook aan my eie musiek bekendstel.” Op 13 het hy dalk ’n lang pad voor hom voordat dié droom heeltemal bewaarheid word, maar intussen is Qden besig om lesse van die meesters te leer, en om alles met betrekking tot interpretasie en tegniek soos ’n spons op te suig. Van Lang Lang het hy byvoorbeeld geleer hoe om beter te projekteer. Met soveel talent, toewyding, briljante leermeesters en geld beskikbaar vir onderrig het ’n mens hoop vir die toekoms van klaviermusiek as kunsvorm.