40 vingers speel klaviermusiek wat in elke musiekliefhebber se smaak sal val: met nuwe verwerkings van die wêreld se gewildste klassieke, pop-, jazz- en rockmusiek
Deur JOHAN MYBURG
Foto Chad Batka
Johann Sebastian Bach het verskeie transkripsies van Antonio Vivaldi se konserte gemaak, sommige daarvan vir solo-klavesimbel en solo-orrel. Vir die Konsert vir vier viole in b het hy egter om en by 1733 op ’n verwerking vir orkes en vier klavesimbels besluit – ’n werk wat deesdae op vier klaviere uitgevoer word.
Klaviermusiek vir agt hande is dus nie iets nuuts nie en in die klavierliteratuur is daar verskeie verwerkings vir agt hande op twee klaviere. Dit bly nietemin aanskoulik om vier vleuels saam op ’n verhoog te sien. Boonop het die klank wat vier klaviere voortbring iets van die volheid van ’n orkes. Die afgelope paar jaar het vier Suid- Afrikaanse pianiste dié tradisie laat herleef en op verskeie plekke in die land opgetree – van bo-op Tafelberg tot op Aardklop op Potchefstroom. Bekend as 40 Vingers (of ook 40 Fingers) speel Charl du Plessis, Pieter Grobler, Elna van der Merwe en Albie van Schalkwyk saam klaviermusiek wat in elke musiekliefhebber se smaak sal val: met nuwe verwerkings van die wêreld se gewildste klassieke, pop-, jazz- en rockmusiek.
Op 29 Maart verlede jaar, op Wêreldklavierdag, het Du Plessis in samewerking met Ian Burgess-Simpson Pianos, ’n viering van klaviermusiek op Tafelberg, gereël met ’n lys pianiste wat opgetree het. Die 40 vingers van Du Plessis, Grobler, Van der Merwe en Van Schalkwyk het by dié geleentheid die ganse klawerbord in ’n elmbooggeveg gevul. Bykans ’n halfmiljoen mense het dié uitvoering op Facebook gevolg en daarna het nog optredes gevolg. Op Dinsdag 21 Augustus is dit Bloemfontein se beurt om dié vier pianiste in die Odeion van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein te beleef.
LEES OOK: Klassieke klanke: Johannesburg Filharmoniese Orkes
Charl du Plessis is bekend as pianis met ’n wye repertorium – van Bach tot Billy Joel – wat tegelyk as konsertpianis sowel as lid van die Charl du Plessis Jazz Trio optree. In die Johannesburg Philharmonic se Winterseisoen was hy die solis in ’n uitvoering van George Gershwin se Klavierkonsert in F. Hy het sewe albums opgeneem en die pryse wat hy losgeslaan het, sluit in ’n Ghoema, ’n Sama en ’n Fiësta. Oor die verwerkings vir 40 Vingers sê hy onder meer hy kom met nuwe verwerkings vorendag sodat gehore nie dink dieselfde beperkte repertorium word oor en oor by sulke konserte gespeel nie.
Pieter Grobler is hoof van die konservatorium aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het sy nagraadse studie aan die Universiteit van Noord-Texas onder leiding van Joseph Banowetz voltooi. Hy tree dikwels op, alleen en saam met ensembles, hier en in die buiteland. Elna van der Merwe was tot in 2001 as dosent en heeltydse begeleier by die konservatorium van die US betrokke. Deesdae is sy een van die land se gesogste begeleiers – onder meer van buitelandse kunstenaars wat hier optree, soos die mezzosopraan Michelle Breedt, die saxofoonspeler Douglas Masek, die tjellis Maria Kliegel en die fluitspeler Susan Milan. As aanduiding van die groot bydrae wat Albie van Schalkwyk tot ensemblespel en klavieronderrig in Suid-Afrika gelewer het, het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2009 die Huberte Rupert-prys aan hom toegeken. Hy was onder meer die amptelike begeleier van die SAUK en professor in klavier aan die Universiteit van Kaapstad.